Jou Pad na Vryheid Deur Lief te Hê

David Wilkerson

‘n Pragtige jong paartjie, beide geestelike kinders van my, het onlangs in sonde verval en was gedwing om uit hulle bediening te bedank. Vir amper ‘n week lank het hulle weggekruip in ‘n afgesonderde motelkamer, huilend, angstig en wanhopig oor die lewe. Hulle het deur God verlaat gevoel, verraai deur vriende en nutteloos vir hulleself en vir die koninkryk van God.

Die jong bedienaar het homself amper oortuig dat selfmoord die enigste uitweg was. Hy was oorweldig met skuldgevoelens en droefheid – en het gewonder of God hom ooit kon vergewe omdat hy skande oor Sy Naam gebring het. Teen die tyd wat hulle my geskakel het, was hulle heeltemal verteer met wanhoop. Ek kon skaars my emosies beheer toe sy vra, “David, het jy ons steeds lief? Ons het God teleurgestel – ons het jou teleurgestel en my man wil sy eie lewe neem. Maar as jy hom kan verseker dat jy hom steeds liefhet, sal dit sy lewe red.”

Hom liefhê? Hulle liefhê? O, hoe jammer was my hart vir hulle. Ek het hulle nog altyd liefgehad, maar nou in hulle hartseer, het ek hulle nog liewer gehad. Hulle is nou by my en word herstel tot geestelike en fisieke gesondheid.

Maar my liefde vir hulle kon hulle nie genees nie. Hulle was steeds innerlik gewond. Hoewel hulle in hulle harte geweet het dat God teen hulle moes optree weens sonde en aanhoudende ongehoorsaamheid, het dit hulle steeds diep seergemaak om skielik eenkant toe geskuif te word – werkloos, onnodig, onwelkom. Vriende, wat opreg gedink het hulle verdedig God se heiligheid, het vir hulle gevra om nooit weer terug te keer nie.

Die skielikheid van dit alles, die hardheid, die skynbare gebrek aan deernis, het hulle vol bitterheid en afsku gelaat. Die Heilige Gees het aan my openbaar dat die jong bedienaar se sonde van terugkeer na heroïen nie die probleem was nie. Dwelmverslawing was die vrug van iets baie ernstiger in God se oë – en dit was bitterheid.

Al die berading in die wêreld kan ‘n mens in die greep van bitterheid nie help nie. Gebed kan dit nie breek nie. Bybelstudie alleen kan dit nie genees nie. Die wortel van bitterheid moet eers erken word, dan uitgeruk word. En hierdie jong, afvallige bedienaar het geweet hy kon nooit weer herstel word tensy al sy haat en veragting weg was nie.

Die woord wat tot my gekom het vir hom, was eenvoudig die volgende – “Seun jy kan jou pad na vryheid terugkry deur lief te hê.” Ek het by hom aangedring om – dadelik – op sy knieë te val en God aan te roep vir bonatuurlike krag om lief te hê en almal te vergewe teen wie hy verbitterd was. Die Heilige Gees het liefdevol gewaarsku dat hy vinnig moet vergewe en moes leer om diegene wat hy as vyande beskou, lief te hê – of sy bediening en sy huwelik verloor. Tensy die bitterheid onmiddellik uitgeruk was, sou hy geskei en terug op die strate beland as ‘n hulpelose verslaafde.

Wat ‘n blydskap om hom op sy knieë te sien val, met sy dierbare vrou aan sy sy, en tot God uitroep vir bonatuurlike krag om lief te hê en almal te vergewe teen wie hy wrokke gehad het. Dit het in hom opgebou oor ‘n tydperk van sewe jaar en nou het dit uitgebars in strome trane van berou en goddelike droefheid. Hy het my omhels terwyl die blydskap van die Here teruggestroom het in sy wese. Hulle huwelik het ‘n wonderlike genesing beleef soos die muur van bitterheid verkrummel het.

