Glo vir ‘n Oes

David Wilkerson (1931-2011)

“En toe Hy die skare sien, het Hy innig jammer gevoel vir hulle, omdat hulle moeg en uitgeput was, soos skape wat geen herder het nie. Toe sê Hy vir sy dissipels: Die oes is wel groot, maar die arbeiders min. Bid dan die Here van die oes, dat Hy arbeiders in sy oes mag uitstuur” (Matthéüs 9:36-38).

Is Jesus se woorde rakende ‘n ryp oes vandag van toepassing? Waar sien ons die bewyse dat die lande wit en gereed is om geoes te word? Is daar ‘n uitroep vir heiligheid in hierdie geslag? Met ‘n paar uitsonderings, gebeur hierdie dinge nie. Dit is egter nie een van hierdie dinge wat Jesus in sy tyd aangeraak het nie. Hy was eerder aangeraak deur die hartseer omstandighede wat hy oral gesien het. Oral waar Hy gekyk het, was mense oorweldig deur angs. Trouens, toe Hy oor Jerusalem uitgekyk het, het Hy geween oor die hardheid en geestelike blindheid wat Hy gesien het (sien Lukas 19:4). Hier was ‘n volk op pad na oordeel, met geen vrede nie, net vrees en depressie.

Jesus gee ons in werklikheid ‘n toonbeeld van hoe die laaste dae sal lyk. “En daar sal tekens wees aan die son en maan en sterre, en op die aarde beboudheid van nasies in hulle radeloosheid ... en mense se harte beswyk van vrees en verwagting van die dinge wat oor die wêreld kom” (Lukas 21:25-26). Kortliks, Jesus beskryf hier die mees anstige, depressiewe, gespanne geslag van alle tye.

Word sy profesieë nou vervul, voor ons oë? Hierdie geslag is vol angs en bekommernis. Ek hoor Jesus se woorde: “Die lande is wit. Die oes is groot.” Hy sê in wese vir sy kerk, “Mense is gereed om te hoor. Dit is die tyd om vir ‘n oes te glo, ‘n tyd vir jou om te begin insamel!”

Christus is die Here van die oes en Hy sê vir ons, “Hou op om op die probleme rondom jou te fokus en, in plaas daarvan, kyk op en sien dat die oes gereed is.” As arbeiders, is ons die oeswerktuie in die Here se hande. God soek diegene wat voor die wêreld sal staan en verkondig, “God is met my! Satan kan my nie keer nie. Kyk net na my lewe. Ek is meer as ‘n oorwinnaar deur Christus wat in my leef!”