Demonstrasie van Gees en Krag

Terwyl ek Paulus se briewe aan die kerk in Korinte lees, stop ek eers en dink aan hierdie woord: “en my rede en prediking was nie in oorredende woorde van menslike wysheid nie, maar in betoning van gees en krag” (1 Korinthiërs 2:4).

Toe ek ‘n jong predikant was, het ek die Here vir duidelike manifestasies van sy Gees gevra. Ek het gebid, “O Here, vul my met die krag van u Gees en gee my ‘n oortuigende boodskap. Demonstreer u krag. Skud die huis soos wat U op Pinkster gedoen het, sodat mense na die altaar sal hardloop en in eerbied voor U sal neerval.”

Tog, as ek Paulus se briewe aan die Korinthiërs lees, vind ek nie sulke ervarings nie. Daar was niemand wat “in die Gees geval” het nie, en nêrens word genoem dat huise geskud is nie. In plaas daarvan, vind ons dat Paulus gepreek het oor alledaagse probleme, soos vleeslikheid, stryery, huwelik, egskeiding, ordentlike kleredrag, om te gee, die sorg vir weduwees, om orde in die kerkdienste te handhaaf, ens.

Paulus het self erken dat hy geen charisma gehad het nie. Sy stem was nie gesaghebbend nie en hy het erken dat hy gebewe het terwyl hy gepreek het: “Ek was ook by julle in swakheid en in vrees en in veel bewing” (1 Korinthiërs 2:3). So, waar was die die demonstrasie van die Gees en krag in Paulus se lewe?

Paulus het in der waarheid verklaar, “My lewe is ‘n demonstrasie van wat die Here kan doen. Hy kan ‘n persoon sonder charisma, sonder ‘n kragtige stem, inderdaad, die vuilste van sondaars neem en iets kragtigs met hom doen.” Dit was nie trots wat hier gepraat het nie. Paulus het eenvoudig geweet wie hy in Christus was. Hy het geweet dat sy stryd en swaarkry nie verby was nie, maar hy het ook geweet dat sy lewe ‘n beeld was van wat God met enigiemand, wat homself aan Hom onderwerp, kan doen.

Hy het verduidelik, “Ek het nie na julle gekom met die strategië en metodes van mense nie. Ek het na julle gekom met die gedagtes van God en het gepraat met ‘n eenvoudige, direkte boodskap wat regdeur julle harte gesny het. Toe ek oor die huwelik geleer het, het dit julle aangegryp. Toe ek daarvan gepraat het om te gee, is julle aangeraak omdat julle geweet het dat my woorde van die Here af gekom het.”

Kyk na die samelewing. Mense is sonde-siek, gestres, in wanhoop, met baie wat hulle absolute limiete bereik het, terwyl hulle desperaat is vir antwoorde. Hulle wil nie filosofiese argumente of raad uit net nog ‘n self-help boek hê nie. Die enigste manier waarop hierdie wêreld aangeraak sal word, is deur inaanraking te kom met ‘n lewe wat Heilige Gees krag demonstreer.

Paulus sê vir ons: “Ons het ‘n skouspel geword vir die wêreld, vir die engele, sowel as vir die mense” (1 Korinthiërs 4:9).

Die Griekse woord vir “skouspel” in hierdie vers beteken “teater.” Die vertaling is, “God gaan jou lewe in ‘n teater verander. Hy het jou op die verhoog geplaas en die gehoor is die hele wêreld.” Hier is die rol was hy vir ons geskryf het: “Ons is dwaas ter will van Christus” (1 Korinthiërs 4:10). Wie sal, in die wêreld se oë, die moeilike paaie wil volg wat Paulus uitgestippel het? In die voorafgaande vers verduidelik Paulus: “Want dit lyk vir my dat God ons apostels die laaste plek aangewys het as tot die dood veroordeel” (1 Korinthiërs 4:9).

Paulus praat van groot beproewings, rampe, vervolging, selfs die dood — swaarkry wat ‘n uitverkose aantal in Christus se liggaam geroep is om te verduur. Hy sê, “Jy het my getuienis gehoor. Julle weet dat ek swakhede, rampe en vervolginge verdra het. Ek weet dat ek ‘n skouspel voor die hele wêreld geword het, insluitende engele, owerhede en magte. Alle oë is op my, om die stryd gade te slaan en die resultaat te sien. God is nou besig om ander gelowiges in dieselfde bediening aan te stel.”