Maar die genesing was nie volkome nie. Die vryheid was nog nie ten volle en finaal nie. Restitusie moes gedoen word. Gewillig het hy almal gekontak teen wie hy ooit verbitterd was. Met ware nederigheid, het hy hulle vergifnis gevra en vir hulle gesê hy sou hulle van nou af liefhê en vir hulle bid. Met elke oproep, was sy gees aangevuur. Hy was verwonderd oor hulle reaksie. Hulle wou steeds sy vriendskap hê. Hulle het vrylik vergewe en hulle voortgesette liefde en ondersteuning aangebied.

Die genesing gaan voort terwyl beide leer om hulle pad na vryheid terug te kry deur lief te hê. Watter onnodige las het hulle vir so lank gedra. Al daardie tyd, kon heerlike, soete vryheid en oorwinning hulle s’n gewees het – as hulle net die krag van liefde verstaan het.

Ek het ‘n paar belangrike lesse geleer deur God se genesende werk in die lewens van hierdie herstelde paartjie waar te neem. Ek kan nou duideliker sien waarom Paulus, die apostel, so welsprekend kon praat oor om “in die liefde gewortel en gegrondves” te wees. Ook, hoe liefde die doel is van die Wet en die profete. Christus self het vir ons gesê dat die hele Wet en die profete volkome aan liefde vir God en ons naaste soos onsself hang. Nog belangriker:

Ons moet ons pad na gehoorsaamheid terugkry deur lief te hê!

Een of ander tyd, moet hierdie geslag besef dat die meeste van ons probleme op onsself gebring word as gevolg van ons eie ongehoorsaamheid. Ons is blind vir die droefheid wat ons sonde vir die hart van God veroorsaak. Ons beskouing van sonde is te ligsinnig en lighartig en ons verstaan steeds nie dat ons ongehoorsaamheid die gevolg is daarvan dat ons Christus nie waarlik liefhet nie.

Jesus maak dit so duidelik dat ons Hom kán gehoorsaam as ons Hom liefhet. Dit is omdat ons liefde vir Christus koud geword het dat ons voortgaan met sonde en ongehoorsaamheid. Wanneer ons vasgevang word in die web van ons sondes, is ons meer begaan oor ons reputasie as hoe ons die Saligmaker bedroef het. In plaas van bedroef wees oor die manier waarop ons ongehoorsaamheid Sy hart gebreek het, is ons bekommerd oor wat ander van ons sal dink. Hoe selfsugtig.

Die Heilige Gees help my om my pad terug lief te hê deur vir my kritieke realiteite te wys waarmee ek moet afreken.

I – Smart en ellende is dikwels die vrug van ongehoorsaamheid.

Dink aan al die lydende mense in die land. Huwelike verbrokkel en veroorsaak smart en pyn vir soveel wat betrokke is. Menigtes lewe onder ‘n wolk van skuldgevoelens en wanhoop. Daar is vandag Christene wie se lewens oorstroom is met ellende en hartseer. Nooit was daar soveel hartseer, leegheid, eensaamheid en verwerping nie. Slegs God weet hoeveel Christene hulleself aan die slaap huil, of wat nie kan slaap nie weens depressie, angs, eensaamheid en wanhoop.

Selfs die bediening ly. Herders en evangeliste is “uitgebrand.” Hulle bely gevoelens van moegheid en geestelike droogheid. Faber beskryf hulle dilemma die beste. Hy het van sekere bedienaars gesê – “Hulle hardloop rond, hulle hardloop ondertoe, dan wil hulle weghardloop.”

Dank God, baie van hulle keer terug na die binnekamer, terug na gehoorsaamheid en heiligheid. Maar vir ander is hulle probleme en hartseer so groot dat hulle daarvan sou wegvlug as hulle kon.

Wat veroorsaak al hierdie ellende en kommer? Is dit net die tye waarin ons lewe of is dit iets baie dieper.

Daar is twee redes vir die heersende stroom van ellende en kommer. Dit is moontlik dat Satan diegene “bydam” wat die heiligste en kosbaarste in God se koninkryk is. Die Skrif waarsku, “’n Hoer (Satan) ... maak jag op ’n kosbare lewe...” (Spreuke 6:26).

