Ons Huidige Werklikheid in Lyn Bring met die Hemel

David Wilkerson (1931-2011)

Daar word vir ons gesê dat Christus self ons in ‘n hemelse posisie saam met Hom geplaas het. As dit egter so is, dan lewe talle Christene ver benede die beloftes wat God gegee het. Dink daaraan: as ons werklik in Christus lewe en saam met Hom in die troonkamer van die hemele sit, hoe kan ‘n gelowige steeds ‘n slaaf van sy vlees wees? Ons is om ‘n rede ‘n posisie in Hom gegee. Maar talle in Christus se liggaam het dit nog nie opgeëis of toegeëien nie.

Paulus sê: “Wat Hy [God] gewerk het in Christus toe Hy Hom uit die dode opgewek het en Hom laat sit het aan sy regterhand in die hemele, bo alle owerheid en mag en krag en heerskappy en elke naam wat genoem word, nie alleen in hierdie wêreld nie, maar ook in die toekomstige. En Hy het alle dinge onder sy voete onderwerp en Hom as Hoof bo alle dinge aan die gemeente gegee” (Efésiërs 1:20-22).

Die meeste Christene het geen probleem daarmee om te glo dat Christus daar is nie. Ons verkondig, “Jesus is nou op die troon. Hy is bo alle owerhede en magte, ver buite Satan se bereik.” Ons vind dit egter moeilik om die volgende waarheid te aanvaar: ons is “saam opgewek en saam laat sit in die hemele in Christus Jesus” (2:6). Ons kan glo dat Christus reeds in daardie hemelse posisie is en langs die Vader sit. Maar ons kan nie aanvaar dat ons ook daar by Hom in dieselfde troonkamer sit nie. Jesus het egter self reeds vir ons gesê, “Ek gaan om vir julle plek te berei” (Johannes 14:2).

Vir talle klink dit soos ‘n fantasie, een of ander teologiese illusie: “Jy bedoel, ek hoef nie my lewe te leef deur warm en koud, en op en af te wees nie? Ek kan my intimiteit met Christus intakt hou?”

Ja, absoluut! Paulus sê: “Geseënd is die God en Vader van onse Here Jesus Christus, wat ons geseën het met alle geestelike seëninge in Christus Jesus” (Efésiërs 1:3). Let op waar Paulus sê dat alle geestelike seëninge in die troonkamer uitgedeel word. Al die rykdom van Christus is daar vir ons beskikbaar: volharding, krag, rus en toenemende vrede.

Paulus maak dit kristalhelder: om die seëninge in Christus deur ons te laat werk, moet ons saam met die Here in die troonkamer van die hemel sit! Die enigste weg na die troonlewe is deur die pad van opoffering: “Dat julle jul liggame stel as ‘n lewende, heilige en aan God welgevalle offer” (Romeine 12:1).

Tags