Jesus Word Nooit Onkant Gevang Nie

David Wilkerson (1931-2011)

“En daar het oorlog in die hemel gekom: Mígael en sy engele het oorlog gevoer teen die draak, en die draak en sy engele het oorlog gevoer ... En die groot draak is neergewerp ... hy is neergewerp op die aarde, en sy engele is saam met hom neergewerp” (Openbaring 12:7-9).

Ons is in ‘n oorlog gewikkel tussen twee ewige magte: Satan se owerhede en magte, en God se enigste Seun, Jesus. Hierdie oorlog het eeue gelede begin met die aartsengel Mígael en ‘n leër engele wat geveg het teen Lucifer en die rebelse engele, wat hulle by hom geskaar het.

Satan het daardie eerste oorlog verloor en was op die aarde neergewerp saam met al die ander opstandige engele (wat uit ‘n derde van al die engele in die hemel bestaan het) en hy het teen God se volk begin oorlog voer. Hy het duiwelbesete mense aangestel om profete, leraars en selfs heersers van nasies te word, en hy het hulle uitgestuur om sy onheilige “evangelie” te verkondig. Maar die duiwel het ‘n probleem gehad. Hy kon nie bekeerlinge deur sy lerings maak of iemand oortuig van sy evangelie nie, omdat dit geen vrede, blydskap of mag oor verslawende sondes gebring het nie. Daarom moes hy hom tot oorlogvoering wend.

Die oorlog wat Satan gevoer het, was nog altyd teen God se volk, diegene wat glo en verkondig dat Jesus Christus Here is. Maar ons Here word nooit onkant gevang nie. Hy ken die einde van die begin en Hy het geweet dat Satan se stroom teen die kerk gestuit moes word voor dit hulle verteer het.

Die Here sê: “Maar vir julle ... sal die son van redding opgaan, en daar sal genesing onder sy vleuels wees ... En julle sal die goddelose vertrap, want hulle sal soos stof wees onder julle voetsole” (Maleági 4:2-3). Wanneer dit lyk of die hel oorwin het, sal die hemel uitroep, “Hulp is onderweg. Moenie vrees nie! Die poorte van die hel sal God se volk nie oorwin nie.”

Wat ‘n dag sal dit wees wanneer goddelose mense sal besef dat die einste Naam wat hulle probeer het om heeltemal uit te wis, nou as Regter voor hulle staan. Ons Here se goddelikheid sal onbetwisbaar wees en elke knie sal buig en elke mond bely dat Jesus Christus die Here is!

Jesus het vir die twaalf dissipels gevra, “Wie sê julle is Ek? En Petrus antwoord en sê vir Hom: U is die Christus” (Markus 8:29). Mag ons antwoord dieselfde wees as Petrus s’n – en mag dit ons belydenis voor die hele wêreld wees, nou en vir altyd. Jesus het die oorlog gewen! 

Tags