Onderwerp Jy Jou aan Sy Gesag?

David Wilkerson (1931-2011)

“Want ‘n Kind is vir ons gebore, ‘n Seun is aan ons gegee; en die heerskappy is op sy skouers, en Hy word genoem: Wonderbaar, Raadsman, Sterke God, Ewige Vader, Vredevors” (Jesaja 9:6).

Jesaja praat hier van ‘n wonderlike Vredevors wat kom om te heers oor ‘n koninkryk wat bestaan uit mense wat heeltemal onderwerp is aan die Vredevors se oppergesag. En die Vredevors self, sou liefdevolle raad gee aan diegene oor wie Hy heers, deur hulle te lei en hulle lewens te rig. Natuurlik is Christus die Vredevors waarvan Jesaja hier praat. Sy koninkryk het inderdaad gekom en bestaan in die harte van sy volgelinge. En die heerskappy van die hele skepping rus op hierdie wonderbare Verlosser se skouers.

Jesaja voeg by, “Tot vermeerdering van die heerskappy en tot vrede sonder einde” (9:6). Van nou af tot aan die einde van die tyd, gaan Jesus oor sy koninkryk heers met goddelike orde. Nou, as Christus met oppergesag oor sy koninkryk heers en ons sy onderdane is, dan moet ons lewens deur Hom regeer word. Wat beteken dit presies vir ons om deur Hom regeer te word? Om te regeer beteken “om te lei, te rig en om alle aksies en optrede van hulle wat onder die gesag staan, te beheer.” Kortliks beteken dit dat Jesus al ons dade en optrede moet beheer. Hy moet ons daagliks lei en rig in al ons woorde, dade en in ons gedagtes.

Jesus heers met oppergesag in sy eie koninkryk, die een wat Hy gevestig het in die harte van sy mense. Hy het gesê, “Want die koninkryk van God is in julle” (Lukas 17:21). Dit is in hierdie koninkryk – die koninkryk van ons harte – waar Christus oppermagtig heers oor sy kinders, ons lei, ons genees en heers oor ons aksies en gedrag.

Kan jy met eerlikheid sê dat Jesus se heerskappy oor jou dag vir dag toeneem? Bring jy jou optrede meer en meer onder sy gesag? Laat jou Koning, Jesus, toe om oor jou lewe te heers deur sy Woord en dan sal jy geseënd wees. Trouens, jou lewe sal vol blydskap wees!