Waarskuwings vir die Kerk

David Wilkerson (1931-2011)

Op pad na Jerusalem, het Paulus by Éfese ‘n draai gemaak waar hy ‘n spesiale vergadering van al die kerkleiers belê het. Hy het plegtig vir daardie Efésiese gelowiges gesê, “Dit is die laaste keer wat ek julle sal sien en hierdie is my laaste boodskap aan julle” (sien Handelinge 20:25).

In sy laaste boodskap aan die Efésiërs, het Paulus in wese vir hulle gesê, “Ek was al voorheen by julle en julle weet waarvoor ek staan. Ek het julle met nederigheid en trane gedien. Ek het in julle kerk en van huis tot huis gepreek – alles onder groot beproewing en vervolging. En het het niks van julle teruggehou nie.”

Toe, met trane, het hy hulle hierdie verstandige waarskuwing gegee: “Nou al vir drie jaar lank, het ek julle dag en nag met trane gewaarsku oor wat ek sien met die kerk gaan gebeur nadat ek weg is. Nou wil ek hê dat julle hierdie waarskuwing nog een keer moet hoor” (sien 20:31).

Wat het Paulus gesien kom? Kortliks, Paulus se waarskuwings was nie oor die chaos wat buite die kerk se deure aangegaan het nie, maar hy was bedroef oor wat hy na God se huis sien kom het. Hy het die Efésiërs gewaarsku oor wat hy voorsien het wat met die bediening en spesifiek met die herders sou gebeur aan die hand van bedrieërs wat die kerk sou binnestroom.

“Die Helige Gees [het] julle as opsieners aangestel het om as herders die gemeente van God te versorg, wat Hy deur sy eie bloed verkry het” (20:28). Met ander woorde: “Julle opsieners, julle biskoppe, julle leiers – voed julle kudde met God se suiwer Woord. Wrede wolwe en bedrieërs is op pad en hulle gaan hul visier op die swak skape instel.” Paulus se innige hartsgeroep was, “Herders, luister. Waak oor julleself en julle mense.”

Paulus het aan hierdie manne gesê, “Want ek het nie nagelaat om aan julle die hele raad van God te verkondig nie” (Handelinge 20:27). Wat is die hele raad van God? Die hele raad van God sluit kortliks die moeilike onderwerpe in die Skrif in, nie net die seëninge nie. Dit sluit in die boodskap van goddelike berou oor sonde, van bekering, die kruis opneem, selfverloëning en afsondering van die wêreld.

Geliefde, as een van die skape, maak seker dat jy onder die bediening van ‘n ware herder sit, nie een wat jou net wil laat goed voel nie. Besluit in jou hart om ‘n dienaar van God te wees wat vreesloos, heilig en ten volle gereed is om deel van die liggaam van oorwinnaars te wees wat opstaan in die eindtye.