Hoe om Gelukkig te Leef

Wil God hê ons moet gelukkig wees? Dit is ‘n groot vraag vir talle Christene. Die kerk het vir meer as ‘n geslag nie ‘n duidelike antwoord hieroor gegee nie. Van begin tot einde, gee die Bybel ons egter ‘n baie duidelike antwoord en dit is bedoel om die manier waarop ons lewe te transformeer.

Geluk is ‘n tans ‘n relevante onderwerp, omdat mense tans ongelukkiger is as ooit. Dit mag verbasend klink weens al die voortuitgang wat die mensdom maak. Ekonome vertel vir ons dat ons die mees welgestelde geslag in die geskiedenis is. Vandag het mense meer geld en hulpmiddele as ooit tevore. Ons het meer plesierighede en vermaak as enige ander tyd. Die dertigjarige geslag het grootgeword met X-Box en PlaySation met ontelbare speletjies letterlik op hulle vingerpunte. Hulle kan een videospeletjie na ‘n ander speel, in alle variasies en dan nog steeds nie die einde van daardie speletjies in hulle leeftyd bereik nie.

Ons het ook meer moderne geriewe as ooit. As my vrou, Kelly, ‘n reis vir enige tydperk neem, kan ek oorleef deur net van ‘n mikrogolf gebruik te maak vir alle maaltye wat ek verlang, ontbyt, middagete of aandete.

Mediese vooruitgang vermeerder jaar na jaar. Eenvoudige inentings red miljoene lewens van virusse wat menigtes sou uitgewis het ‘n paar dekades gelede. My dogter, Annie, is nou verwagtend en ons is in staat om die baba se fisieke kenmerke uit te maak deur hoë resolusie beelde. Dit was slegs ‘n paar jaar gelede wat ek en Kelly oorstelp van blydskap was om ons oudste seun, Ashley, deur middel van sonar te sien — hoewel hy nie veel meer as ‘n kol op die skerm was nie.

Ten spyte van hierdie voortuitgang, word ons vertel deur leiers in bykans elke veld — psigiatrie, sosiologie, medisyne, onderwys — dit is die ongelukkigste geslag wat ooit geleef het. Twintig jaar gelede was die gemiddelde ouderdom waarop iemand hulp gesoek het vir depressie tussen 30 en 40. Vandag is daardie ouderdom 14. Na net ‘n paar dekades, teister wat eens beskou was as ‘n krisis van die middeljare, adolossente nou met selfmoordgedagtes. Net soos die groot toename in wetenskap en tegnologie, is daar ‘n gelyke versnelling in die kwale van die siel en hart.

Die probleme wat ek beskryf, is egter nie beperk tot die sekulêre gemeenskap nie. Dieselfde statistiek is van toepassing op die familie van God — mense wat gered, geheilig en gevul is met God se Gees, God se Woord ken en aktief in die Christelike gemeenskap is. Ja, groot getalle volgelinge van Jesus is ongelukkiger — depressief, moedeloos, angstig, ontevrede en sonder vrede. Jongmense praat van verveling, selfs met duisende digitale vermaak binne hulle bereik. Aan die einde van die dag, laat dit hulle met ‘n innerlike angs.

Ek kan dit nie op ‘n ander manier sê nie: Ons blydskap word van ons gesteel. As die Bybel sê Satan het gekom om te moor, te steel en te vernietig, is dit nie net ‘n waarskuwing vir mense oor verslawings of ernstige sonde nie. Die vyand van ons siele wil ons beroof van alles wat God vir ons in gedagte het, insluitend blydskap, vrede, vergenoegdheid en ‘n dinamiese lewe — en volgens die Bybel sluit dit geluk in.

Ek vind dit hartseer dat ek volgelinge van Jesus Christus moet oortuig dat dit sy plan vir hulle is om gelukkig te wees.

