God se Lankmoedigheid met Spotters

David Wilkerson (1931-2011)

Dit is ongelooflik dat baie mense die skielike wederkoms van Christus vrees. Net die gedagte dat hulle lewe tot ‘n einde gaan kom en ‘n dag van oordeel moet beleef, is so skrikwekkend dat hulle dit uit hulle gedagtes verban. Hoe kan dit waar wees van gelowiges? Volgens Petrus, word hulle lewens gedikteer deur “hulle eie begeerlikhede” (2 Petrus 3:3).

Petrus sê hier dat as jy aan ‘n boesemsonde vashou, die idee dat Jesus sal kom en jou oordeel, die mees vreesaanjaende gedagte is wat ‘n sondaar kan hê. Daarom is die idee om voor God te staan en rekenskap te gee, iets om oor te spot.

Petrus sê, “Dat daar aan die einde van die dae spotters sal kom ... en sê: Waar is die belofte van sy wederkoms? Want vandag die vaders ontslaap het, bly alles soos dit was van die begin van die skepping af” (2 Petrus 3:3-4). Petrus se boodskap is duidelik: “’n Bespotting van God se wet is agter die lighartigheid oor Christus se wederkoms. Dit is haat vir die Bybel, ‘n veragting van die Tien Gebooie, ‘n minagting vir die evangelie. Dit is die oorsaak van al die wetteloosheid, die vertoon van sonde, die kragteloosheid van die kerk. Spotters het ‘n nuwe boodskap: “Christus kom nie. Ons hoef nie ‘n oordeelsdag te vrees nie.”

Net soos Petrus geprofeteer het, is daardie spotters hier vandag. Hulle bespot nie net die wet van die land nie; hulle bespot die wette van God. Hulle fokus is nie die Konstitusie nie, dit is God se Woord. En hierdie spotters is in hoë plekke: in die Kongres, in hooggeregshowe, in kolleges en universiteteite, selfs in kweekskole.

Die Heilige Gees weet presies waarom Jesus nog nie gekom het nie – dit is omdat ons Here lankmoedig is. Hy is geduldig teenoor sondaars en wil nie hê iemand verlore moet gaan nie. In sy genade, wag Hy vir die mees veragtelike sondaar om homself te bekeer, en om daardie rede, sal die Heilige Gees nie sy opdrag laat vaar nie. Spottery sal nie verhoed dat die Gees weer en weer kom, van sonde oortuig en die waarheid van Christus openbaar nie.

Aan die einde van hierdie eeu, maak die Heilige Gees ‘n laaste, middernag oproep, “Jesus kom!” “Daarom moet julle ook gereed wees, want die Seun van die mens kom op ‘n uur dat julle dit nie verwag nie” (Matthéüs 24:44).

“Amen, ja kom, Here Jesus” (Openbaring 22:20). Christus se spoedige wederkoms behoort jou hart opgewonde te maak!