Onderskei Tussen God se Stem en Valses

David Wilkerson (1931-2011)

“Ek sal die HERE loof wat my raad gegee het; selfs in die nag vermaan my niere my. Ek stel die HERE altyddeur voor my; omdat Hy aan my regterhand is, sal ek nie wankel nie” (Psalm 16:7-8). Dawid sê in wese, “God is altyd by my teenwoordig en ek is vasbeslote om Hom in my gedagtes te hou. Hy lei my getrou dag en nag. Ek hoef nooit verward te wees nie.”

Sommige Christene sê, “Die Here praat nooit met my nie. Ek hoor nooit sy stem nie.” Ek bevraagteken dit egter opreg. Hoe kan ons sê dat God se Gees in ons leef en werk, maar tog praat Hy nie met ons nie? As ons sê dat ons in die Gees leef en wandel – as Hy altyd in ons harte teenwoordig is, altyd aan ons regterhand, gereed om ons lewens te rig – dan wil Hy met ons gesels. Hy begeer dialoog, om van ons te hoor en in ons lewens in te spreek.

Sommige gelowiges is bang om na “innerlike stemme” te luister. Jy dink jy sal op die ou end deur jou vlees mislei word, of nog erger, deur die vyand. Dit is sekerlik ‘n geldige bekommernis vir elke dienaar van Jesus. Die duiwel het immers ook met Christus self gepraat. En hy praat selfs met die heiligste van God se kinders vandag.

Maar gewoonlik, word so ‘n versigtigheid ‘n verlammende vrees wat verhoed dat baie Christene in geloof optree en God se Gees vertrou om getrou hulle stappe te rig. Maar in werklikheid, sal diegene wat tyd in God se teenwoordigheid spandeer, leer om sy stem van alle ander te onderskei. Jesus het van Homself gesê, “En die skape volg hom [die herder], omdat hulle my stem ken ... My skape luister na my stem, en Ek ken hulle, en hulle volg My” (Johannes 10:4,27).

Hier is ons beskerming: Jesus, die Goeie Herder, sal nooit toelaat dat Satan enige heilige, wat ten volle op sy blywende teenwoordigheid vertrou, mislei nie. Hy belowe om duidelik te praat met almal wat daagliks met Hom kommunikeer. Daarenteen, as ons nie in geloof uitstap nie – as ons weier om in die Here se leidende teenwoordigheid vertrou – sal ons in misleiding verval. Waarom? As ons nie toelaat dat sy Gees met ons praat nie, sal die enigste stem wat ons hoor, ons eie vlees wees.

God wil vandag met jou praat. Hy doen dit deur sy Woord, deur ‘n godvresende vriend, of deur die Gees se rustige, sagte stem wat fluister, “Dit is die weg, wandel daarin.”