Die Gees van Moedeloosheid

David Wilkerson (1931-2011)

Toe Koning Dawid ‘n tyd van moedeloosheid en stryd beleef het, het hy uitgeroep: “Ek is krom, heeltemal geboë; die hele dag gaan ek in die rou ... Ek is kragteloos en heeltemal verbrysel; ek brul van die gebons van my hart ... My hart slaan vinnig, my krag het my verlaat; en die lig van my oë, ook dit is nie by my nie” (Psalm 38:7,9,11).

Hierdie psalm toon ons ‘n goddelike, regverdige man wat in wanhoop verval het. Dawid het gesmag na die Here en het sy hart daagliks in gebed voor Hom uitgestort. Hy het God se Woord gevrees, het psalms geskryf wat sy heerlikheid geloof het, maar al wat hy nou kon doen, was uitroep, “Here, ek is raadop en ek het geen idee waarom dit gebeur nie.”

Soos talle moedelose Christene, het Dawid probeer agterkom waarom hy so leeg en gebroke in sy gees gevoel het. Hy het waarskynlik aan elke mislukking, sonde en dwase daad in sy lewe gedink. Hy het uiteindelik geredeneer dat God besig was om hom te tugtig: “o HERE, straf my nie in u toorn nie en kasty my nie in u grimmigheid nie” (Psalm 38:2).

Dawid skryf nie net oor sy eie toestand in hierdie psalm nie. Hy beskryf iets wat alle toegewyde liefhebbers van Jesus op een of ander tyd in hulle lewens beleef. Dit is belangrik om daarop te let dat die gees van moedeloosheid Satan se sterkste wapen teen God se uitverkorenes is. Baie dikwels gebruik hy dit om ons te probeer oortuig dat ons God se toorn oor onsself gebring het deur nie op te weeg teen sy heilige standaarde nie. Maar die apostel Paulus dring by ons aan om nie die prooi van die duiwel se strik te word nie: “Sodat ons nie deur die Satan bedrieg sou word nie; want ons is met sy planne nie onbekend nie” (2 Korinthiërs 2:11).

Paulus sê vir ons dat ons ons moedeloosheid moet sien vir wat dit werklik is – ‘n demoniese wapen. Satan weet dat hy ons nie sover kan kry om van Jesus afvallig te word nie en daarom gooi hy ons toe met wrede leuens. Wanneer dit gebeur, sal die Heilige Gees al die kosbare beloftes van Jesus tot ons herinnering bring.

“Wat die oog nie gesien en die oor nie gehoor en in die hart van ‘n mens nie opgekom het nie, wat God berei het vir die wat Hom liefhet” (1 Korinthiërs 2:9). Waag dit om die ontsaglike goeie dinge wat die Heilige Gees vir jou vertel te glo en laat Hom jou gees tot oorlopens toe vul met bemoediging van die hemelse Vader. Hy het jou lief en sy beloftes is waar!