Wanneer die vraag gevra word — “Wil God hê ons moet gelukkig wees?” — raak die meeste Christene skepties. Hulle dink dit is die terrein van voorspoedspredikers, nie eerbares nie. Vir hulle is alle fokus op geluk, die dinge wat tot kettery lei.

God wil egter hê dat ons gelukkig moet wees — ongekwalifiseerd gelukkig. Ek sê dit nie ongeërg nie. God se begeerte vir ons geluk is vas gegrond, ‘n Bybel gebaseerde waarheid, wat in die Skrif van begin tot einde bewys word. En hierdie waarheid word bekragtig regdeur die kerkgeskiedenis deur ons goddelikste, mees gerespekteerde leiers. Dit word ook bewys deur ons eie belewenis met God.

Ek is ook egter soos die meeste Christene as dit kom by hierdie onderwerp. Ons is geneig om te aarsel wanneer ons gevra word, “Wil God hê ons moet gelukkig wees?” Toe ek vir Kelly vertel ek gaan oor geluk preek, het sy stil geraak. Toe vra sy, “Wil jy nie liewer oor blydskap praat nie?” Ek blameer haar nie omdat sy dit gevra het nie, want ek het dieselfde ding vir God gevra toe ek beleef het dat Hy my hart dring om oor geluk te praat.

As Christene word ons vertel om geluk van blydskap te skei. Ons word vertel dat geluk tydelik is, gebaseer op omstandighede, terwyl blydskap onwrikbaar is, altyd binne-in ons, ongeag ons situasie. Maar as ons blydskap van geluk skei, dan verminder ons die emosies wat God vir ons gegee het. Die Psalms gee uitdrukking aan die volle reeks van menslike emosies, van blydskap tot woede tot geluk tot droefheid. En geluk is net soveel deel van ons Christelike lewe as wat blydskap is. Waarom? Dit is gebaseer op God se goedheid — en God is altyd goed.

Sommige in die kerk sê ons prioriteit is om heilig te wees eerder as om gelukkig te wees. Dit maak nie veel sin nie. Ek het grootgeword om die impak te sien van die Teen Challenge bediening waar verslaafde op verslaafde bevry is van die aaklige euwel van heroïne. Wat het gebeur toe hulle eers vry was? Hulle het gelukkig geword! Mense is gelukkig wanneer hulle heilig gemaak is en vrygemaak word van die slawerny van sonde.

Ouer Christene het my vertel, “Om Jesus te volg, gaan nie oor geluk nie. Na twintig jaar is ek meer volwasse. Ek het geleer ek het nie die reg om gelukkig te wees nie. God se doel vir my is om heilig te wees.” Maar dit is ‘n bietjie belaglik. Heiligheid maak ons gelukkig! Dit bring geluk omdat dit vryheid bring. Heiligheid en geluk kan nie geskei word nie!

Natuurlik het Jesus dit duidelik gemaak dat almal wat Hom volg, lyding sal beleef. Daar is pyn en hartseer in die Christelike lewe. Maar deur elke swaarkry heen, weet ons dat Hy betroubaar is. Hy bring ‘n vreugde — en, ja, ‘n gelukkigheid — wat die wêreld nie ken nie. En daardie geluk hang nie van ons omstandighede af nie.

Dit maak nie saak of ons reg of verkeerd is oor die vraag van geluk nie, want die Bybel is heeltemal reg daaroor.

God se Woord beantwoord enige vraag oor geluk eens en vir altyd. Elke moderne, opgedateerde weergawe van die Bybel praat oor en oor van geluk. Ek sal begin met die New International Version, ‘n vertaling wat deur gerespekteerde skoliere, wat hulle lewens daaraan toegewy het om die begrip van God se Woord te bewaar soos dit aan ons oorgebring is. In hulle bekwame hande, verskyn die woord “gelukkig” dikwels en kragtig in verband met God se mense.

