Die Ander Kant van die Steen

Gary Wilkerson

“En Josef het die liggaam geneem...en dit in sy nuwe graf gelê wat hy in die rots uitgekap het; en nadat hy ‘n groot steen teen die opening van die graf gerol het, het hy weggegaan" (Matthéüs 27:59–60).

Jesus was pas gekruisig en het nou in ‘n graf gelê. Toe ‘n massiewe steen teen die opening gerol was om die ingang te seël, het almal die gevoel van finaliteit gehad.

Die Skrif sê ‘n groep vroue, insluitende Maria Magdalena, het oorkant die graf gesit. Hierdie vroue se harte moes gebreek gewees het. Ek kan amper die wanhoop in hulle stemme hoor: “Wat sal nou gebeur noudat Jesus weg is? Hoe sal ons aangaan?”

Vandag ken ons die einde van die storie.  Ons weet dat toe Jesus aan die kruis gesê het, “Dit is volbring,” het Hy sonde oorwin. Ons weet dat Hy met sy opstanding die dood oorwin het. En ons weet dat Hy dit alles vir ons gedoen het.

Maar wat as ons, soos die vroue by die graf, nie die einde van die storie geken het nie? Wat het die elf dissipels gedink toe hulle op ‘n veilige afstand agter geslote deure weggekruip het (sien Johannes 20:19)?

Ek dink nie ons kan verstaan wat Jesus se dood vir sy passievolle volgelinge beteken het nie. Hulle het geglo dat hulle Meester die hoop van die wêreld was, die verlossing van Israel en die lig vir die Heidene. Hy was die groot Geneesheer, Hy het die dooies opgewek, die gevangenes vrygelaat en die evangelie aan die armes verkondig. Hy was die verpersoonliking van die nuwe koninkryk wat Hy verkondig het.

Terwyl hulle teruggedink het aan sy woorde, “Dit is volbring,” moes hulle gedink het dat dit beteken, “Dit is verby. Ek het alles wat Ek kon gedoen, maar kon dit nie laat gebeur nie. Dit is die einde van die storie.”

Al te dikwels glo Christene hierdie boodskap terwyl hulle deur die beproewings van die lewe gaan. Hulle sien geen hoop op uitkoms vir hulle moeilike situasie nie. Al wat hulle kan sien is ‘n steen wat permanent in plek gerol is om hulle van alle hoop te skei.

Hulle het egter dinge van hierdie kant van die steen gesien. Soos die vroue by die graf of die moedelose dissipels, is al wat hulle voor hulle kan sien, nederlaag. Hulle hoop het gesterf — einde van die storie.

As hulle maar net geweet het dat God aan die ander kant van die steen aan die werk was.

As ons nie weet wat aan die ander kant van die steen besig is om te gebeur nie, kan ons lewens met trauma en vrees gevul wees.

Aan hierdie kant van die steen, word huise deur die bank opgeroep en verloor. Finansies stel teleur. Huwelike spat uitmekaar. Sonder die hoop van die Opstanding — sonder om Christus se oorwinning vir ons te ken — kan ons beproewings vir ons soos die einde van die storie klink.

Miskien het die lewe jou met ‘n harde, onbegaanbare situasie getref. Terwyl jy hier lees, wonder jy, “Is God aan die werk in my omstandighede? Is Jesus regtig triomfantlik — in my? Kan Hy my regtig van hierdie situasie red? Kan hy regtig genesing bring? Ek sien nie ‘n uitweg vorentoe nie.”

Soos die dissipels, vra sommige Christene hierdie vrae agter “geslote deure.” Hulle sluit hulleself emosioneel van God af en kan nie langer hulle harte voor hom uitstort nie. Hulle wil so graag vrygewende, liefdevolle dienaars wees, maar hulle voel ontledig van alle hoop.

Dit is die aansig op hierdie kant van die steen.

Ek glo daar was nog iemand op hierdie toneel wat nie verby die ander kant van die steen kon sien nie.

Waar dink jy was Satan tydens hierdie drie-dag periode van Christus se dood, begrafnis en opstanding? Onthou die duiwel is nie alomteenwoordig nie. Net God is te alle tye oral. Satan se demone mag oral oor die wêreld gestasioneer wees waar hulle gif spoeg, maar die vyand self is nie. Hy kan net in een plek wees.

