Jou Grootste Doel

David Wilkerson (1931-2011)

“Julle het My nie uitverkies nie, maar Ek het julle uitverkies en julle aangestel om vrug te gaan dra en dat hulle vrug kan bly, sodat wat julle die Vader ook al in my Naam vra, Hy julle dit kan gee” (Johannes 15:16).

Ek word deur die Skrif oortuig dat daar slegs een kerndoel vir alle gelowiges is. Ons spesifieke roepings word saamgevat in hierdie een doel en elke gawe spruit daaruit. As ons hierdie doel mis, sal al ons begeertes en strewes verniet wees. Die doel is eenvoudig die volgende: ons is almal geroep en uitverkore om vrug te dra.

Om vrug te dra, beteken iets baie groter as selfs siele wen. Die vrug waarvan Jesus praat, is om soos Christus te wees en die ware gelykenis van Jesus te weerspieël. En die frase “veel vrug” beteken “die toenemende gelykenis van Christus.”

Om meer en meer soos Jesus te word, moet sentraal in al ons aktiwiteite, leefstyl en verhoudings wees. Trouens, al ons gawes en roepings – ons werk, bediening en getuienis – moet uit hierdie kerndoel spruit.

God se doel vir ons kan nie vervul word deur dit wat ons vir Christus doen nie, dit kan slegs vervul word deur wat ons in Hom word. Ons word in sy gelykenis verander elke dag as ons Hom soek.

“En ons weet dat vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk, vir hulle wat na sy voorneme geroep is” (Romeine 8:28). Paulus se boodskap hier is eenvoudig: “Alle dinge behoort ten goede mee te werk in die lewens van hulle wat God liefhet en in sy weë wandel.”

Die bruikbaarste mense in die kerk van Jesus Christus is hulle wat oë het om te sien en ore het om te hoor. Ja, sommige doen groot dinge wat deur baie gesien en gehoor word, maar sommige van dieselfde mense het nie die oë om die behoeftes van lydende mense te sien nie. Hulle is projekgeoriënteerd, eerder as behoefte-georiënteerd.

Jesus sien al die behoeftes en lyding rondom ons raak en ons het sy oë nodig om dieselfde dinge te sien. Dit is die liefde van Christus: om “oë te hê wat sien en ore om te hoor.”

Mag jy ore hê wat hoor wat God vir jou sê en mag jy ander liefhê daad en in waarheid.