Rus Vir Jou Bekommerde Siel

David Wilkerson (1931-2011)

As jy Jesus al ooit werklik liefgehad en gevolg het, maar nou koud en onverskillig geword het, praat die Heilige Gees met jou en nooi jou uit om terug te keer na die genadige arms van Christus. Luister asseblief na wat die Heilige Gees sê: “Wie ‘n oor het, laat hom hoor wat die Gees aan die gemeentes sê” (Openbaring 2:7).

Geestelike koudheid lei tot hardheid van hart. Paulus verwys hierna waar hy sê dat voor Jesus se wederkoms, “moet die afval kom” (2 Thessalonicense 2:3). Hulle wat “die liefde tot die waarheid nie aangeneem het” (2:10) nie, sal in groot misleiding verval; hulle sal leuens eerder glo as die waarheid.

Hebreërs waarsku: “Sorg daarvoor, broeders, dat daar nie miskien in een van julle ‘n bose en ongelowige hart is deurdat hy van die lewende God afvallig word nie. Maar vermaan mekaar elke dag so lank as dit vandag genoem word, sodat niemand van julle deur die verleiding van die sonde verhard word nie” (Hebreërs 3:12-13).

Die huidige geslag het hulle vrees vir Hom verloor, en wanneer daar geen vrees van God oor is in die land nie, volg verwoesting. Die Skrif praat herhaaldelik van die vrees van God: “Vrees die Here, en wyk af van die kwaad” (Spreuke 3:7). “Die vrees van die Here is om te haat wat sleg is” (8:13). “Deur liefde en trou word die skuld versoen, en deur die vrees van die Here wyk 'n mens af van die kwaad” (16:6).

Ons is ‘n groot hoop gegee. Hier is die uitnodiging: “Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee. Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus vind vir julle siele; want my juk is sag en my las is lig” (Matthéüs 11:28-30).

Die wêreld verwerp miskien die Bybel en die ware Jesus, God se eie Seun. Die wêreld ontken selfs dat daar ‘n hemel of hel is. Maar Jesus self het gesê dat na die dood sal daar ‘n oordeelsdag wees. Die  Heilige Gees roep ons om wakker te word en alles aan Jesus oor te gee – nou, vandag!

Jy behoort aan Jesus en Hy het aanspraak op jou. Ek dring vandag by jou aan, op hierdie oomblik, om net na Hom te kom en rus vir jou bekommerde siel te kry. God belowe om jou tegemoet te kom.

Tags