Die Belangrike Bediening van Gebed

David Wilkerson (1931-2011)

Dink aan hoe dikwels ons gebede op ons eie behoeftes fokus: ons eie geestelike groei en die behoeftes van ons familie en vriende. Ons kan die meeste van ons gebedstyd deurbring om die Here te soek oor ons persoonlike lewe met Hom: om heilig gemaak te word; om te heers oor sonde; om leiding vir ons lewe te kry; om sy salwing te hê. En ons geniet soete gemeenskap met Hom, aanbid Hom stil en word vernuwe in sy teenwoordigheid.

Maar volgens God se Woord, is soete gemeenskap nie genoeg nie. Ja, dit is die geheim van geestelike groei, maar as ons net na die troon toe gaan vir ons eie opbou en behoeftes, dan is ons selfsugtig. Paulus gee ons ‘n voorbeeld hiervan. “Want ons wil nie hê, broeders, dat julle onbekend moet wees met ons verdrukking wat oor ons in Asië gekom het nie, dat ons dit bo ons krag uitermate swaar gehad het, sodat ons selfs aan ons lewe gewanhoop het” (2 Korinthiërs 1:8). Paulus het in wese vir hierdie heiliges gesê, “Ons krisis was so ernstig dat dit amper my uithouvermoë oorskry het.”

Hy het verder gegaan, “Want ook toe ons in Macedónië gekom het, het ons vlees geen rus gehad nie ... van buite was daar aanvegtinge, van binne verskrikkinge” (2 Korinthiërs 7:5). Hoewel Paulus ‘n magtige man van gebed was en groot vertroue in die Here gehad het, het hy moeilike tye beleef. Hy het Hom na die Here en sy beloftes gewend maar Hy was ook met gebed ondersteun deur “helpers” – “God wat ... ons verlos het ... op wie ons hoop dat Hy ons nog sal verlos, terwyl julle ook vir ons saamwerk deur gebed” (2 Korinthiërs 1:10-11)

Een van die grootste behoeftes in die Liggaam van Christus vandag, is die bediening van ‘n gebedshelper. Paulus het dikwels vir gebed gevra en selfs gesmeek daarvoor: “Maar ek vermaan julle, broeders, by onse Here Jesus Christus en by die liefde van die Gees, om saam met my in die gebede te stry vir my by God, dat ek verlos mag word” (Romeine 15:30-31).

Jy kan vandag jou bediening as ‘n gebedshelper begin. Vertrou die Heilige Gees om jou sensitief te maak vir die behoeftes van ander en begin God te vra om hulle behoeftes aan te spreek.

Tags