Wat die Hart van Jesus Bedroef

David Wilkerson (1931-2011)

“Daar was ’n man van God gestuur, wie se naam Johannes was. Hy het tot ’n getuienis gekom om van die lig te getuig, sodat almal deur hom sou glo. Hy was nie die lig nie, maar hy moes van die lig getuig” (Johannes 1:6-8).

Daar word vir ons gesê dat Jesus die lig van die wêreld is, “sodat almal deur hom sou glo” (1:7). Maar ons lees: “En die lig skyn in die duisternis, en die duisternis het dit nie oorweldig nie ... Hy het na sy eiendom gekom, en sy eie mense het Hom nie aangeneem nie” (1: 5,11).

Ongeloof het nog altyd die hart van Jesus bedroef. Toe Hy in die vlees aarde toe gekom het, het Hy groot lig na die wêreld gebring wat bedoel was om die mense se oë oop te maak. Ten spyte van hierdie wonderlike lig, praat die Skrif van voorbeelde van ongeloof.

Een voorbeeld hiervan word gesien in Betanië toe Jesus ‘n maaltyd geniet het in die huis van sy vriende, Martha en Maria en hulle broer Lasarus, wat Christus uit die dood opgewek het. Op daardie stadium, het daar skares deur die stad gereis op pad na die paasfees in Jerusalem en hulle was van plan om ‘n kykie te kry van die man wat Messias genoem was en die man wat Hy opgewek het (sien Johannes 12:1-9).

In dieselfde hoofstuk, vind ons dat hierdie mense palmtakke swaai en hosannas vir Jesus sing terwyl Hy Jerusalem op ‘n donkie binnery. Hulle sien die vervulling van ‘n profesie waarvan hulle hul hele lewe lank gehoor het (sien Sagaria 9:9). Uiteindelik het ‘n stem uit die hemel gedonder toe die Vader sy eie naam verheerlik het (sien Johannes 12:30).

Al hierdie dinge het voor ‘n groot menigte godsdienstige mense gebeur, maar steeds het die mense 'n vraag gevra wat Jesus absoluut verstom het: “Wie is hierdie Seun van die mens?” (12:34). Hulle blindheid was verbasend en die Here het gewaarsku: “Wandel solank as julle die lig het, sodat die duisternis julle nie oorval nie” (12:35).

Jesus se woorde hier is van toepassing op Christene wat weier om die Woord wat hulle hoor met geloof te meng. Hulle laat na om die lig wat aan hulle gegee is te begryp, te omhels en daarin te lewe, en hulle sal eendag besef: “God praat nie meer met my nie.”

Geliefdes, aanvaar God se wonderwerkende krag in jou lewe; dit sal jou bemagtig om in vryheid en gerustheid te wandel. As daar moeilike tye kom, kan jy met selfvertroue sê: “Ek het u lig gesien, Here. Werk weer u wonderwerke in my!”