‘n Christen se heiligheid en reinheid kan Satan lok en veroorsaak dat hy teen hulle uitvaar en hulle vervolg. Hy kan die regverdiges treiter en vervolgers oprig om hulle te verdruk. Satan het gekom teen die toegewyde Job en die God-verteerde apostel, Paulus. Ja, dit is moontlik om te ly om geregtigheid se onthalwe.

Maar gewoonlik is dit net die teenoorgestelde. Ons ongehoorsaamheid dwing God om teenstanders op te rig om ons die verskriklike loon van sonde te leer. God, in sy liefde vir ons, moet drastiese stappe neem om ons te keer dat ons onsself vernietig. God tree nooit op uit wraak nie, maar altyd uit liefde. Maar o, hoe ernstig kan dit soms wees! En, ons beter hierdie waarheid verstaan, of op die ou end oorgegee word aan ons sondes.

Enige student van die Ou Testament kan geredelik sien hoe gou God diegene, wat volhard in ongehoorsaamheid, verdruk. Koning Salomo het dekades van vrede en voorspoed geniet terwyl hy aan God gehoorsaam was. Toe word hy ongehoorsaam, verval in sonde en skielik het die Here het teëstanders teen hom opgerig. Een van die wysste, mees voorspoedige mense van alle tye was ongehoorsaam en het ellende en droefheid oor homself gebring.

  • “So het Salomo dan gedoen wat verkeerd was in die oë van die HERE en nie volgehou om die HERE te volg...nie” (1 Konings 11:6).
  • “Daarom was die HERE toornig op Salomo, omdat sy hart afgewyk het van die HERE...maar hy het die bevel van die HERE nie gehou nie” (1 Konings 11:9,10).
  • “Daarom het die HERE...gesê: Omdat...jy my verbond en my insettinge wat Ek jou beveel het, nie hou nie, sal Ek verseker die koningskap van jou afskeur en dit aan jou dienaar gee” (1 Konings 11:11).
  • “En die HERE het vir Salomo as teëstander verwek Hadad, die Edomiet” (1 Konings 11:14).
  • “God het ook as teëstander vir hom verwek Reson, die seun van Éljada...En hy was ’n teëstander van Israel al die dae van Salomo...” (1 Konings 11:23,25).

Dink daaraan! Toe Salomo God gehoorsaam en nederig voor Hom gewandel het – het alles goed gegaan. Toe daar vrede was, was daar geen vyande wat teen hom kon opstaan en hom skade doen nie. Toe was sy hart verlei, hy het gesondig, hy het vasgeval in ‘n leefstyl van toegee en ongehoorsaamheid – en skielik het vyande verskyn. Goddelose vyande, wat God se volk verag het, het begin om Salomo en almal wat om hom was te vervolg en te teister.

Let op – “God het hulle verwek,” en hulle aangepor om teen sy ongehoorsame dienaar in opstand te kom. Toe Salomo gedoen het wat reg was, het God al sy vyande in vrede met hom laat woon. Hy het homself waarskynlik nooit bekeer nie. Hy het te vasgevang geraak in sy ongehoorsame weë en die res van sy lewe deurgebring om teen al die vyande wat God teen hom verwek het te veg.

So was dit met Jeróbeam, Rehábeam, Abía, Nadab, Baésa, Simri, Omri, Agab, Joram – en baie ander ongehoorsame, goddelose konings wat “die HERE, die God van Israel...[ge]terg [het] met hulle nietige afgode” (1 Konings 16:13).

Toe die konings gehoorsaam en regverdig was, het God hulle koninkryke voorspoedig gemaak en net rus en vrede vir hulle gegee. Maar sonder uitsondering, het almal wat ongehoorsaam was, in voortdurende vrees gelewe en was altyd bang vir magtige vyande.

