Vrymoedigheid om God te Nader

David Wilkerson (1931-2011)

“Volgens die ewige voorneme wat Hy opgevat het in Christus Jesus, onse Here, in wie ons die vrymoedigheid en die toegang het met vertroue deur die geloof in Hom” (Efesiërs 3:11-12). God se kinders het die reg en die vryheid om ons Here te enige tyd lastig te val – een van die grootste voorregte wat ooit aan die mensdom gegee is.

Ons hemelse Vader sit op ‘n troon in die ewigheid en aan sy regterhand sit sy Seun, ons geseënde Here en Verlosser, Jesus. Buite hierdie troonkamer is poorte, wat oop is vir almal wat in Christus is. Te enige tyd – dag of nag – kan ons by beskermengele, serafs en die hele hemelse leër verbygaan om met vrymoedigheid hierdie poorte binne te gaan en ons hemelse Vader se troon te nader. Christus het vir ons direkte toegang tot die Vader beskik, om al die barmhartigheid en genade wat ons nodig het te ontvang, maak nie saak wat ons omstandighede is nie.

Dit was nie altyd die geval nie. In die Ou Testament, het geen mens toegang tot die Vader gehad nie, behalwe ‘n paar uitsonderings. Abraham was ‘n vriend van God genoem en het ‘n mate van toegang tot die Here geniet, maar hy het “buite die voorhangsel” gebly.

Moses, die leier van Israel, het ongewone toegang gehad by God, wat gesê het, “Mond tot mond spreek Ek met hom, en deur aanskouing en nie deur duister woorde nie; en hy sien die verskyning van die HERE” (Númeri 12:6-8). Maar die res van Israel het hierdie soort toegang glad nie geken nie.

Christus se lewe in menslike vlees, het groter toegang tot die Vader gebring, maar selfs dit was beperk. Op die oomblik van Jesus se dood, het die voorhangsel egter letterlik in twee geskeur en ons bestemming was daarmee verseël. Toe Jesus die gees gegee het, was ons algehele, onbeperkte toegang tot die allerheiligste gegee: “Terwyl ons dan, broeders, vrymoedigheid het om in die heiligdom in te gaan deur die bloed van Jesus op die nuwe en lewende weg wat Hy vir ons ingewy het deur die voorhangsel heen, dit is sy vlees” (Hebreërs 10:19-20).

Die Skrif vermaan ons, “Laat ons toetree met ‘n waaragtige hart in volle geloofsversekerdheid ... Laat ons die belydenis van die hoop onwankelbaar vashou, want Hy wat dit beloof het, is getrou” (10:22-23). God dring by ons aan, “Kom in my teenwoordigheid in, dikwels, daagliks. Jy kan nie jou geloof behou as jy nie tot My nader nie. As jy nie met vrymoedigheid my teenwoordigheid betree nie, sal jou geloof wankel.”

Besluit in jou hart om volle voordeel te trek uit God se groot gawe van toegang. Jou ewige toekoms hang daarvan af!

Tags