Neem Jou Godstorie in Besit

Gary Wilkerson

Baie Christene is tans besig om met die grootste struikelblokke in hulle lewens te deel. In my eie gemeente lyk dit of mense ondeurganklike berge moet trotseer. Hulle het te doen met werksverlies, rekeninge wat ophoop en toekomstige behoeftes wat vinnig nader. Huwelike is onder spanning, geliefdes is siek en kinders sukkel met geloof.

Ons gemeente kan maklik ‘n voorbeeld wees van wat reg deur Amerika gebeur. Mense sukkel met lewenskostes — nie net finansieel nie, maar ook emosioneel en geestelik.  Baie dink, “Ek kan nie verby die berg voor my sien nie. Dit is te groot.” Hulle kan nie anders as om te wonder, “Hoe gaan hierdie storie eindig?”

Ek het ‘n boodskap vir jou. Dit maak nie saak hoe treurig dinge in jou lewe mag lyk nie, daar is ‘n “Godstorie” wat te midde van al hierdie dinge plaasvind. Dit is waar vir elkeen wat die Here liefhet en hulle vertroue in Hom plaas.

Wat presies is ‘n Godstorie? Hier is vier eienskappe:

Dit is ‘n gebeurtenis wat net beskryf kan word in terme van God wat opdaag om namens ons op te tree.

Dit het ‘n positiewe uitkoms wat net deur God se duidelike ingryping moontlik gemaak is.

Daardie uitkoms kan net verduidelik word in terme van God se krag en liefde.

Daar is ‘n totale verandering van omstandighede, geleenthede en mense – alles wat net deur God moontlik gemaak is.

Waar sien ons Godstories plaasvind? Hulle vind plaas in ons lewens. Dit is een manier waarop God kies om met die wêreld te praat. Hy hou daarvan om te wys dat alles wat in die lewens van sy dienaars gebeur, nie net ‘n lukrake reekse van gebeurtenisse is nie — maar dit is ‘n Godstorie.

Nêrens is dit duideliker as in die lewe van die profeet Elísa nie. Ek wil oor vier dinge praat wat God vir sy mense doen wanneer ons ondeurganklike berge moet trotseer.

1. God het onbeperkte bronne om ons gebrek aan te spreek.

Die eerste wonderwerk van Elísa  se storie vind in 2 Konings 4 plaas. ‘n Arm weduwee het in ‘n vreesaanjaende situasie beland. Haar man het gesterf en haar alleen agtergelaat om twee kinders om op haar eie groot te maak. Toe sy nie haar verpligtinge kon nakom nie, het die krediteure begin dreig. In daardie dae, het krediteure nie net jou besittings geneem nie — hulle het ook jou kinders geneem.

Hierdie vrou was desperaat en sy het by Elísa gepleit: “En ‘n sekere vrou uit die vroue van die profete-seuns het na Elísa geroep en gesê: U dienaar, my man, is dood, en u weet self dat u dienaar die Here gevrees het; nou het die skuldeiser gekom om my twee kinders vir hom as slawe te neem" (2 Konings 4:1).

Elísa  was die hoof van ‘n groep profete, mans van jonk en oud, wat reg deur Israel bedien het. Hierdie vrou het by Elísa  gepleit, “My man was in jou skool. Hy was altyd getrou aan God. Wees my genadig en help my.”

Elísa kon haar in daardie oomblik bygestaan het. Hy kon gesê het, “Wanneer ek tempel toe gaan, sal ek hulp van die stoorkamer vra. Daar is ‘n fonds wat aan weduwees toegewys word. Ek sal vir jou krediteure sê dat ek jou fondse die volgende keer wat ek daar verbykom sal saambring.”

Dit sou sekerlik die antwoord op haar gebede wees. Maar God het Elísa op ‘n ander manier gelei. Die Here was van plan om iets magtigs in hierdie vrou se krisis te doen. Hy was op die punt om te openbaar hoe die Godstorie vorm aanneem.