So waar was hy tydens die Kruisiging? Daar is geen manier wat ons volgens die Bybel die antwoord kan ken nie, maar ons kan ons dit verbeel. Persoonlik glo ek dat Satan by die kruis teenwoordig was. Ek verbeel my hoe hy homself verheug het in elke aspek van Jesus se lyding — elke hou van die gésel, elke hou van ‘n soldaat se vuis, elke slag wat die hamer geslaan het om spykers in sy hande en voete in te slaan.

Dit sou Jesus se laaste ure gewees het — en ek verbeel my die Satan begin opgewonde die tyd aftel: “Dit is dit — die einde van Jesus. Ek het oor die Seun van God getriomfeer! Duisternis sal nou vir altyd heers. Jesus, as jy net voor my gebuig het, kon ons nou saam oor elke koninkryk van die wêreld geheers het. Maar dit is wat gebeur wanneer jy nie vir my kies nie. Jy verloor — en ek wen!”

Dan sien ek Satan by die graf, terwyl hy kyk hoe die soldate die steen op sy plek rol om die ingang te seël. Toe daardie rots met ‘n doef toegeslaan het, dink ek die Satan moes ‘n uitroep van oorwinning gegee het. Hy het sy mede-demone geroep, “Dit is tyd om fees te vier. Ons het gewen! Ons gaan so ‘n groot partytjie hou wat die wêreld nog nooit beleef het nie.”

Terwyl ek sien hoe die Satan sy oorwinning verklaar, begin daar ‘n magtige skudding.

Skielik toe dinge op die slegste lyk, begin ‘n geratel. Die grond begin rommel en skud. Ek sien hoe die Satan in die middel van sy sin stop om te sien hoe die reusagtige, onbeweeglike steen vorentoe en agtertoe beweeg. Laastens veroorsaak die skudding dat die steen heeltemal wegrol, terwyl die demone bewe.

Hulle sien ‘n verblindende ligstraal uit die graf skyn. Hulle kan ‘n liggaam uitmaak — opgestaan, verlig en staande in die ingang. Dan kom daar ‘n stem uit daardie lig vervulde ingang: “Satan, jy het my in die hakskeen gebyt, maar ek gaan op jou kop trap.”

Dit is die woord wat ons Here vir ons teisteraar gegee het: “Die partytjie is verby, duiwel. Jy is oorwin. Die reuk van die dood wat jy gebring het, is nou weg. Ek eis hierdie grond vir my oorwinning.”

Terwyl jy hier lees, dink jy dalk, “Ek het nodig dat Jesus in my situasie verskyn om te sien hoe Hy namens my op Satan se kop trap. As Hy nie aan die ander kant van die steen vir my werk nie, is alles verby.”

Jy sien, aan hierdie kant van die steen, kan ons voel dat daar geen hoop en geen toekoms vir ons is nie. Maar glo jy dat daar iets besig is om aan die ander kant van die steen te gebeur? Hoor jy daardie ligte rommel? Kan jy voel hoe dit onder jou skud?

Ek praat natuurlik figuurlik — maar onderskei jy die tekens dat Jesus aan die werk is vir jou? Daar mag net ‘n klein krakie van lig in daardie groot steen wees, maar dit is al wat jy nodig het. Op ‘n stadium in sy eie heerlike tyd, sal Jesus deur daardie ingang tree tot in die toneel van jou lewe — en jou beproewing sal binne ‘n oomblik verander word.

Ek wil drie stories aan jou vertel wat ons daaraan herinner dat ons Here aan die werk is vir ons aan die ander kant van die steen.

1. ‘n Liefdesbrief aan ‘n Mislukking

Ek het ‘n vriend met die naam Eric, wat ‘n baie moeilike kinderlewe gehad het. Sy pa het hom oor en oor vertel, “Jy is ‘n mislukking, ‘n niksnut. Jy sal nooit iets bereik nie.”

Soos Eric ouer geword het, het hy dwelms begin gebruik, “Ek het ‘n slegte verslaafde geword. Eers was ek sleg met die kwaliteit van die dwelms. Ek het allerhande soorte gemeng wat my dood kon veroorsaak het. Maar ek was ook sleg met dwelmverslawing. My naald sou breek of ek sou te min kontant hê om my gewoonte te voed. Ek het soos ‘n mislukking gevoel, selfs as ‘n dwelmverslaafde.”

Eric se lewe het ‘n totale gemors geword. Sy verslawing het hom van elke sent beroof. Een nag het hy besluit om ‘n kafee te beroof om meer dwelms te koop — maar selfs daarmee het hy misluk. Hy het ‘n wapen uitgepluk en geskree, “Almal teen die muur!” Maar die kafee was so vol dat die mense nie almal teen die mure kon pas nie en Eric het verward weg gehardloop.

