Staan Sterk Wanneer Dinge Uitmekaarval

David Wilkerson (1931-2011)

“Mag genade en vrede vir julle vermeerder word deur die kennis van God en Jesus, onse Here! Immers, sy goddelike krag het ons alles geskenk wat tot die lewe en godsvrug dien, deur die kennis van Hom wat ons geroep het deur sy heerlikheid en deug” (2 Peter 1:2-3).

Ons almal weet dat Christene in die eerste eeu groot vervolging beleef het. Hulle het ernstige beproewings, moeilike tye en lewe-en-dood vervolgings gely. Maar hulle het nie onder die spanning meegegee nie. Paulus sê dat die kerk in Thessalonika die verlies van alles wat hulle besit, beleef het, maar tog was hierdie gelowiges nie ontstel deur die belewenis nie.

Paulus het hulle sterkte toegeskryf aan die krag van die Heilige Gees: “Want ons evangelie het tot julle nie gekom in woord alleen nie, maar ook in krag en in die Heilige Gees en in volle versekerdheid ... En julle het navolgers van ons geword en van die Here deurdat julle die woord in baie verdrukking ontvang het met die blydskap van die Heilige Gees” (1 Thessalonicense 1:5-6).

Hierdie gelowiges het “baie verdrukking” gely, maar tog het hulle ware blydskap besit. Hulle het nie oor hulle omstandighede gekla en God bevraagteken nie. In plaas daarvan, het daardie liggaam van gelowiges gejuig. En Paulus het vir hulle gesê, “Sodat julle voorbeelde geword het vir al die gelowiges in Macedónië en Acháje. Want van julle uit het die woord van die Here weerklink ... ook op elke plek het julle geloof in God uitgegaan” (1:7-8).

In Amerika, is die grootste probleem spanning. Oral is daar angs oor die toekoms, oor werksekuriteit. Sommige families is op die rand daarvan om alles te verloor en swig voor wanhoop. Menige bejaarde mense ly omdat hulle nie vir hulle medikasie kan betaal nie en dit is hartverskeurend.

Te midde van al hierdie chaos, is daar hoop! Jy sien, binne-in ons lewe die Gees van Almagtige God en sy Christus. Die Heilige Gees werk in ons met groot krag ... op hierdie oomblik! Sy krag word vrygestel as ons Hom aanvaar as ons lasdraer. Die Heilige Gees was om hierdie rede aan ons gegee, om ons laste en bekommernisse te dra.

Geliefde, God het al Paulus se beproewings toegelaat en dit het die apostel gedwing om nie op homself te vertrou nie, maar om die Heilige Gees volkome te vertrou om hom te red. Die Skrif sê, “en, nadat julle alles volbring het, staande kan bly” (Efésiërs 6:13). Laat God alles doen en Hy sal jou verlossing laat plaasvind.