Waarom die Ou Testament Lees?

David Wilkerson (1931-2011)

Sommige gelowiges – selfs bedienaars – glo dat die Ou Testament nie relevant in ons tye is nie en dat dit dus nie meer nodig is om dit te bestudeer nie. Hoe verkeerd is hulle tog! Die Ou Testament verduidelik die Nuwe Testament in duidelike, eenvoudige terme. Die stories is vol tipes en skaduwees van ewige waarhede, wat afgespeel word in die praktiese lewens van regte mense.

‘n Volmaakte voorbeeld hiervan kan gevind word in Israel, ‘n tipe van ‘n Christen, terwyl Egipte die wêreld verteenwoordig. Israel se reis deur die woestyn verteenwoordig ons geestelike lewe as Christene. Die stuk hout wat die waters van Mara genees het, is ‘n tipe van die kruis van Christus (sien Exodus 15:23-25) en die rots waaruit die water in die woestyn gekom het (sien Numeri 20:11) is ‘n tipe van ons Verlosser wat aan die kruis vasgespyker was.

Die Skrif maak dit inderdaad duidelik dat al Israel se fisieke oorloë ons geestelike oorloë weerspieël vandag: “Maar al hierdie dinge het julle oorgekom as voorbeelde en is opgeskrywe as ‘n waarskuwing aan ons op wie die eindes van die eeue gekom het” (1 Korinthiërs 10:11). Selfs die tabernakel en sy meubels is voorbeelde van hemelse dinge: “Wat ‘n afbeeldsel en skaduwee van die hemelse dinge bedien, soos Moses ‘n goddelike bevel ontvang het toe hy die tabernakel sou voltooi; want Hy het gesê: Kyk, dat jy alles maak volgens die voobeeld wat jou op die berg getoon is” (Hebreërs 8:5).

Wanneer jy nie ‘n waarheid in die Nuwe Testament verstaan nie, kan jy jou tot die Ou Testament wend om dit op een of ander manier geïllustreer te sien. Byvoorbeeld, veronderstel jy wil weet hoe om alle geestelike mure wat die duiwel in jou lewe opgebou het, af te breek. Dan kan jy gaan kyk na die storie van Josua om te sien hoe die mure van Jerigo neergewerp is (lees die verhaal in Joshua 6). Net so, as jy meer oor oorwinning in gebed wil leer, lees die storie van Jakob wat met die Here geworstel het in Génesis 32:24-29.

Al hierdie Ou Testamentiese voorbeelde is bedoel om ons te verhoed om in ongeloof te verval soos Israel. Die outeur van Hebreërs skryf, “Laat ons ons dan beywer om in te gaan in die rus, sodat niemand in dieselfde voorbeeld van ongehoorsaamheid mag val nie” (Hebreërs 4:11). Met ander woorde, “Bestudeer die Ou Testament en leer uit Israel se voorbeeld. Moenie dieselfde foute as hulle maak nie!”