Is Jesus op die Troon van Jou Hart?

David Wilkerson (1931-2011)

God die vader het Christus as Koning oor alle nasies en die hele natuur gekroon, sowel as Here oor die kerk. Dit maak nie saak hoe dinge aan die buitekant lyk nie. Alles mag skynbaar buite beheer wees en lyk of die duiwel heerskappy oorgeneem het, maar God het in werklikheid alle dinge onder Jesus se voete gestel.  

Vandag sien ons egter oral rondom ons dat die samelewing en die regering Christus onttroon – en weier om sy gesag en koningskap te erken. God word uit ons skole en howe gehaal en geïgnoreer wanneer ons nuwe wette maak. Die probleem van Christus se onttroning is baie ernstiger as Amerika se verwerping van Jesus se gesag omdat dit ook in sy kerk gebeur!

Jy sê dalk, “Ek wil hê Jesus moet Koning van my lewe wees. Ek wil alles doen wat Hy beveel.” God sê, “As jy oorvloedige lewe wil hê – ware, vol lewe – onderwerp jouself aan My en Ek sal jou lewe sonder vrees, skuld of veroordeling gee.”

Diegene wat hulle aan Christus se heerskappy onderwerp, sal in vrede lewe. Onderworpe Christene leef nie in vrees, onrus of angs nie. Hulle is beklee met vrede: “Gee dat ons, verlos uit die hand van ons vyande, Hom sonder vrees kan dien ... om te skyn oor die wat in duisternis en doodskaduwee sit, om ons voete na die pad van vrede te rig” (Lukas 1:74 en 79).

Wat ‘n wonderlike belofte! As ons ons lewens aan Hom onderwerp, sal Hy sy lig in ons duisternis skyn, die skadu van die dood wegneem en ons lei na rus en vrede. Hy sê in wese, “Ek sal al die verwarring in jou lewe laat verdwyn en jy sal in vrede kan lewe.”

Psalm 121 som die gesindheid wat ons moet hê op: “Ek slaan my oë op na die berge: waar sal my hulp vandaan kom? My hulp is van die HERE wat hemel en aarde gemaak het. Hy kan jou voet nie laat wankel nie ... Die HERE sal jou bewaar vir elke onheil; jou siel sal Hy bewaar” (Psalm 121:1-3,7).

Plaas Christus op die troon van jou hart vandag – en leef!

Tags