Om Leiding vir die Lewe te Kry

David Wilkerson (1931-2011)

As die Skrif sê dat die Heilige Gees in ons “woon”, beteken dit dat God se Gees inkom en ons liggame in besit neem en dit sy tempel maak. En omdat die Heilige Gees die verstand en die stem van die Vader ken, spreek Hy God se gedagtes tot ons: “Maar wanneer Hy gekom het, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die hele waarheid lei; want Hy sal nie uit Homself spreek nie, maar alles wat Hy hoor, sal Hy spreek en die toekomstige dinge aan julle verkondig” (Johannes 16:13). Die Heilige Gees is die stem van God in en tot ons!

As jy die Heilige Gees in jou het, sal Hy jou persoonlik onderrig. Weet asseblief dat Hy nie net met herders, profete en leraars praat nie, maar met alle volgelinge van Jesus. Dit is duidelik in die hele Nuwe Testament waar die Heilige Gees God se kinders gelei en gedurig vir hulle gesê het: “Gaan hierheen, gaan daarheen ... gaan hierdie stad binne ... salf daardie persoon ...” Die vroeë gelowiges is oral en in alles deur die Heilige Gees gelei.

En die Gees spreek nooit ‘n enkele woord wat in stryd is met die Skrif nie. In plaas daarvan, gebruik Hy die Skrif om duidelik met ons te praat. Hy gee ons nooit ‘n “nuwe openbaring” wat losstaande is van God se Woord nie. Hy maak sy geopenbaarde Woord vir ons oop, om ons te lei en te vertroos en om ons die toekomstige dinge te wys.

Ek is oortuig daarvan dat God net met diegene praat wat soos Moses “by Hom kom staan.” Dit beteken dat ons daagliks kwaliteit tyd saam met die Here moet deurbring – om te wag dat Hy ons hart ten volle oopmaak om sy stem te hoor, nie haastig in sy teenwoordigheid te wees nie en te glo dat Hy graag met ons wil praat. Hy sal niks van ons weerhou nie – en Hy sal nooit toelaat dat ons mislei of in verwarring gelaat word nie. Selfs in die moeilikste tye, sal ons ‘n tyd van groot blydskap geniet — omdat Hy homself aan ons sal openbaar soos nog nooit tevore nie.