Almal wat goddelik is, sal een of ander vervolging ter wille van die Here moet verdra. Maar sommiges, soos Paulus, is geroep om baie lyding en gebrek ter wille van Christus te verduur — om “op die verhoog te gaan” om baie stryd en swaarkry te verdra. Vir hulle, het dit soos ‘n boksgeveg geword, en hulle word baie keer neergevel deur aanslae en toetse. “Maar ons is op allerhande maniere verdruk; van buite was daar aanvegtinge, van binne verskrikkinge” (2 Korinthiërs 7:5).

Sommige gelowiges staar die een folterende krisis na die ander in die gesig. Dink aan Job, wat deur sy vriende verag is as gevolg van sy lyding. Hulle het aan Job gesê, “Dit is duidelik dat jy die Here kwaad gemaak het. Daar moet natuurlik een of ander verborge sonde in jou lewe wees.” God is nie skaam om hierdie dienaars op die toneel voor die hel, die engele en die hele wêreld te plaas nie, omdat hy hulle vertrou. Hulle het geduldig hulle beproewings in die geheim verdra en vasgehou aan hulle geloof deur vure, vloede en storms.

Satan kla vandag steeds hierdie tipe heilige aan, net soos wat hy met Job gedoen het en daag God uit, “Neem die muur van beskerming weg en laat my toe om hulle te toets. Hulle sal opgee.” God neem dikwels sy muur van beskerming weg vir ‘n seisoen en engele kyk verwonderd na die tonele wat voor hulle afspeel. Vurige pyle word geskiet, gevolg deur aaklige leuens, oorweldigende versoekings, vreeslike aanklagte, fisiese rampe. Twyfel beweeg in en God se kind is op die punt om op te gee.

Dan skielik stop die skouspel. Dan beweeg die beleërde dienaar na die middel van die verhoog, terwyl hy die aandag van almal trek en hy roep uit, “Al wil Hy my ombring, sal ek hoop op Hom. Kom wat wil, dood of lewend, ek is die Here s’n.”

‘n Draaiboek is aan ons oorhandig vir ons deel in die toneelstuk.

Paulus spel die rol uit vir almal wat op die verhoog is: “Al die ander op die verhoog sal sterk wees, maar jy sal die swak een wees. Al die ander sal eerbaar wees, maar jy sal verag word. Jy sal honger, dors en naaktheid ervaar en jy sal gestamp en gestoot word, in die gesig geslaan word. Maar, jy sal die ander seën wanneer hulle jou beledig. Jy sal vervolging verduur en sleg gesê word. Jy sal geag word as die uitvaagsel van die wêreld, die afskraapsel van almal” (sien 1 Korinthiërs 4:10-13).

Baie gelowiges het die draaiboek wat die Skrif uitlê, gelees, en hulle verlang om die ware demonstrasie van Heilige Gees krag te ervaar. Dus neem hulle hulle stand in soos Paulus en sê, “Ek was lusteloos genoeg. Ek gaan die hele pad stap om in die volheid van die krag van Christus, wat in my is, in te gaan.”

Dit is dan wanneer die gordyne oopgaan. Jy staan op die verhoog en skielik is jou lewe ‘n skouspel vir almal. Hoe reageer jy wanneer die beproewings, wat Paulus beskryf, in jou rol plaasvind? Word die liefde van Christus uitgebeeld tydens jou beproewinge, worstelinge en aanslae? Of draai jy weg in benoudheid en vrees?

Paulus het die Korinthiërs verseker, “Ek skryf hierdie nie om julle bang te maak nie” (sien 1 Korinthiërs 4:14). Die apostel het geweet dat wanneer hy sy voete op die verhoog gesit het, die Heilige Gees ons nie sal verlaat nie. In plaas daarvan, sal Hy op ons kom met krag, soos wat ons nog nooit tevore ervaar het nie. In ons rol van swakheid, gee die Here vir ons krag en met God se hand op ons en Christus se teenwoordigheid in ons, is ons in staat om te verdra ter wille van die prys wat voor ons gestel is.

