Opstandingskrag in Jou Lewe

David Wilkerson (1931-2011)

Paulus het sy kommer uitgespreek oor die kerk van Jesus Christus toe hy gebid het: “Mag God julle nie net die grootheid van Christus in die verlede openbaar nie, maar ook sy huidige grootheid.” Hier is sy spesifieke gebed: “Sodat julle kan weet wat die hoop van sy roeping en wat die rykdom van die heerlikheid van sy erfdeel onder die heiliges is” (Efesiërs 1:18-19).

Ons het groot eerbied vir Jesus wat op hierdie aarde gewandel het, water in wyn verander het, die skare gevoed en siekes genees het. En ons glo dat Jesus ons sondes kan vergewe en ons skuld kan verlig. Ons glo dat Hy ons vrede en blydskap en selfs die ewige lewe kan gee. Maar te min van ons ken Jesus as God van die natuurlike wêreld waarin ons leef. Ons erken Hom dikwels nie as Here oor ons alledaagse sake, as God van ons huis, ons kinders en die huwelik, ons werk en rekeninge nie.

Toe Jesus gevra is om sy vriend Lasarus te genees, het Hy te doene gekry met beperkte geloof. “En toe Maria kom waar Jesus was en Hom sien, val sy aan sy voete neer en sê vir Hom: Here, as U hier gewees het, sou my broer nie gesterf het nie” (Johannes 11:32). Die gedeelte wys verder dat Maria en haar vriende net tot die dood toe geloof gehad het. “En sommige van hulle sê: Kon Hy wat die oë van die blinde man geopen het, nie maak dat hierdie man ook nie gesterf het nie?” (11:37).

Dit is geen wonder dat daar soveel onrus in die lewens van soveel van ons Christene is nie. Waarom sulke hartseer en rouklaag? Dit is omdat ons nie glo dat Jesus dit wat dood lyk, kan opwek nie. Ons glo nie Hy het ‘n lewegewende plan vir ons nie of miskien is Hy te laat. Dinge het te ver gegaan.

Geliefde, Jesus was nog nooit meer gewillig om sy opstandingskrag te toon as nou nie. Dit is nie genoeg om Christus net lief te hê, te dien en te aanbid tot op die punt van hopeloosheid nie. Waarom vertrou ons Hom nie as alle hoop verlore is nie? Die Skrif sê dat daar vir ons dieselfde energieke, opstandingslewe gegee is wat in Christus is: “En as die Gees van Hom wat Jesus uit die dode opgewek het, in julle woon, dan sal Hy wat Christus uit die dode opgewek het, ook julle sterflike liggame lewend maak deur sy Gees wat in julle woon”(Romeine 8:11).

Die Heilige Gees woon in jou om die huidige grootheid van Christus na vore te bring. Glo in Hom!