God se Beloofde Krag vir Jou

David Wilkerson (1931-2011)

Mense kontak dikwels ons bediening en sê: “Ek het niemand om mee te praat nie, niemand om my las mee te deel nie, niemand wat tyd het om my uitroep te hoor nie. Ek het iemand nodig by wie ek my hart kan uitstort.”

Koning Dawid was heeltyd omring deur mense. Hy was getroud en het baie metgeselle aan sy sy gehad. Ons hoor egter dieselfde uitroep van hom: “Na wie toe sal ek gaan?” Dit is in ons aard om ‘n ander mens met ‘n gesig, oë en ore te wil hê om na ons te luister en ons te adviseer.

Toe Job deur sy beproewings oorweldig was, het hy met droefheid uitgeroep: “Ag, as iemand my maar wou aanhoor!” (Job 31:35). Hy het hierdie kreet uitgespreek terwyl hy voor sy sogenaamde vriende gesit het. Daardie vriende het geen simpatie met sy probleme gehad nie; hulle was in werklikheid boodskappers van wanhoop.

Job het hom net tot die Here gewend: “Selfs nou, kyk, in die hemel is my Getuie; en Hy wat saam met my getuig, is in die hoogtes ... uit my oog drup trane tot God” (Job 16:19-20).

Dawid het God se volk aangespoor om dieselfde te doen: “Vertrou op Hom altyd, o volk! Stort julle hart uit voor sy aangesig! God is ‘n toevlug vir ons” (Psalm 62:9).

Uiteindelik, kom lyding oor ons almal se pad en op die oomblik is menigte heiliges vasgevang in verdrukkinge. Hulle omstandighede het hul vreugde verander in gevoelens van hulpeloosheid en nutteloosheid. Baie mense vra in hul pyn: “Waarom gebeur dit met my? Is God kwaad vir my? Wat het ek verkeerd gedoen? Waarom verhoor Hy nie my gebede nie?”

Ek glo in my hart dat hierdie boodskap ‘n uitnodiging vir jou van die Heilige Gees is om ‘n privaat plek te vind waar jy gereeld jou siel voor die Here kan uitstort. Dawid het “sy klagte uitgestort,” en jy kan dit ook doen. Jy kan met Jesus oor alles praat – jou  probleme, jou huidige beproewing, jou finansies, jou gesondheid – en Hom vertel hoe oorweldig jy voel en selfs hoe moedeloos jy is. Hy sal jou met liefde en simpatie aanhoor en jou roepstem nie verag nie.

God het Dawid geantwoord. Hy het Job geantwoord. En eeue lank antwoord Hy op die hartseer van almal wat sy op beloftes vertrou. Hy het belowe om jou te hoor en te lei. Hy het onder eed belowe om jou krag te wees, sodat jy na Hom kan gaan en weer vernuwe kan word.