In werklikheid gebruik God ons dilemmas om sy Naam te verheerlik. En om daardie rede, kan ons eie Godstorie gevorm word deur pyn of uitstel. Een in tien Amerikaners is werkloos. Ander moet ‘n verminderde besoldiging aanneem. In sommige huise moet beide gades twee werke doen om te keer dat hulle alles verloor wat hulle het.

Miskien het jy in jou eie dilemma geredeneer, “As ek nie ‘n deurbraak kry nie, is dit verby. Ek het ‘n wonderwerk nodig om te oorleef.” Ek glo hierdie vrou het dieselfde gedink.

Elísa het vir haar gevra, “Wat kan ek vir jou doen? Gee my te kenne wat jy in die huis het" (2 Konings 4:2). Hy het haar nie gevra om haar kosbare besittings vir kontant te verkoop nie; sy het nie enige waardevolle besittings oorgehad nie. In wese het Elísa gesê, “God kan jou in jou huidige toestand tegemoet kom net soos jy is. As jy geloof het, kan Hy selfs die kleinste dingetjie wat jy het, vermenigvuldig.”

Die weduwee het geantwoord, “Al wat ek het, is een flessie olie.” Ons weet uit die Skrif dat olie, God se seën en voorsiening verteenwoordig. Op hierdie stadium het Elísa vir haar vreemde instruksies gegee: “Gaan leen vir jou van buite af kanne, leë kanne van al jou bure; leen nie te min nie" (2 Konings 4:3).

Sy het gedoen soos die profeet opdrag gegee het. Toe het Elísa beveel, “Gaan dan in en sluit die deur agter jou en jou seuns toe, en giet in al daardie kanne en sit weg wat vol is" (2 Konings 4:4). Weereens het sy Elísa se woorde gehoorsaam. En terwyl sy die olie van haar eie flessie uitgegiet het, het dit die volgende fles gevul. Dieselfde ding het ook met die volgende geleende fles gebeur; dit het ook vol geword. So ook die volgende. En die volgende. Dit was ‘n onophoudelike voorsiening van olie!

Die punt wat ek wil maak is: Wanneer God aan ons sê dat hy ons noodsaaklikhede sal voorsien, is dit nie net ‘n klein bietjie nie. God het alles wat ons nodig het. Sy vermoë om ons situasie tegemoet te kom, is eindeloos.

Die flesse in hierdie storie verteenwoordig ons kapasiteit vir geloof. Hoe meer “flesse” ons na God bring, hoe meer vul Hy ons. Natuurlik kan ons soms so desperaat word dat ons op die vlees staatmaak vir hulp. Maar God toon ons hierdie gebeurtenis in die weduwee se lewe om ons te herinner dat Hy ons voorsiening is. Hy mag ‘n persoon gebruik om ons nood aan te spreek, maar aan die einde van ons krisis sal dit onteenseglik ‘n Godstorie wees.

Dit is die getuienis wat God aan die weduwee gegee het. Nie net was haar behoefte vervul nie, maar nou het sy ‘n kragtige getuienis vir haar bure gehad: “Hierdie fles was leeg toe jy dit vir my geleen het. Maar God self het dit gevul!”

Elísa het toe vir haar gesê, “Gaan verkoop die olie en betaal jou skulde; van die orige kan jy en jou seuns dan lewe" (2 Konings 4:7). Wat ‘n verstommende redding. Hierdie desperate vrou se krisis was nou ‘n Godstorie — een van geloof in God se krag om alles wat sy ooit nodig sou hê, te voorsien.

2. Deur sy magtige ingryping het God die swakkes in staat gestel om alles wat teen hulle gekom het te oorwin.

Later in Elísa  se storie het die magtige volk van Aram opgetrek om Israel aan te val. Maar God het aan Elísa elke beweging wat Aram beplan het, geopenbaar. Daarom was die profeet in staat om Israel se leër te waarsku en hulle buite gevaar te hou.

Die Aramese leër het bestaan uit magtige battaljonne, groot waens en die nuutste wapens. Tog is hulle elke beweging in die wiele gery as gevolg van een man, Elísa. Dit het die Aramese koning, Bénhadad, woedend gemaak. Uiteindelik het hy moed verloor en sy aanvalle op Israel gestaak en sy hele weermag op Elísa gerig: “Gaan kyk waar hy is, dat ek hom kan laat vang" (2 Konings 6:13).