“Maar die regverdiges is bly, hulle juig voor die aangesig van God, en hulle is vrolik [gelukkig] met blydskap” (Psalm 68:4). “Vir die Jode was daar lig en vrolikheid [geluk] en vreugde en eer” (Ester 8:16). “So sê die HERE van die leërskare: Die vasdag in die vierde en die vasdag in die vyfde en die vasdag in die sewende en die vasdag in die tiende maand moet vir die huis van Juda ‘n vreugde en blydskap wees en vrolike [gelukkige] feestye” (Sagaria 8:19).

Die Holman Christian Standard Bible is een van die nuwer vertalings wat ook vertaal is deur die beste skoliere en mees onlangse historiese dokumente. Dit vertel vir ons, “Welgeluksalig [gelukkig] is die volk wat die geklank ken; o HERE, hulle wandel in die lig van u aangesig” (Psalm 89:15). “En Ek sal hulle rou in vreugde verander en hulle troos en hulle tot blydskap [geluk] bring in hulle kommer” (Jeremia 31:13).

Die New Living Translation, nog ‘n gerespekteerde vertaling lees, “Want kyk, Ek skep Jerusalem om te juig [gelukkig te wees]” (Jesaja 65:18). Die GOD’S WORD Vertaling lees, “En die losgekooptes van die HERE sal teruggaan...met gejubel, en ewige vreugde [geluk] sal op hulle hoof wees” (Jesaja 35:10). Die volgende vers spreek werklik die neerslagtigheid van die huidige geslag aan: “Omdat jy die HERE jou God nie met vreugde en vrolikheid van [‘n gelukkige] hart weens die oorvloed van alles gedien het nie” (Deuteronomium 28:47). Het jy ‘n woord nodig oor geluk vanuit die Nuwe Testament? “Al het julle Hom nie gesien nie, tog liefhet...en julle verbly [gelukkig is] met ‘n onuitspreeklike en heerlike blydskap” (1 Petrus 1:8).

Ek het altesaam 2,700 verwysings gekry wat praat van geluk, blydskap, vreugde, gejuig, behae en selfs plesier. Elkeen van hierdie emosies maak deel uit van die wonderlike avontuur waarin ons leef in Christus.

Die grootste denkers en dienaars uit die kerkgeskiedenis het heelwat oor geluk in die Christelike lewe gepraat.

Vir meer as twee millenia, het Christen stemme die Skrif se duidelike lering oor geluk weergalm. Jy sal nooit vind dat Augustinus in een van sy portrette glimlag nie, maar hy het die volgende geskryf: “Daar is geen mens wat nie dit [om gelukkig te wees] begeer nie en elkeen begeer dit met sulke erns, dat hy dit voorkeur gee bo alle ander dinge. Wie ook al ander dinge begeer, begeer dit uiteindelik om hierdie rede.”

Deur al sy intellektuele wysheid, het Augustinus geweet dat die kern van elke menslike begeerte, die begeerte is om gelukkig te wees. Hy het gesê God het daardie begeerte in die hart van die mens geplaas. In werklikheid is geluk die gereedskap wat Hy gebruik om ons na Jesus te trek. Christene leef die lewe ten volle, met energie en entoesiasme, gebaseer op hulle kennis van God se goedheid. Dit weerkaats terug na die mense die toestand van hulle eie harte en hulle besef, “Wat hy het, is ‘n werklikheid. In vergelyking daarmee, is my lewe ongelukkig. Ek kan sien ek sterf in sonde. Ek het God nodig!”

Die Puriteine was gesien as nugter en stroef, maar tog het selfs hulle leiers geluk op die voorpunt gestel van God se plan vir ons lewens. Thomas Watson het geskryf, “Hy het geen ander plan as om ons gelukkig te maak nie.” Thomas Manton het geskryf, “Dit is so natuurlik vir die redelike skepsel om te begeer om gelukkig te wees as wat dit is vir die vuur om te brand.” Hierdie woorde was nie ligtelik neergeskryf nie. Die Puriteinse eeu was een van droefheid en swaarkry, met die meeste kinders wat vroeg in hulle jare gesterf het. Te midde van die lewe se onvermydelike pyn en lyding, het hierdie skrywers egter verklaar dat Christene die gelukkigste mense in die wêreld is.

