Die Laaste Toets van Geloof

David Wilkerson (1931-2011)

Daar kom ‘n tyd in die lewe van elke gelowige – sowel as in die kerk – wanneer God ons die laaste toets van geloof laat deurgaan. Dit is dieselfde toets wat Israel aan die woestynkant van die Jordaan ondervind het. Wat is hierdie toets?

Dit is om te kyk na al die gevare wat voorlê – die reuse-kwessies wat ons beleef, die hoë mure van swaarkry, die owerhede en magte wat ons wil vernietig – en onsself totaal op God se beloftes te werp. Die toets is om ons te verbind tot ‘n leeftyd van vertroue in sy Woord. Dit is ‘n verbintenis om te glo dat God groter is as al ons probleme en vyande.

Ons hemelse Vader soek nie ‘n geloof wat een probleem op ‘n slag hanteer nie. Hy is op soek na ‘n lewenslange geloof, ‘n lewenslange verbintenis om Hom te glo vir die onmoontlike. Hierdie soort geloof bring kalmte en rus in ons siel, maak nie saak wat ons situasie is nie. En ons het hierdie kalmte, want ons het vir eens en vir altyd besluit: “My God is groter. Hy is in staat om my uit alle benoudheid te haal.”

Ons Here is liefdevol en lankmoedig, maar Hy sal nie sy volk toelaat om in ongeloof te bly nie. Jy is miskien keer op keer getoets en nou het die tyd aangebreek dat jy ‘n besluit moet neem. God wil geloof hê wat die laaste toets deurstaan, ‘n geloof wat nie toelaat dat enigiets jou laat wankel uit jou sekerheid van en vertroue in sy getrouheid nie.

Toe Israel teen Jerigo opgetrek het, was die volk beveel om nie ‘n woord te spreek nie, maar om net te marsjeer. Hulle was gefokus op die een ding wat God van hulle gevra het: om sy Woord te gehoorsaam en vorentoe te gaan.

Dit is geloof. Dit beteken dat jy jou hart daarop moet rig om alles te onderhou wat in God se Woord staan, sonder om dit te bevraagteken of dit ligtelik op te neem. En ons weet dat as ons vasbeslote is om gehoorsaam te wees, sal God sorg dat sy Woord teenoor ons duidelik is, sonder verwarring. Verder, as Hy ons beveel om iets te doen, sal Hy ons die mag en krag gee om te gehoorsaam: “Laat die swakke sê: Ek is ‘n held” (Joël 3:10). “Eindelik, my broeders, wees kragtig in die Here en in die krag van sy sterkte” (Efesiërs 6:10).

Tags