Glo Jy in Wonderwerke?

David Wilkerson (1931-2011)

“Toe het Jesus sy dissipels na Hom geroep en gesê: Ek voel innig jammer vir die skare, omdat hulle al drie dae by My bly en niks het om te eet nie; en Ek wil hulle nie graag honger wegstuur nie, sodat hulle nie miskien op die pad beswyk nie” (Matthéüs 15:32).

Ek glo dat Christus hier ‘n verklaring teenoor sy dissipels gemaak het. Hy het in wese gesê: “Ek gaan meer vir die mense doen as om hulle te genees. Ek sal sorg dat hulle genoeg brood het om te eet. Ek is besorgd oor alles wat hul lewens beïnvloed. Julle moet sien dat Ek meer is as net krag. Ek is ook medelye. As julle My net sien as ‘n geneesheer, ‘n wonderwerker, sal julle My vrees. Maar as julle My ook as deernisvol beskou, sal julle My liefhê en vertrou.”

Ek skryf hierdie boodskap vir almal wat op die rand van uitputting is, amper beswyk en oorweldig word deur jou huidige situasie. Jy is ‘n getroue dienskneg en voed ander, vol vertroue dat God die onmoontlike vir sy kinders kan doen. Tog twyfel jy oor sy bereidwilligheid om in te gryp in jou stryd.

Ek vra myself af hoeveel lesers van hierdie boodskap woorde van geloof en hoop verkondig aan ander wat in moeilike, skynbaar hopelose situasies verkeer? Jy spoor hulle aan: “Byt vas! Die Here kan. Hy is ‘n wonderwerkende God en sy beloftes is waar. Moet dus nie hoop verloor nie, want Hy sal jou roepstem verhoor.”

“Glo jy regtig in wonderwerke?" Dit is die vraag wat die Heilige Gees aan my gestel het. My antwoord was: “Ja, natuurlik, Here. Ek glo in elke wonderwerk wat ek in die Skrif lees.” Hierdie antwoord is egter nie goed genoeg nie. Die vraag wat die Here aan elkeen van ons stel, is in werklikheid: “Glo jy dat Ek ‘n wonderwerk vir jou kan doen?" En nie net een wonderwerk nie, maar ‘n wonderwerk vir elke krisis en elke situasie wat ons beleef. Ons het meer as Ou-Testamentiese wonderwerke, Nuwe-Testamentiese wonderwerke en vergange wonderwerke van die geskiedenis nodig. Ons het opgedateerde, persoonlike wonderwerke nodig wat net vir ons en ons situasie bedoel is.

Dink aan die een probleem waarmee jy nou te kampe het, jou grootste behoefte, jou mees ontstellende probleem. Jy het al so lank daaroor gebid. Glo jy regtig dat die Here dit kan en sal laat uitwerk op maniere waaraan jy nie kan dink nie? Hierdie soort geloof beveel die hart om op te hou bekommerd wees of vrae te vra. Dit sê vir jou om in die Vader se sorg te rus en te vertrou dat Hy dit alles op sy manier en tyd sal doen.

Tags