Wanneer Dit Lyk of Jesus Stil Is

Gary Wilkerson

Nadat Jesus gekruisig was, het Josef, ‘n ryk man van Arimathéa, ons Verlosser se liggaam geneem en dit in sy eie graf neergelê. ‘n Massiewe steen was toe voor die opening gerol om die ingang na die graf te seël – wat veroorsaak het dat almal om die Meester baie hartseer en moedeloos gevoel het. Die Skrif sê dat ‘n groep vroue, insluitend Maria Magdalena, oorkant die graf gesit en waarskynlik gebid het: “Wat sal gebeur noudat Jesus weg is? Hoe gaan ons aan?” (sien Matthéüs 27:57-61).

Dan was daar die dissipels wat hulleself in ‘n kamer toegesluit het, verlam van vrees. “Die deure waar die dissipels vergader het uit vrees vir die Jode, [was] gesluit” (Johannes 20:19). Wat het hierdie dissipels gedink? Hulle kon hulle skaars indink wat van hulle almal sou word noudat Jesus weg was.

Ons kan nie peil wat Jesus se dood vir sy passievolle volgelinge beteken het nie. Hulle Meester, die hoop van die wêreld, het siekes en lammes gesond gemaak, die dooies opgewek, die gevangenes vrygelaat en die goeie nuus van verlossing verkondig. Hy was die verpersoonliking van die nuwe koninkryk wat Hy verkondig het en toe Hy gesê het, “Dit is volbring,” moes hulle gedink het dat dit beteken, “Dit is verby. Ek het alles wat Ek kon gedoen, maar kon dit nie uitvoer. Dit is die einde van die storie.” Hulle het almal na dinge gekyk met die gesindhede wat hulle voor die opstanding gehad het. Maar vandag ken ons die glorieryke einde van die storie.

Dit is jammer dat Christene dikwels die verkeerde boodskap glo wanneer hulle deur die beproewings van die lewe gaan. Hulle sien geen hoop uit hulle moeilike situasie nie, asof ‘n steen hulle permanent skei van vrymoedigheid en vertroue in die beloftes van God. Soos die vroue by die graf of die moedelose dissipels, is nederlaag al wat hulle voor hulle kan sien – maar Jesus het die laaste woord!

“Hy [het] die owerhede en magte uitgeklee en hulle in die openbaar tentoongestel en daardeur oor hulle getriomfeer” (Kolossense 2:15). Jesus het oor alle owerhede en magte getriomfeer toe Hy uit die graf opgestaan het. Sy oorwinning het al jou mislukkings oorwin! Sy krag kan jou vry maak van verslawing; sy genesing kan gebroke verhoudings herstel; sy liefde kan alle kwaad oorwin wat probeer om jou onder te kry.

Weet dit! Jesus is altyd vir jou aan die werk en Hy is aan die beweeg in jou lewe op hierdie oomblik.