In die tyd, het Elísa in Dotan gewoon. Die Skrif sê, “So het hy (die koning) dan daarheen perde en strydwaens en ‘n swaar leër gestuur, en hulle het in die nag gekom en die stad omsingel" (2 Konings 6:14). Die volgende oggend het Elísa se dienskneg wakker geword en die vyand by die hek gesien. Hy het paniekerig na Elísa geroep, “Ag, my heer, hoe sal ons maak?" (2 Konings 3:15).

Het jy al ooit soos hierdie dienskneg gevoel? Jy het ‘n vloedgolf van probleme na jou toe sien aankom en jy het geweet dat dit bo jou vermoë was om dit te hanteer. Paniekerig het jy uitgeroep, “Daar is geen uitweg vir die probleem nie. Dit is te groot. Hoe sal ons maak?”

Op sulke tye word ons gebede verander in kommer sessies. Getroue uitroepe is nou skielik vol angs en paniek. Ons vertel vir onsself, “Daar is geen manier waarop God ons hieruit kan haal nie. Waarvoor hoop ons nog?”

Wat het Elísa toe gedoen? Hy het sy dienskneg geantwoord, “Vrees nie; want die wat by ons is, is meer as wat by hulle is" (2 Konings 6:16). Wat ‘n vreemde reaksie. Elísa se dienskneg moet seker gedink het dat hy sy kop verloor het. Maar Elísa het vir hom gebid en gesê, “Here, open tog sy oë, dat hy kan sien" (2 Konings 6:17). Skielik het Elísa se dienskneg gesien wat onsigbaar vir die blote oog was: “En die Here het die oë van sy dienaar geopen, dat hy kon sien, en meteens was die berg vol perde en waens van vuur rondom Elísa" (2 Konings 6:17).

Gedurende my jare in Texas het ek manjifieke perde gesien. Maar selfs die magtigste perd was vaal in vergelyking met die wesens wat Elísa se dienskneg daardie dag gesien het. God se storie was bonatuurlike ingryping!

Op hierdie oomblik in jou krisis is die kanse teen jou miskien 10,000 teen 1. Maar Elísa se storie wys dat 10,000 maar ‘n klein aantal is wanneer dit gemeet word teen die ontelbare aantal engele wat in God se diens is. Jy mag oorweldig en in getal oortref voel — maar God verloor nooit. Hy blaas nooit die aftog nie en Hy onderhandel nooit. Hy is met jou te midde van jou stryd sodat Hy jou bonatuurlik kan red.

Net soos Elísa se dienskneg kan jy vra, “Hoe sal ons maak?” God het jou reeds in Elísa se storie geantwoord: “Vertrou op die Here.” Wanneer alles lyk of dit misluk — wanneer jy voel of daar geen hoop meer oor is nie en dat jy op pad is om ‘n nederlaag te ly — dan tree God se storie in en verander alles.

Elísa het gebid dat God al die Aramese soldate wat hulle omsingel het, verblind — en die Here het presies dit gedoen. Binne ‘n oomblik was duisende krygsmanne magteloos en het om hulp rondgetas. Elísa het hulle veilig weg van die stad af gelei. Die eindresultaat was as volg: “En die bendes van die Arameërs het verder nie meer in die land van Israel gekom nie" (2 Konings 6:23).

Vir Israel was dit nog ‘n les in geloof-bou. Elísa het aan God se volk gewys dat, “Om die Here aan jou kant te hê, is beter as die wêreld se magtigste leër. Vertrou op Hom!”

Inderdaad, deur al hierdie gebeurtenisse heen, het Elísa gedoen wat enige herder geroep is om te doen. Hy het die mense se geloof opgebou. Hy het Israel gewys dat God in elke krisis getrou is om hulle deur te dra, maak nie saak hoe hopeloos dit gelyk het nie.