Ek het die tragiese stories van al daardie konings wat “kwaad gedoen het in die oë van die Here,” herhaaldelik gelees en ‘n heilige vrees het my hart aangegryp. Ek weet dit is ‘n feit dat baie van my eie hartseer en swaarkry oor die afgelope jare veroorsaak was deur my eie ongehoorsaamheid. Daar was dinge wat ek geweet het God mee wou afreken in my – dinge wat ek geweet het verkeerd was – dinge wat ek moes bely en laat staan – maar tog het ek voortgegaan met ongehoorsaamheid en gedink ek het geen krag om dit te weerstaan nie. En, ek het die verskriklike gevolge van ‘n swak hart, vrees, geestelike droogheid, angs en ellende van oral af gely. Dit het gelyk of God sê, “Omdat jy nie gewillig is om jou te onderwerp en alles te laat staan wat My bedroef nie, moet Ek jou tugtig, in liefde, sodat jy my erns teen sonde sal verstaan, en jou sal onderwerp...selfs al moet dit deur goddelike vrees wees.”

Die jong paartjie wat hulle bediening verloor het, het jarelank gelukkig aangegaan, geseënd, voorspoedig en gerespekteerd. Hulle het gesondig en vinnig tragedie en verdriet op hulleself neergebring.

Let op: Die Bybel sê dit reën op die regverdiges en onregverdiges. Jy mag werkloos wees of andersins swaarkry – ‘n slagoffer van moeilike tye. Liefdevolle vertroue en gehoorsaamheid sal egter steeds gou jou swaarkry in oorwinning verander. God se reputasie is op die spel – Hy kan nie lieg nie!

II – Gehoorsaamheid open die sluise van al die heerlikheid en geestelike rykdom van Christus!

Dit was gesê van Christus dat Hy verdra het en gehoorsaam was aan Sy hemelse Vader, nie weens vrees nie, maar weens die vreugde wat Hom voorgehou was. Hy het alle laste afgelê, Hy het die resies met geduld gehardloop, Hy het die skande verdra, Hy het nooit beswyk of moedeloos geword nie, omdat Hy die heerlike belonings van gehoorsaamheid beleef het. Onuitspreeklike Blydskap! Heilige vrede! Rus! Vryheid! Volheid! Openbaring!

Heiliges van God – behoort ons nie siek en sat te word van al die swaarkry en hartseer nie – soveel so sodat ons sou begin smag na die heerlike rykdomme wat belowe is in Christus? O, geliefdes, vrees is nie die beste motief vir gehoorsaamheid nie – Liefde is! Goddelike dreigemente was uiteindelik geïgnoreer deur die kinders van Israel. Selfs God se hoorbare stem, Sy skrikwekkende gedonder en ontsagwekkende teenwoordigheid, kon nie die ongehoorsame Israeliete daarvan weerhou om te dans rondom die goue kalf nie. Slegs ‘n diepe, blywende liefde vir God kon hulle daarvan weerhou om ongehoorsaam te wees.

Dit is heerlike oorgawe aan die wil van God wat die hemel vir ons oopmaak. Dit is die aflê van elke sonde, elke daad van ongehoorsaamheid, wat ons die openbaring toelaat van wie Christus werklik is. Die Skrif sê, “Elkeen wat in Hom bly, sondig nie. Elkeen wat sondig, het Hom nie gesien en Hom nie geken nie” (1 Johannes 3:6).

Kan dit moontlik wees dat ons, deur in ongehoorsaamheid te lewe, Hom nie meer ken nie? Kan dit wees dat ons voortgaan om toe te gee aan ons begeertes omdat ons nooit ‘n openbaring van Christus gehad het nie, Sy haat vir sonde, Sy absolute heiligheid, Sy heerlikheid en barmhartigheid? In gewone taal, “Hy wat in ongehoorsaamheid lewe, het nooit werklik Christus gesien of Hom werklik geken nie.”

Jesus het gesê, “Wie my gebooie het en dié bewaar, dit is hy wat My liefhet; en wie My liefhet, hóm sal my Vader liefhê, en Ek sal hom liefhê en My aan hom openbaar...” (Johannes 14:21).

Watter groter beloning vir liefdevolle gehoorsaamheid kan ons wil hê as dat Christus Homself aan ons openbaar? Watter eenvoudige formule vir so ‘n groot openbaring. “Wees lief genoeg vir My om My te gehoorsaam – Ek sal jou dan liefhê en vir jou wys wie Ek is!” Lees alles wat jy kan oor Hom, bestudeer Sy natuur, Sy historiese agtergrond – maar jy sal Hom nooit leer ken nie, totdat jy so ‘n eenvoudige, basiese ding doen soos om Hom volkome te gehoorsaam in alles.

