Harde Tye Openbaar Ons Harte

Gary Wilkerson

Beskou hoe “normale” Christenskap vandag in die tipiese gelowige lyk. Hierdie persoon is ‘n bietjie selfsugtig, ‘n bietjie materialisties, ietwat van ‘n verbruiker. Die meeste van sy daaglikse keuses gaan oor hoe om sy lewe te verbeter. Dit sluit sy geestelike strewes in; van sy kerkgroepe af tot by die potgooie wat hy aflaai en die seminare wat hy bywoon.

Daar is niks verkeerd met enige van hierdie dinge nie. Ons Here wil hê ons lewens moet geseënd wees. Maar vir party Christene is dit niks meer as wêreldse strewes nie. Vir hulle gaan dit net om selfverbetering, nie oor die koninkryk van God nie. En hulle kan ‘n gelowige se ware geestelike krag uitput.

Wat het dan gebeur met ‘n lewe van totale oorgawe aan Jesus? Wat het dan gebeur met gewillig wees om ons lewens vir die evangelie neer te lê? Paulus het van sy eie getuienis gesê, “My rede en my prediking was nie in oorredende woorde van menslike wysheid nie, maar in die betoning van gees en krag” (1 Korinthiërs 2:4). As ons nie ‘n lewe leef wat deur God bemagtig word nie, kan ons nie die Here blameer nie. Dit is nie omdat sy genade krag kortkom nie. Die probleem is by ons.

Dit is lewensbelangrik dat die harte van Christene werklik voorbereid is om die moeilike dinge in die lewe te hanteer. Paulus het gesê, “Maar weet dit, dat daar in die laaste dae swaar tye sal kom. Want die mense sal liefhebbers van hulleself wees, geldgieriges, grootpraters, trotsaards, lasteraars, ongehoorsaam aan hulle ouers, ondankbaar, onheilig, sonder natuurlike liefde ... sonder liefde vir die goeie, verraaiers, roekeloos, verwaand, meer liefhebbers van genot as liefhebbers van God; mense wat ’n gedaante van godsaligheid het, maar die krag daarvan verloën het. Keer jou ook van hierdie mense af” (2 Timótheüs 3:1-5).

Paulus praat hier van toegewyde kerkgangers, maar beskryf hulle as mense met ‘n gedaante van godsaligheid. Hy sê verder dat daardie Christene “altyd leer en nooit tot die kennis van die waarheid kan kom nie” (3:7). Toe Paulus in vers een gesê het dat tye van swaarkry in die laaste dae sou kom, maak hy dit duidelik dat “normale” Christenskap nie volhoubaar sou wees nie. Harde tye openbaar die toestand van ons harte en God wil hê ons moet gevul wees met Heilige Gees krag.

Hoor jy God se Woord verkondig word maar leef jy nie dit wat jy hoor uit nie? As jy opnuut sy krag vrygestel wil sien in jou lewe vandag, besluit in jou hart dat jy God met intensiteit gaan najaag en Hom gaan volg met volkome toewyding.