Bereik Ondenkbare Bestemmings

God Het Een Vir Jou in Gedagte

Die Bybel wat ons lees, is ‘n boek van hoop. Die hoop wat dit vir ons gee is nie gematig, gemiddeld of normaal nie. Dit inspireer ons nie tot die normale bestaan, om bloot te oorleef en deur te kom nie. Die hoop van God se Woord word uitgedruk in kragtige beloftes wat lei tot ondenkbare resultate uit God se eie hand. Daardie hoop lei ons tot bestemmings ver bo ons wildste verwagtinge.

Soos ek die wonderlike hoop wat in die Bybel belowe word bestudeer, word God se hart vir sy kinders duidelik. Die Bybel belowe ‘n hoop van redding, van genesing van lyding, van verlossings deur ons beproewings. Dit belowe ‘n hoop van opposisie oorkom, sonde oorwin en onoorkomelike vyande verslaan. Dit belowe ‘n hoop dat liefde sal oorwin, vrede sal heers, blydskap sal oorloop en die begeertes van jou hart vervul sal word.

Die Bybel is vol mense wat al hierdie hoop in vervulling sien kom het.

Die hoop van Israel se vryheid het Moses gedring om te eis, “Laat my volk gaan!” Die hoop van Israel se toekoms het Josua gedring om op die rand van die Beloofde Land uit roep, “Laat ons in besit neem wat God voor ons gestel het!” Die hoop om ‘n huis vir God te bou, het Dawid gedring om te droom van die Tempel in Jerusalem. Jare later, het dieselfde hoop Nehemía gedring om die Tempel te herbou nadat die stad in puin gelê is.

Nie almal sal die hoop en drome deel wat God in ons plaas nie. Toe Nehemía gevra het dat die Tempel herbou moes word, het die volk beswaar gemaak, “Dit is nog nie tyd nie. Ons het nog nie eens die stadsmure herbou nie.” God het in wese vir hulle gesê, “Moenie sê, ‘Dit is nie tyd nie.’ Die bestemming wat Ek vir julle het, lyk dalk ondenkbaar, maar jy sal dit vervul sien met my krag.”

Waarom vervul God ons met hoop om drome vervul te sien? Dit is omdat Hy ‘n volk wil hê wat sal sê, “Daar is meer om te besit. Daar is meer goddelike gesag vir ons om in besit te neem, meer genesing om vir die gebrokenes te bring, meer hopelose mense om gered te word, meer verpletterde gesinne om te herstel, meer arm mense om uit wanhoop uit te lig, meer veroordeelde harte om versoening te ken.”

Kortliks, Hy vul ons met hoop en ‘n dringende geloof om sy koninkryk op aarde te sien soos in die hemel.

God se volk moet nooit sy grootheid verklein tot blote matigheid nie.

Die wêreld het groot ondenkbare bestemmings. John F. Kennedy het gedroom om iemand op die maan te sit teen die einde van die 1960’s. Martin Luther King, Jr. het gedroom van kinders van verskillende rasse wat hande hou en in vrede saam grootword. Hoeveel te meer moet ons verwag dat Jesus ons lei na ondenkbare bestemmings?

Ek moet vra: Hoe het ons kennis van God se wilde hart grootheid ons gelei na gematigde lewens van middelmatigheid? Hoe het die Bybel gereduseer geword tot ‘n blote reëlboek, ‘n sedelike riglyn, ‘n geestelike “te doen”-lys? Wanneer het God se vurige woorde afgewater geword tot selfgerigte godsdienstige pligte?

Dit gebeur wanneer ‘n Christen hom “tuismaak,” en sê, “Ek wil Jesus nie vir te veel vra nie. Ek wil net veilig bly.”

Die profeet Jesaja beskryf hoeveel meer daar is vir diegene wat die Here liefhet. In hoofstuk 58, sê die profeet dat goddelike mense van groot dinge droom, nie net vir hulleself nie, maar vir die behoeftiges. Hy praat van goddelike mense wat opstaan vir die verlorenes en die uitgeworpenes dien:

“Is dít die vas wat Ek verkies, die dag as die mens sy siel gaan kwel: dat hy sy hoof buig soos ’n biesie en sak en as uitsprei om sy bed te wees? Noem jy dit vas en ’n dag wat die HERE welgevallig is?

“Is dít nie die vas wat Ek verkies nie: dat julle losmaak die bande van goddeloosheid, dat julle afhaal die stroppe van die juk en vry laat weggaan die verdruktes en elke juk stukkend breek? Is dit nie dat jy jou brood breek vir hom wat honger het, en ellendiges, swerwelinge in die huis inbring nie? As jy iemand sien wat naak is, dat jy hom klee, en jou vir jou eie vlees nie verberg nie? Dan sal jou lig deurbreek soos die dageraad en jou genesing skielik uitspruit; en jou geregtigheid sal voor jou uit gaan, die heerlikheid van die HERE jou agterhoede wees.

“Dan sal jy roep, en die HERE sal antwoord; jy sal skreeu om hulp, en Hy sal sê: Hier is Ek! As jy van jou verwyder die verdrukking, die uitsteek van die vinger en die leuenagtige woord” (Jesaja 58:5-9).

Wat ‘n pragtige visie van God se heerlikheid wat deur sy volk manifesteer, en wat ‘n kragtige regstelling van ons konsep van hoe om Hom te dien. God roep ‘n vlam-blasende, geloof-induserende, demoon-verslanende, hoop-gevulde, kwaad-oorwinnende, liefde-verspreidende volk. Die bestemmings wat Hy vir ons uitlê, lyk dalk ondenkbaar vir die wêreld, maar dit mag nie wees vir hulle wat sy naam aanneem nie.

Leef jy die “heerlike lewe” wat in God se Woord belowe is?

