Kan Ek Verander?

David Wilkerson (1931-2011)

Baie mense reageer goed op Christelike berading as ‘n middel om huwelike en huise te help genees. Trouens, berading het vandag ‘n belangrike bediening in die kerk geword. Maar meer en meer gekwelde Christene reageer nie op die berading wat hulle ontvang nie. Waarom nie? Omdat ‘n geestelike sluier oor hulle oë gaan lê het – ‘n blindheid vir hulle eie skuld en behoefte om te verander. En daardie sluier moet verwyder word voor enige verandering in hulle lewens moontlik is.

“Maar wanneer hulle tot die Here bekeer is, word die bedekking weggeneem. Die Here is die Gees, en waar die Gees van die Here is, daar is vryheid” (2 Korinthiërs 3:16-17).

Die Bybel praat duidelik met almal wat die Here sal gehoorsaam: “Jy kan nie verander word as jy opsetlik blind bly vir God se Woord nie.” In vers 16, beteken “bekeer,” “koers omkeer.” Kortliks sê Paulus, “Jy moet erken dat die koers wat jy ingeslaan het jou by leegheid, ondergang en wanhoop uitgebring het.”

Verandering is ekslusief die werk van die Heilige Gees: “Hoeveel te meer sal die bediening van die Gees dan nie in heerlikheid wees nie?” (2 Korinthiërs 3:8). Ons kan onsself eenvoudig nie verander nie; slegs die Gees van God kan ons verander na die heerlike beeld van Christus. Paulus het hierdie soort verandering beleef toe hy steeds bekend was as Saulus en langs die pad na Damaskus gereis het om die Christene daar te vervolg. Die Here het hom afgesny en ‘n krisis veroorsaak om die koers van sy lewe heeltemal te verander (sien Handelinge 9).

Om verandering te sien, moet verskeie dinge gebeur. Eerstens, moet jy groei in die kennis van God se genade, wat gevolg word deur die versekering dat jy nie moed sal verloor nie, maak nie saak hoe sleg dinge raak nie. “Daarom, aangesien ons hierdie bediening het volgens die barmhartigheid wat ons ontvang het, gee ons nie moed op nie” (2 Korinthiërs 4:1). En dan moet jy alle verborge dinge in jou lewe laat staan: “Maar ons het van die heimlike dinge wat skandelik is, afstand gedoen, en ons wandel nie in listigheid of vervals die woord van God nie; maar deur die waarheid aan die lig te bring, beveel ons ons by elke menslike gewete voor God aan” (4:2).

God sal jou verander wanneer jy jou onderwerp aan sy Woord en die transformerende krag van sy Gees. Onderwerp jouself aan sy wil vandag en laat Hom toe om van jou ‘n oorwinnaar te maak. Bly in sy Woord, roep sy Naam pligsgetrou aan en vertrou die Heilige Gees om jou te verander.

Tags