Jesus het van Nataniël, “Hier is waarlik ’n Israeliet in wie daar geen bedrog is nie...van nou af sal julle die hemel geopend sien...” (Johannes 1:47-51).

Die presiese oomblik waarop ons oorgee en onsself verbind aan absolute gehoorsaamheid, word ‘n wonderlike genesende krag in ons innerlike mens geopenbaar. Geen angstigheid meer teenoor God, of vir die hel, of vir toorn nie. Geen vrees meer vir dit wat mense aan ons kan doen nie. In plaas van hartseer, pyn, ellende en angs – begin die Gees van God om ons te oorstroom met nuwe lig, nuwe hoop, groot blydskap, heerlike vrede en oorvloedige geloof.

Ons is gereed om God en die wêreld in die oë te kyk en hardop uit te roep – Ek is rein! Sy bloed het my gereinig. Sy kruis het my ou natuur gekruisig. Ek kies nou om te gehoorsaam! Ek kies om alle afgode te verlaat en deur geloof alle sataniese vestings neer te werp. Ek wil God se beste hê – die openbaring van Homself.

Gevolgtrekking:

Ek is oortuig dat die meeste Christene presies weet waar hulle probleem lê. Hulle weet wat God vir hulle sê. Hulle weet wat hulle behoort te doen en móét doen. God het lank gelede sy vinger op hulle ongehoorsaamheid gelê, en hulle beveel om hulle sonde te laat staan en hulle aan Hom te onderwerp.

Die Gees se boodskap aan die kerk in hierdie middernaguur is – GEHOORSAAMHEID! Deur gehoorsaamheid wil Hy hê ons moet in volheid, vrede, en rus kom. En slegs deur liefde kan ons gehoorsaam en sulke vryheid vind.

Op 3 Meil 1983, 3:30 in die oggend, het die Heilige Gees vir my die volgende boodskap gegee. Dit kom uit my dagboek, maar dit kan vir jou ook wees (uit Psalm 19:7-14).

  1. Gehoorsaam God ten alle koste, gee alle drome en planne oor (vs. 8)
  2. Sy getuienisse (waarskuwings) is betroubaar (vs.8)
  3. Daardeur word ons gewaarsku (vs.12).
  4. Jou sonde is foute wat God nie kan toelaat nie. (vs. 13).
  5. Jy kan gereinig word van alle boesemsondes (vs. 13).
  6. Sonde moenie meer heerskappy oor jou voer nie (vs. 14).
  7. Gehoorsaamheid sal vir jou ‘n groot beloning bring (vs. 12).
  8. Alles wat jy doen en sê sal dan opreg en aanvaarbaar wees vir God (vs. 14,15).
  9. Hy sal jou sterkte word (vs. 15).
  10. God sal jou oë verlig en jou wys in sy weë maak (vs. 9).

Ons is nie geregverdig deur gehoorsaamheid nie, maar slegs deur genade. Gehoorsaamheid is nie verdienste nie, maar ‘n liefdevolle reaksie op God se barmhartigheid. Gehoorsaamheid berei ons bloot voor om die volle openbaring te ontvang van alles wat Christus in en deur ons kan wees. Dit is iets wat ons doen om ons liefde en dankbaarheid te betoon vir Christus se versoenende werk.

‘n Verbintenis tot algehele gehoorsaamheid het ‘n groot genesing binne-in my gebring. Die geestelike belonings is so heerlik, dat ek wil hê almal moet hierdie liefdevolle weg na vryheid beleef.

“Maar aan die wat eiesinnig en aan die waarheid ongehoorsaam, maar aan die ongeregtigheid gehoorsaam is — grimmigheid en toorn; verdrukking en benoudheid oor die siel van elke mens wat kwaad doen, oor die Jood eerste en ook oor die Griek; maar heerlikheid en eer en vrede vir elkeen wat goed doen, vir die Jood eerste en ook vir die Griek...” (Romeine 2:8-10).