Die Pad na Heiligheid

David Wilkerson (1931-2011)

“So is ons almal saam een liggaam in Christus en elkeen lede van mekaar” (Romeine 12:5). Deur geloof is ons die lede van Christus se liggaam, aangeneem in een familie. Daar is nie langer swart, wit, geel, bruin, Jood of heiden nie. Ons is almal uit een bloed – een nuwe mens – in Christus Jesus! En as gevolg van Christus se werk aan die kruis, kan die mens nie heilig word deur goeie werke, regverdige dade, menslike pogings of strewes van die vlees nie.

“Deurdat Hy in sy vlees die vyandskap tot niet gemaak het, naamlik die wet van gebooie wat in insettinge bestaan; sodat Hy, deur vrede te maak, die twee in Homself tot een nuwe mens kon skep” (Efésiërs 2:15). Slegs een mens kon deur die Vader aanvaar word: die nuwe, opgestane mens. En toe hierdie nuwe Mens almal wat geloof in Hom gehad het aan die Vader voorgestel het, het die Vader gereageer, “Ek ontvang julle almal as heilig, omdat julle heilig in my heilige Seun is!”

Ons is geseël deur die Heilige Gees. “Om die volheid van die tye te reël, met die doel om alle dinge wat in die hemele sowel as wat op die aarde is, onder een hoof in Christus te verenig ... in wie julle ook, nadat julle die woord van die waarheid, die evangelie van julle redding, gehoor het, in wie julle, nadat julle ook geglo het, verseël is met die Heilige Gees van die belofte” (Efésiërs 1:10,13). Jy sien, heiligheid is nie iets wat ons doen, of bereik, of waarvoor ons werk nie. Liewer, dit is iets wat ons glo! Die pad na heiligheid is nie deur menslike vermoë nie, maar deur geloof.

God se boodskap van heiligheid gaan nie oor uiterlike dinge nie. Dit gaan oor geloof – en Hy maak dit baie duidelik en eenvoudig. Dit is sy wonderlike antwoord op die angstige krete van menigtes Christene wat daarna smag om te verstaan hoe om heilig te wees. Ons is heilig as ons in sy heiligheid rus!

Geliefde, verwerp alle vertroue op die vlees en maak die volgende jou verklaring: “Ek eis my heiligheid wat in Christus Jesus is op. Ek is deel van sy liggaam en my Vader sien my heilig – omdat ek in Christus is!”

Tags