Hy het uiteindelik besluit om sy eie lewe te neem. Dus het hy die geweer wat hy vir die rooftog wou gebruik geneem om homself te skiet. Maar hy het die geweer laat val en toe dit afvuur het dit hom in die sy gewond. Terwyl Eric na die hospitaal toe gery het, het hy gedink, “Ek is so ‘n groot mislukking dat ek nie eers selfmoord kan pleeg nie.”

Nadat hy behandel is, het Eric in totale wanhoop op die strate geloop. Diep binne in homself was hy kwaad vir God wat hom ‘n lewenslange mislukking gemaak het. Uiteindelik het Eric uitgeroep na die God oor wie hy nooit omgegee het nie en gevra, “Is U ooit daar? Is daar enige rede vir my om te lewe?”

Eric het gehoor hoe ‘n stem vir hom sê, “Ek stuur vir jou ‘n liefdesbrief.” Op een of ander manier het hy geweet dat dit die stem van Jesus was.

Toe Eric op ‘n randsteen gaan sit het, het reënwater onderdeur hom in die sloot geloop. Hy het ‘n klein pamflet na hom toe sien dryf en Eric het dit opgetel. Dit was ‘n traktaatjie met die titel, “Daar is Hoop vir die Dwelmverslaafde.”

Die traktaatjie was deur ‘n groep met die naam, Victory Oureach, gepubliseer. Eric het die bediening se adres nageslaan, daarheen gegaan en sy lewe vir Jesus gegee. Gou was hy verlos van sy verslawing. Hy het elke slegte gewoonte gestaak — insluitende sy geloof dat hy bestem was om ‘n mislukking te wees. Jesus het Eric in alle aspekte ‘n nuwe mens gemaak.

Hierdie jongman het gedink dat sy lewe verby was — maar dit het net begin. Hy kon nie die lewe — die opstandingslewe — sien wat Jesus aan die ander kant van die steen al die tyd vir hom beplan het nie.

Min of meer ‘n jaar later, het Eric na my toe gekom met ‘n versoek: “Het jy enige werksopeninge vir ‘n jong bedienaar wat genees, vrygemaak en aan die brand is vir die Here?” Ons het — en ek het die voorreg gehad om God se krag keer op keer deur Eric te sien werk in ons bediening. Hy het oor en oor getuig, “Jesus het vir my ‘n liefdesbrief gestuur. En Hy stuur nou vir jou ook een.”

Dink aan al die liefdesbriewe wat Jesus op hierdie oomblik aan die ander kant van die steen skryf.

2. Herstel van die Onherstelbare

‘n Paartjie wat ek ken was vir meer as ‘n dekade getroud toe die vrou die man vir die tweede keer verlaat het. Hierdie paartjie was nie die soort wat aanhoudend geargumenteer,  geneul of verskille gehad nie. Die moeilikheid was dat die vrou ‘n wêreldse aantrekking in haar hart gehad het. Sy was sterk aangetrek deur die partytjie wêreld en sy het haar man verlaat om weer daarnatoe terug te keer.

Dieselfde ding het jare tevore gebeur. Daardie keer het sy hom verlaat en het met ander mans begin hoereer. Die nagmerrie het homself hierdie keer herhaal omdat sy hom vir ‘n tweede keer verlaat het. Sy het egter weereens na hom teruggekeer.

Hierdie man was platgeslaan. Hy aan my gesê, “Toe sy dit die eerste keer gedoen het, het dit my hart gebreek. Die pyn was meer as wat ek kon verdra. Ek het nie geweet of ek haar ooit weer sou kon liefhê nie. Ek het haar teruggeneem en ons het gesukkel, maar ons het daardeur gekom.

“Nou is daar geen manier nie. Ek weet ek kan haar nie weer hierna liefhê nie. Ek is verby seerkry — ek voel niks nie. Maar, hoe vertrou ek haar ooit weer? Hoe kan ons ‘n toekoms saam hê wanneer sy bewys het sy sal dit keer op keer doen?”

Almal wat hierdie paartjie geken het, het nie gedink hulle huwelik sou dit oorleef nie. Baie het hom raad gegee om van haar te skei en aan te gaan met sy lewe. Die man het egter toe al besef dat God besig was om aan die ander kant van die steen te werk. Die Here het in sy hart gefluister, “As jy haar sal liefhê op die wyse wat ek jou liefhet, sal jou huwelik herstel word.”