3. God voorsien ‘n laaste minuut oorwinning wanneer ‘n nederlaag seker lyk.

Koning Bénhadad van Aram mag sy aanvalle op Israel gestaak het, maar hy het nie sy aanslag op God se volk gestaak nie. Hy het besluit, “Ek sal my fokus rig op ander dele van hierdie volk — Samaría!” “En daarna het Bénhadad, die koning van Aram, sy hele leër versamel en opgetrek en Samaría beleër" (2 Konings 6:24).

Teen hierdie tyd was daar ‘n vreeslike hongersnood in Samaría. Die Aramese leër het strategies gekeer dat alle voedsel die stad binne gegaan het. Dinge het gou agteruit gegaan en desperaat geword. Mense het alles wat hulle gehad het vir ‘n krummeltjie kos verkoop: “Hulle het dit beleër todat ‘n eselskop tagtig sikkels silwer...werd was" (2 Konings 6:25).

Samaría se koning was geskok deur wat gebeur het. Hy het al die blaam op Elísa geplaas. Hy het gesweer dat hy die profeet teen die volgende dag sou doodmaak en het ‘n boodskapper gestuur om hom te vermoor.

Toe die boodskapper daar aangekom het, het Elísa se vriende hom gekeer om in sy huis te kom. Tydens die dooie punt het die boodskapper vir Elísa geskree, “En die koning sê: Kyk, hierdie onheil kom van die Here; wat sou ek langer op die Here wag?" (2 Konings 6:33). Kortliks, die koning het geen geloof gehad nie. Hy was daarvan oortuig dat God Samaría verlaat het en dat hulle self moes optree.

Wat was Elísa se antwoord? “Hoor die woord van die Here!” (2 Konings 7:1). Dit is wyse raad aan enige Christen wat ‘n krisis het. Wanneer jou situasie buite jou beheer geraak het en jy ‘n seker nederlaag verwag, dan is dit die regte tyd vir jou om aan God se Woord herinner te word.

Elísa het aan die boodskapper gesê: “Môre omtrent sulke tyd sal ‘n maat fynmeel ‘n sikkel, en twee mate gars ‘n sikkel kos in die poort van Samaría" (2 Konings 7:1). Met ander woorde: “Moenie aan Bénhadad se leër oorgee nie. Kos sal so oorvloedig wees dat ‘n nietige sikkel alles sal koop wat jy kan eet.”

Die boodskap agter Elísa se woorde was die volgende: “God is op die punt om alles vir julle in een dag te verander. Julle het gedink julle gaan verwoes wees. Maar julle ‘nederlaag’ is op die punt om ‘n Godstorie te word.”

Die boodskapper het in ongeloof gespot: “Al maak die Here ook venster in die hemel, sou dit kan gebeur?" (2 Konings 7:2). Hy het geweet dat Samaría se koning gereed was om oor te gee. Maar Elísa wou hulle ongeloof in geloof verander. Hy het geweet dat God reeds namens hulle aan die werk was.

Teen daardie tyd het vier melaatses sterwend van die honger tussen Samaría en Aram se kamp gesit. Uiteindelik het hulle vir mekaar gesê, “Waarom hier sit en doodgaan? Laat ons na die Aramese kamp gaan en bedel vir kos. Hulle sal ons of doodmaak of ons genadig wees. Wie weet, dalk sal God ons help. Maar enige van die twee keuses is beter as om hier dood te gaan.”

Toe die melaatses die Aramese kamp genader het, het hulle besef dat die vyand gevlug het. (Hulle was bonatuurlik verskrik en weggejaag!) Die beste van alles was dat die Arameërs al hulle kosvoorrade agter gelaat het. Daarom het die melaatses ‘n fees gehad. Nadat hulle hulself versadig geëet het, het hulle na Samaría gehardloop om die koning te vertel van die oorvloed van beskikbare kos.

Dit is ongelooflik, maar die koning het hulle nie geglo nie. Hy het gedink dat dit ‘n lokval vir ‘n hinderlaag was. Maar toe die mense in die stad daarvan hoor, het hulle in geloof opgetree: “Toe gaan die volk uit om die laer van die Arameërs te plunder; en ‘n maat  fynmeel het ‘n sikkel gekos, en twee mate gars ‘n sikkel, volgens die woord van die Here" (2 Konings 7:16).