In later jare, het die sendeling, Amy Carmichael, geskryf van geluk te midde van die wêreld se donkerste en aakligste realiteite. Sy het in Indië bedien, waar jong meisies verhandel word in seksslawerny. Amy het hulle gered en gehuisves in haar beskermende kampong, wat gereeld aangeval is. Sy self was aangerand deur mense wat haar werk teëgestaan het. Sy het haar dae op die volgende manier beskryf: “Daar is niks eentonig en twyfelagtig in hierdie lewe nie. Dit is bedoel om aanhoudende blydskap te wees en ons is geroep om te lewe in ‘n gevestigde geluk in die Here, wie se blydskap ons sterkte is.”

Hoe verduur volgelinge van Jesus in die Midde Ooste vreesaanjaende aanvalle van ISIS? Hoe handhaaf Christene hoop in die gevangenis van lande wat vyandig is teen hulle geloof? Hulle het binne-in hulle ‘n blydskap en geluk wat hulle deur dit alles dra. Die Bybel, waarna hulle kyk, is nie een of ander positivistiese, rah-rah boek wat hulle met vals hoop vul nie. Dit vernuwe hulle gedagtes en roer binne-in hulle wat die Gees reeds in hulle harte geplaas het: dat ware geluk ‘n werklikheid is in ons lewens, deur God geskenk.

Hoe kry jy geluk terug as dit jou vir so lank ontvlug het?

Hoe is geluk moontlik wanneer jy in fisieke pyn is, wanneer jy in jou siel bekommerd is, wanneer jou familie in chaos is? Laat my jou nog ‘n paar woorde van hulp gee. 1. Daar is Bybelse bewyse vir jou gegee, dat God vir jou geluk wil hê. Glo dít is wat Hy vir jou wil hê. 2. Glo dat die geluk wat Hy gee, ‘n vaste werklikheid is, nie ‘n lugkasteel nie. 3. Hernuwe jou verstand met hierdie onderwerp deur sy Woord. Moenie deur die vyand van hierdie waarheid beroof word nie.

Omdat ons in ‘n gevalle wêreld bly, is die geneigdheid van ons gedagtes tipies negatief. Sommige van ons is geneig om die Bybel te lees net vir die gedeeltes oor sonde en oordeel, terwyl ons die talle verwysings na sy liefde en die seëninge van geluk verwaarloos. Tog kan selfs ‘n natuurlike pessimis geluk ken as hy God ken. Op sy beurt het ‘n natuurlike optimis nie dieselfde hoop sonder om God te ken nie. Sy geluk is gebou op sand, nie vaste rots nie.

Petrus en Johannes het op ‘n vaste fondament van geluk gestaan toe hulle lofliedere in die tronk gesing het. Die apostel Paulus het dieselfde gedoen toe hy geboei was. Omdat God se liefde in hulle harte gevestig was, was hulle reeds vry voordat God hulle bonatuurlik van hulle boeie verlos het.

Wanneer jou verstand gevul word met negatiewe gedagtes — wanneer jy begin om God se liefde vir jou en behae in jou in twyfel te trek — moedig ek jou aan om iets baie prakties te doen. Vind ‘n stukkie papier en skryf die gedagte wat jy het, neer. Lees dit dan hardop. Erken dan hoe bisar en onwerklik dit is. Skryf dan die volgende neer: “Ek is ‘n kind van my hemelse Vader, wat ‘n behae in my het.” Dit is positiewe selfpraat — dit is werklikheid. Sy Woord maak dit so. Glo dit en vind weer ware geluk!