Die man het dit weerstaan. Dit was vir hom pynlik om selfs weer te hoop. Dit was selfs pynliker om te probeer vertrou. Maar God het sy belofte gestand gedoen. Vandag is daardie paartjie weer saam. Hulle is in die kerk, aanbid en prys God saam. Hulle is versoen en genees en het mekaar innig lief.

Hulle huwelik is ‘n getuienis van God se vermoë om dit wat onherstelbaar lyk, te herstel. Selfs die mees beskadigde, gebroke verhouding is nie buite bereik van sy opstandingskrag nie. Hierdie huwelik het die lewe anderkant die graf nodig gehad – en dit is presies waar Jesus besig was om vir hulle te werk: aan die ander kant van die steen.

3. Oorwinnaar van Alle Boosheid

Net ‘n paar weke gelede, terwyl ek op ‘n bank in die park gesit het, het ek ‘n getattoëerde tiener met die naam van Ricky ontmoet. Hy het ywerig sy storie vir my vertel. Hy was van die die middestad van Chicago en sy pa het hulle familie verlaat toe Ricky nog ‘n baba was.

Ricky se ma het weer getrou en die man wat sy stiefpa geword het, het Ricky fisies en seksueel mishandel. Een nag toe die man Ricky se ma begin slaan het, het die seun probeer om tussenbeide te tree. Ricky se stiefpa het hom so vreeslik geslaan dat hy in ‘n bebloede bondel op die kombuisvloer beland het.

Daarna het Ricky homself begin sny. Op hierdie stadium van sy storie het hy gestop om sy moue op te rol en dosyne letsels oor sy hele arm aan my te wys.

Hy het verder gegaan, “Drie maande gelede was ek in die park saam met ‘n vriend. Hy het anders gelyk en ek het hom gevra wat gebeur het. Hy het gesê, ‘Ek het ‘n man ontmoet en sy naam is Jesus, wat my vrygemaak het van al my sonde. Hy het my gereining en genees. Ricky, ek wil hê dat jy dié Jesus leer ken wat ek ontmoet het.’” Daardie dag het Ricky se lewe vir die Here gegee.

Ricky het toe sy ander mou opgerol en vir my ‘n inskripsie op sy arm gewys en gesê, “Die dag toe ek Jesus ontmoet het, het ek hierdie tattoo laat opsit.” Dit het gelees: "Ek sal U dank betuig, want U het my geantwoord. U het my verlossing geword."

Ricky was verlore in hierdie wêreld, letterlik daardeur neergeslaan. Maar Jesus het van ander kant van die steen met hom gepraat: “My liefde oorwin alle boosheid.”

Vandag ken Ricky nie net die vreugde van die opstandingslewe nie. Hy ken ook die vryheid wat daarmee saamkom om vergewe te wees...en ander te vergewe.

‘n Storie word steeds geskryf.

Ek praat nie tattoo’s goed nie, maar ek glo dat Ricky se tattoo ‘n sekere waarheid oor elke gelowige verteenwoordig. Dit is: Jesus skryf steeds aan ons lewens Hy is die begin en einde van ons geloof – en Hy is nog nie met enigeen van ons klaar nie.

Jy mag dalk op hierdie oomblik die grootste beproewing van jou lewe deurgaan. Maar die opgestane Christus is ter wille van jou aan die ander kant van die steen aan die werk. Hy skryf sy storie in jou situasie in — ‘n storie van opstandingslewe wat uitbars oor ‘n toneel wat eens deur die dood regeer is.

Satan sal jou probeer mislei deur jou te laat dink dat alles verby is, dat die graf toe is. Maar Jesus vertel vir jou, “Ek het deurgebreek. Die duiwel het nie die laaste woord nie. Die dood het nie langer ‘n angel nie. Lig het nou die duisternis oorwin en my liefde het alle boosheid oorwin.”

Daar staan Hy in die deur: jou hoop, jou verlossing, jou genesing. Christus se oorwinning het al jou mislukkings oorwin. Sy krag kan jou vrymaak van verslawing. Sy genesing kan jou gebroke verhouding herstel. En sy liefde het elke boosheid wat jou probeer neerslaan, oorwin. Geen duisternis kan Hom keer nie.

Is daar op hierdie oomblik ‘n steen tussen jou en God se verlossing? Ek sê vir jou, God is op hierdie oomblik aan die werk in jou lewe. (Hy is nooit nie aan die werk nie!) Die steen word weggerol. Lig breek deur. En daar staan jou hoop in die deur: Jesus. Hy het getriomfeer oor al die magte van die duisternis — en sy oorwinning is joune deur geloof.