“’n Vervulde wens is soet vir die siel” (Spreuke 13:19). “Mag Hy u gee na u hart en al u voornemens vervul!” (Psalm 20:5). Baie van ons leef nie die soet lewe wat in hierdie verse ontlok word nie. Word jy gretig wakker om te sien hoe God die beloftes vervul wat Hy vir jou het?

Jy sê dalk, “Ek het nie planne nie. Ek volg net God se leiding.” Die Psalmdigter stel hier voor dat jy planne behoort te hê omdat God hulle wil vervul. Dit is eintlik ‘n teken van liefdevolle passie om planne te hê. Wanneer Valentynsdag nader kom, sit ons nie terug en hoop dat ‘n ete homself geheimsinnig sal voorberei of dat blomme skielik sal verskyn nie. Ons maak planne omdat ons ‘n passievolle begeerte het vir ons geliefde.

Daar is ‘n basiese probleem vir baie Christene: Hulle kom begeerte kort. Hulle dink dinge soos passie en drome is vleesgesentreerd, nie Godgesentreerd nie. Wat hulle nie besef nie, is dat daar gevolge is as jy nie ‘n passievolle visie het nie. “As daar geen openbaring is nie, word die volk bandeloos” (Spreuke 29:18).

Watter gevolge! Diegene wat nie ‘n passievolle visie het nie, laat vaar op die ou end alle beperkings. As jy doelloos is met geen rigting vir jou lewe nie, het jy geen nut vir dissipline nie. Jy werk nie na iets nie; jou energie word nie gespandeer op ‘n droom nie. In daardie geval, wat is die punt van enigiets?

Al daardie fris, gespierde mense wat jy by die gim sien, het nie net in hulle liggaamsbou ingeval nie. Hulle het nie hulle dae deurgebring deur botterroom kolwyntjies te eet nie. Hulle het geloof dat elke myl wat hulle op ‘n stilstaande fiets trap, tot ‘n sterk, gesonde liggaam lei wat hulle goed sal dien gedurende hulle leeftyd.

Die gevolge waarvan ek nou praat, is positief.

Jou passievolle visie om God se heerlikheid in jou lewe te beleef, is nie net een of ander ideaal nie. Dit lei na werklike resultate, na gewigdraende dinge. “Die geloof dan is ’n vaste vertroue op die dinge wat ons hoop, ’n bewys van die dinge wat ons nie sien nie” (Hebreërs 11:1, my beklemtoning).

‘n Lewende geloof bring lewegewende resultate. “So sê die Here HERE: Ook dit sal Ek My laat vra deur die huis van Israel om dit vir hulle te doen: Ek sal hulle mense vermenigvuldig soos skape” (Eségiël 36:37). Soos ons geloof toeneem, so neem die resultate wat God veroorsaak toe.

Glo jy steeds dat jou droom van God se grootheid in jou lewe selfgesentreerd is? Indien wel, hoe kan jy verwag om die soet lewe te hê wat Hy belowe het?

Jesus sê nie vir ons om nie na grootheid te strewe nie. Trouens, Hy wys ons hoe om dit te bereik. “En toe Hy gaan sit het, roep Hy die twaalf en sê vir hulle: As iemand die eerste wil wees, moet hy die laaste van almal en almal se dienaar wees” (Markus 9:35). “Wil jy grootheid hê?” vra hy. “Dien ander.”

Wanneer jou droom, jou ambisie, jou doel vervul is, sal dit ‘n seën vir baie wees?

In my reise om die wêreld om herders te bemoedig, ontmoet ek baie goddelike mans en vroue wat weet wat ware grootheid is. Ek ken ‘n Afrikaan wat gelei gevoel het deur God om ‘n kerk in Oekraïne te begin. Op papier het sy droom nie baie goed gelyk nie. Hy het niemand in Oekraïne geken nie. As hy ‘n kultureel sensitiewe kerk vir Afrikane wou begin het, sou hy nie baie in ‘n voormalige Sowjet satellietland kry nie. Hy het egter ‘n droom gehad en hy het alles prysgegee om dit na te jaag.

Hy het ‘n gehoor gekry by ‘n groep Oekraïense herders en hulle van sy visie vertel: Hy wou ‘n kerk stig vir mense wat Jesus nie ken nie. Daardie goddelike herders het nie gedink hy was mal nie; hulle het geëerd gevoel oor sy droom. Hulle het besluit om hom te ondersteun.

Vyf jaar nadat hierdie man ‘n kerk in Kiev geopen het, noem 5,000 mense dit hulle tuiste. Amper almal van daardie mense het hulle tot Christus bekeer voor die altaar van daardie kerk. Sommige was verlos van alkoholverslawings. Die haweloses het weer op hulle voete gekom. Straatwesies was ingeneem en voor gesorg. Mense wat deur die regering misbruik of verwaarloos was, het hoop en liefde gevind in die Saligmaker wat vir hulle kleinste behoeftes en hulle drome vir ‘n toekoms gesorg het.

Hierdie herder uit Afrika, was nie die regte man nie; hy was nie op die regte plek nie, en hy het geen kwalifikasies gehad om die dinge te doen waaroor hy gedroom het nie. Sy bestemming was ondenkbaar vir die meeste mense, maar sy geloof het die verwesenliking van daardie droom bewerkstellig. Nou ontvang Jesus eer op die strate waar wanhoop geheers het net ‘n paar jare gelede.

Vlug jy van goddelike drome en begeertes af weg wat God in jou geplaas het?

Verlang jy daarna om sy heerlikheid in jou lewe te beleef? Vra vir Jesus om jou stap vir stap te lei na die bestemming wat Hy vir jou het. Dit sal ondenkbaar wees, en die wêreld sal nooit weer dieselfde wees nie.