Dink daaraan. Samaría se koning was minder as ‘n dag weg van oorgawe aan die vyand. Tog het God reeds vir hom die oorwinning behaal!

Jy mag op die absolute randjie van ‘n nederlaag wees. Maar God wil vir jou doen wat Hy in sy Woord belowe het. As jy in geloof aan sy Woord vashou, sal Hy getrou wees om dit tot stand te bring.

4. God gee nie gedeeltelike oorwinnings nie, maar algehele triomf.

Dit is die les van Elísa se lewe. En wat is die les? Die beroemde profeet was op sy sterfbed. Die koning van Israel, Joas, het hardop gehuil omdat Israel se groot profetiese lig op die punt was om te sterf. Hy het Elísa se groot geloofswerke in herinnering geroep, “My vader, my vader, wa van Israel en sy ruiters!" (2 Konings 13:14).

Elísa wou aan die koning hoop bring. Hy het die koning beveel om pyle in die lug te skiet. Joas het dit gedoen en toe het Elísa  hom aangesê om met die pyle op die grond te slaan. Joas het dit gedoen en het met die pyle drie keer op die grond geslaan.

Wat Elísa volgende gedoen het, was verbasend. Hy het kwaad geword vir die koning en aan Joas gesê, “Jy moes vyf of ses maal geslaan het; dan sou jy die Arameërs vokome verslaan het; maar nou sal jy die Arameërs drie maal verslaan" (2 Konings 13:19).

Dit mag nog een van die vreemde tonele in Elísa se lewe wees. Maar in werklikheid was God se profeet ernstig daaroor om geloof te bou. Hy het die koning vertel, “Hoe durf jy so min van God verwag! Jy kon Aram vyf of ses keer verslaan het, maar jy was tevrede met net drie keer.”

Elísa se woorde is vandag steeds op elke gelowige van toepassing. Ons Here wil hê dat ons verder as beperkte oorwinnings gaan. Deur die Godstories wat Hy voorsien, moet ons geloof op geloof bou...oorwinning op oorwinning...om gedurig honger te wees dat Hy optree en nie te skik nie. Elísa sê vir ons, God wil vir jou so baie oorwinnings gee as wat jy gewillig is om te neem. Hou aan om die grond in geloof te slaan!”

Dit is nie ‘n hartelose bevel nie, maar dit is diep deernisvol. God wil hê dat elke lewensmaat wat in ‘n hartseer huwelik is, moet weet, “Ek wil nie hê dat jy daarmee tevrede moet wees nie. Ek wil hê dat elke skeuring volkome genees sal word, nie net gedeeltelik nie. Ek wil hê dat jy die volste vreugde sal ken om mekaar lief te hê. Dit is my plan vir jou.”

Daar is ‘n Godstorie vir elke sukkelende paartjie...vir elke finansiële krisis...vir elke vervreemde ouer en kind.

Dit maak nie saak wat jou situasie is nie, bid saam met jy: “Here, maak ons oë oop vir U storie in ons krisis. Te midde van ons nood, vul ons flesse. In ons moeilike stryd, wys ons die waens van vuur. En op die randjie van die nederlaag, herinner ons daaraan dat U reeds besig is om ons vyande te verdryf. Raak ons geloof aan dat ons sal aanhou om die grond in geloof te slaan. En herinner ons om ons rus in U te soek. Ons weet dat elke beproewing ‘n geleentheid is om die wêreld te verander deur u Godstorie."

Mag God jou oë oopmaak vir die wonderwerk wat hy in jou familie se stryd...in jou finansiële probleem...in jou lydende geliefdes begin doen het. Jou rekeninge is nie groter as God se voorsiening nie. Jou siekte is nie sterker as sy genesende krag nie. Hy het jou omring met waens van vuur. Al die magte van die hemel is tot sy beskikking om jou te beskerm en Hy bring reeds jou oorwinning. Amen!