Natuurlik sal sommige gelowiges die draaiboek lees en dit verwerp. Hulle het van die verhoog af weggedraai en sê, “Dit is nie die rol wat ek wil hê nie.” Sulke gelowiges wil ‘n gemaklike lewenstyl hê. En as jy in “gemak in Sion” lewe, dan het jy nie die Heilige Gees se krag nodig nie. Dit is hoekom die wêreld nie belangstel in Christene wat in sulke gemak lewe nie. Hulle sal nie na iemand luister wie se woord leeg is en nie deur geestelike gesag gerugsteen word nie. Soos Paulus verklaar, “Want die koninkryk van God bestaan nie in woorde nie, maar in krag” (1 Korinthiërs 4:20).

Is jy nou op die verhoog en is jou lewe ‘n skouspel? Wys jou swakhede? Voel jy gestamp en gestoot? Voel jy soms asof jy van die verhoog kan afklim en  sê, “Ek kan dit nie meer verdra nie. Ek voel om op te gee”? Selfs Dawid het so in sy lewe gevoel en uitgeroep, “O, ek wens ek het vlerke gehad soos ‘n voël sodat ek na een of ander stil, rustige plek kon vlieg.”

Op sulke tye, maak God jou ‘n demonstrasie van sy Heilige Gees en krag. Jou lewe word beskou — jou familie kyk na jou, jou bure kyk na jou, almal by die werk kyk na jou — en hulle almal wonder, “Hoe sal dit eindig? Sal hy dit maak?” “Daarom dan, terwyl ons so ‘n groot wolk van getuies rondom ons het, laat ons ook elke las aflê en die sonde wat ons so maklik omring, en met volharding die wedloop loop wat voor ons lê” (Hebreërs 12:1).

Dit is die beste nuus van alles: ons ken die regisseur van hierdie skouspel. “Die oog gevestig op Jesus, die Leidsman en Voleinder van die geloof” (Hebreërs 12:2). Hy het ons geleer hoe om ons rol te speel deur sy eie dramatiese voorbeeld in die hoofrol: “Wat vir die vreugde wat Hom voorgehou is, die kruis verdra het, die skande verag het en aan die regterkant van die troon van God gaan sit het” (Hebreërs 12:2).

Christus weet dat ons rol in hierdie skouspel nie maklik is nie. Maar Hy het voor ons uitgegaan op die pad en ons moet na sy voorbeeld kyk om bemoedig te word: “Want julle moet ag gee op Hom wat so ‘n teëspraak van die sondaars teen Hom verdra het, sodat julle in jul siele nie vermoeid word en verslap nie” (Hebreërs 12:3).

Liewe heilige, elke keer wat jy jou Bybel optel, hou jy in jou hand die draaiboek wat God vir jou lewe geskryf het. En Hy voorsien broodnodige pouses van die drama — van die verhoog af en agter die gordyne, wanneer jy alleen saam met die regisseur in gebed is. In daardie tye, plaas Hy sy arms om jou en fluister, “Jy doen goed.”

Dit mag jou verbaas. Jy mag dink, “Wat bedoel jy ‘goed’? Ek wil opgee!” Maar die regisseur verseker jou, “Jy het nog nie die hele draaiboek gelees, soos Ek vir jou gesê het om te doen, nie. Dit is alles daar. Op hierdie oomblik, te midde van jou lyding, doen Ek ‘n groot werk in jou. Ek maak jou ‘n demonstrasie van my Heilige Gees en van my krag. Ja, dit gaan moeilik wees, en daar gaan nog meer stampe en stote wees. Maar jy gaan dit maak.”

“Gaan nou terug verhoog toe en Ek sal lewe in jou blaas. Ek is altyd met jou. En wanneer die laaste gordyn sak — dan is alles oor — jy sal na my huis toe kom vir ‘n groot fees. Elkeen wat van die begin af in hierdie skouspel was — vanaf die Kruis reg deur die geskiedenis heen — gaan feesvier.

Geliefde, dit is hoekom ons volhard: vir die onbeskryflike vreugde wat vir ons voorgehou word!