Dien God Waar Jy Gevestig Is

Carter Conlon

“Toe Hy opgevaar het in die hoogte, het Hy die gevangenes gevange geneem en gawes aan die mense gegee” (Efésiërs 4:8).

Jesus het die gevangenes gevange geneem, wat beteken dat die vorige beperkings op jou lewe – die stemme wat vir jou gesê het dat jy nie slim genoeg of talentvol genoeg is nie, die negatiewe woord wat oor jou gespreek is – alles weg is. Jy is nou ‘n nuwe skepsel in Christus en jy het ‘n unieke roeping.

Hierdie unieke roeping op elkeen van ons se lewens sal ons onvermydelik lei na plekke waar ons nie die natuurlike krag het om te gaan nie, sodat Christus verheerlik kan word deur dit alles. Dit is waarom Hy “gawes aan die mense gegee het.” Met ander woorde, ons word elkeen presies gegee wat ons nodig het om sy doel in ons lewens te vervul.

As ‘n jong herder in Kanada, was ek vasbeslote om die hele wêreld vir Christus te wen! Ek het met passie begin om te doen wat ek gevoel het nodig was om te doen, en het gevas, gebid en wyd en syd gereis om te bedien. Deur dit te doen, het ek my fisieke krag heeltemal uitgeput teen die tyd wat ek sewe-en-dertig jaar oud was. God het liefdevol, maar stellig vir my gewys dat wanneer ek eendag voor Hom staan, sal daar geen belonings wees vir dinge wat Hy nie vir my gevra het om te doen nie. Hy wou hê ek moes verantwoordelikheid neem vir die klein gemeente wat aan my toevertrou was – al eenhonderd-agt-en-vyftig van hulle. Hy het dit vir my duidelik gemaak dat hulle wandel met God my grootste verantwoordelikheid was. Daardie dag het ek gesê, “Here, vir die res van my lewe sal ek U dien waar U my vestig en nie verder kyk as wat U vir my gegee het om te doen nie.” ‘n Groot blydskap het in my hart opgekom en my fisieke krag het begin terugkeer.

Onthou, God het jou strategies geplaas presies waar jy is. Jy hoef nie belangrik in die oë van mense te wees nie. Dien net die Here goed en vertrou Hom daagliks vir die genade om al sy planne vir jou lewe uit te voer – tot op die oomblik waarop jy voor sy troon staan en Hom hoor sê, “Welgedaan, goeie en getroue dienskneg! Jy was getrou oor ‘n paar dinge; Ek sal jou oor baie dinge laat heers. Gaan in die blydskap van jou Here in!” (sien Matthéüs 25:23).

Carter Conlon het aangesluit by die pastorale personeel van Times Square Church in 1994 op uitnodiging van die stigterspastoor, David Wilkerson en was aangestel as Senior Pastoor in 2001.