Verdra ‘n Seisoen van op God Wag

Gary Wilkerson

Net voor Jesus opgevaar het na die hemel, het  Hy sy dissipels beveel, “En kyk, Ek stuur die belofte van my Vader op julle. Maar julle moet in die stad Jerusalem bly totdat julle toegerus is met krag uit die hoogte” (Lukas 24:49-50). Jesus se boodskap was duidelik: “Wag op die Gees!”

Die meeste van ons het baie werk nodig wanneer dit kom by die dissipline van wag. Hoe meer ons jaag om dinge vir God te doen in ons vlees, hoe meer tap sy krag uit ons uit. Dit het oor en oor in die Ou Testament gebeur. Israel het altyd voor God uitbeweeg, sy planne vir hulle gedwarsboom en Hom van die heerlikheid beroof wat Hy verdien het as hulle getroue Verlosser. Ons het dieselfde geneigdheid vandag. Ons vlees is bloot geneig om die Here vooruit te loop.

Elia het geweet wat dit beteken om op die Here te wag. “Toe kom die woord van die HERE tot hom (Elia) en sê...steek jou weg” (1 Konings 17:1-3). Dit is van die moeilikste woorde wat enige volgeling van Jesus kan hoor. Dit is gelykstaande aan Jesus wat vir sy dissipels gesê het, “Wag.” Vir die dissipels, was wag ‘n kwessie van weke; vir Elia was dit drie jaar. Dit was die oorblywende tydperk van die hongersnood wat Israel beleef het nadat God met hom gepraat het.

Dink net hoe moeilik was daardie tyd vir Elia. Hy het ’n woord van God gehad wat in sy hart gebrand het, maar hy was beveel om stil te bly vir drie lang jare. Toe daardie jare verby was, het God egter vir Elia gesê, “Gaan heen, vertoon jou...dan wil Ek reën gee op die aarde” (1 Konings 18:1).

Vandag, “vertoon” baie van ons onsself voor God se bepaalde tyd. Op die ou end, spin ons ons wiele, put ons onsself uit en word ons moeg om God se werk te doen. Maar, vriend, die enigste krag wat ons ooit vir God se werk sal hê, sal kom uit tyd in gebed deurgebring.

Wag is ‘n pynlike ervaring, dikwels vol verveling en gesug. Vir die dissipels was wag alles behalwe vervelig omdat hulle Jesus se woord en belofte gehad het en dit het die verskil gemaak! Wanneer die oomblik vir ons aanbreek om onsself te “vertoon,” sal God ons met sy krag toerus. Wat ‘n wonderlike oomblik sal dit wees!