Ken Jesus, Ken die Vader

David Wilkerson (1931-2011)

Hoe lyk God? Ons weet Hy is gees en dat Hy vir ons onsigbaar is; trouens, die Woord sê, “Niemand het God ooit gesien nie” (Johannes 1:18).

Deel van Jesus se sending op aarde was om die hemelse Vader aan ons te openbaar. Toe Christus op die punt was om terug te keer hemel toe, het Hy vir sy dissipels gesê dat hulle geweet het waarheen Hy gaan en dat hulle die weg geken het. Thomas het geantwoord, “Here, ons weet nie waar U gaan nie, en hoe kan ons die weg ken” (Johannes 14:5). Met ander woorde, “As U ons verlaat, hoe sal ons ooit by die Vader uitkom? U het self vir ons gesê dat U die enigste weg na Hom is.”

Jesus het verduidelik, “As julle My geken het, sou julle my Vader ook geken het, en van nou af ken julle Hom en het julle Hom gesien” (14:7). Filippus was uit die veld geslaan hieroor. Hy moes gedink het, “Wat bedoel Jesus dat ons die Vader gesien het? Hoe kan ons ‘n gees sien? En hoe kan Jesus God wees?” Daarom het hy verder gegaan met die gesprek: “Here, toon ons die Vader, en dit is vir ons genoeg” (14:8).

Jesus was geduldig omdat Hy Filippus se opregtheid geken het: “Ek is so lankal by julle, en jy het My nie geken nie, Filippus? Hy wat My gesien het, het die Vader gesien” (14:9). Toe het Jesus omgedraai en al die dissipels aangespreek: “Glo jy nie dat Ek in die Vader is en die Vader in My nie?” (14:10). Nadat Hy dit gesê het, het Hy vir hulle ‘n heerlike belofte gegee: “In dié dag sal julle weet dat Ek in my Vader is, en julle in My, en Ek in julle” (14:20).

Wat ‘n wonderlike gesprek! Christus het in wese vir hierdie mans gesê, “Kyk na My! Sien julle nie dat Ek God geklee in menslike vlees is nie? Ek is die wese van die Vader en alles wat Hy is – in natuur, wese en karakter – is in My. Ek het na die aarde toe gekom om vir julle die menslike gesig van God te wys! Ek besef julle kan dit nie nou alles begryp nie. Maar wanneer Ek opgestaan het uit die dood, sal Ek die Vader aan julle openbaar, want Hy en Ek is een.”

Ons weet dat Christus se hele bediening ‘n opebaring was van wie die Vader is. Vandag nog wil Hy jou met Homself versoen en met liefde oor jou heers. As jy sy liefde aanvaar en Hom op jou beurt liefhet, sal jy die gesig van die Vader onderskei.