Verkry ‘n Roemwaardige Getuienis

Gary Wilkerson

Ons leef in ‘n tyd waarin Bybelse voorspellings sigbare werklikhede geword het. Paulus skryf dat in die laaste dae daar swaar tye op die aarde sal kom (2 Timótheüs 3:1). Op hierdie oomblik is daar dinge besig om te gebeur wat ons ‘n paar jaar gelede nie eers aan kon dink nie. Wie sou ooit kon dink aan vyftien jaar van epidemiese skieterye by skole?

Jesus het voorspel dat mense liefhebbers van hulleself sal word, liefhebbers van geld, haatlik, trots en arrogant. Vandag kan ons nasie se leiers nie saamstem oor die mees basiese algemene beginsels nie. As iemand waag om sonde te noem, word hy ‘n dweper genoem en ‘n uitgeworpene gemaak. Soos God se Woord eenkant toe gestoot word, word sonde meer en meer algemeen.

Pastore voel die geestelike aanslae. Week na week moet ek hoor van nog ‘n huwelik wat moontlik mag misluk. Kinders sny hulleself uit selfhaat. Dwelms is nou meer algemeen as ooit. Verder word daar minder stemme gehoor wat kan help, omdat daar elke maand 1,500 pastore die bediening verlaat.

As Christus se liggaam, kan ons nie aan die slaap wees oor hierdie dinge nie. Die Ou Testament praat van die seuns van Issaskar, ‘n groep wat ‘n kennis van die tye gehad het en vaardigheid om die wêreld te hanteer. Kan dieselfde van die liggaam van Christus gesê word vandag? As ons die tye kan onderskei, dan weet ons dat hierdie nie die tyd is vir louwarmheid nie. Die enigste manier vir ons om die “wêreld te hanteer”, is om nie toe te laat dat die kerk in hierdie moeilike omstandighede soos gewoonlik aangaan nie. Jesus het van sekere bose geeste gesê, “Maar hierdie geslag gaan nie uit behalwe deur gebed en vas nie” (Matthéüs 17:21). In hierdie tye, moet ons gebede vurig wees — omdat dinge nou en vir die toekoms sleg lyk as daar nie geestelike verandering kom nie.

Te midde van duisternis, roep Jesus ons om lig te wees. En hier is ons boodskap vir so ‘n tyd: “Hy wat in julle is, groter is as hy wat in die wêreld is” (1 Johannes 4:4). God het wonderlike dinge in die lewens van sy mense gedoen. En elkeen van ons is geroep om sy heerlikheid te verkondig deur ‘n roemwaardige getuienis.

Hoe lyk ‘n roemwaardige getuienis?  Ek kan vasgevang word in ‘n nie-roemwaardige getuienis. Ek is ‘n pastoor wat dinge maklik bely; Ek het geen probleem om oop te wees oor my mislukkings en gebreke nie. Maar as ek nie versigtig is nie, kan ek daarin vasgevang word om heeltyd my swakhede te bely. Dit is nie genoeg om ander te vertel dat ons sukkel op ons reis nie. Die tyd roep ons egter om van ‘n beklaenswaardige lewenstyl oor te skakel in ‘n roemwaardige lewenstyl.

Die tipe roem waarvan ek praat is as volg, “Maar wie roem, moet in die Here roem” (2 Korinthiërs 10:17). Om te roem soos wat Paulus beskryf, moet ons kan roem oor God se heerlikheid.

Bybelse figure kon nie ‘n lewe van geloof deursien deur net gewoonweg aan te gaan nie.

Dawid het nooit gesê, “My pa het my gevra om ‘n skaapwagter te wees en dus wat ek ‘n goeie een. Ek het met leeus geveg en het nooit ‘n skaap verloor nie.” Dit was ‘n goeie getuienis — maar die was nie waardig van God se roem nie. Dawid se roem was, “As ‘n jong skaapwagter, het ek ‘n reus wat God se mense gedreig het, doodgemaak. Niemand anders wou teen hom veg nie, maar die Here het my krag gegee — en ek het Goliat vernietig.”

As ‘n skinker in Babel, het Nehemia sy eie lewe gewaag as ‘n wynproewer vir die koning. Maar Nehemia se roem in God was anders: “Ek het ‘n stad weer opgebou om eer aan God se naam te herstel.” Met God se naam wat in Jerusalem se strate bespot is, het Nehemia ‘n vuur in sy binneste ervaar — en hy het begin om die muur te herstel.

Moses se getuienis was nie, “Ek het in Farao se paleis gelewe en het groot gesag gehad” nie. Sy roem was, “God het met my gepraat uit ‘n brandende bos — en ek het Farao gekonfronteer en gesê, ‘Laat my volk gaan.’” Sy roem was gehoor by die Rooi See: “Egipte se leër het in die see verdrink!”

Nuwe Testamentiese gelowiges het dieselfde roem gehad. Stéfanus was ‘n diaken wat voedsel aan die weduwees uitgedeel het — ‘n goeie getuienis in sigself. Sy roemwaardige getuienis het egter gekom terwyl hy vir ‘n ongelowige skare gepreek het. Sy gesalfde preek het die mense so aangehits dat hulle klippe opgetel het en hom gestenig het. Stéfanus se getuienis was tweeledig: Hy was die eerste martelaar vir die kerk, en sy getroue offer sou later ‘n Joodse yweraar, met die naam van Saulus, aanraak.

Ek moet nog ‘n Christen ontmoet wat nie gewonder het, “Is daar nie iets meer in hierdie lewe in Christus nie? Wanneer sal ons God se krag sien manifesteer in hierdie generasie?” Miskien staar jy iets in die gesig wat God se ingryping benodig. Dit is nie die tyd om te sê, “Ek sal meer kerk toe gaan nie.” Dit is tyd om te sê, “Ek vertrou dat God sy krag in my lewe sal demonstreer. Hy gaan my huwelik red, my kinders red, en my medewerkers aanraak. Hy gaan my ‘n roemwaardige getuienis gee.”

Hierdie boodskap is nie veronderstel om ons skuldig te laat voel nie. Dit is bedoel om ‘n passie in ons harte op te werk — ‘n passie wat dikwels deur vrese en twyfel onderdruk word. Sommige het hulle geloof te lank opsy gesit dat hulle nie langer glo dat hulle ‘n roemwaardige getuienis kan hê nie. God se Woord sê anders.

‘n Roemwaardige getuienis is nie altyd wat ons dink nie.

Die boek van Hebreërs noem twee tipes getuienisse. Ons verkies almal die eerste tipe, wanneer heiliges koninkryke oorweldig, die vyand vernietig en reuse neervel. Die tweede tipe getuienis is heeltemal anders: Christene is in stukke gesaag, het honger gely, koud gekry en het in grotte weggekruip. En tog sê Hebreërs dat dit roemwaardig was. Stéfanus se getuienis was, “Ek het my lewe op die spel geplaas vir my Verlosser. Ek was gewillig om ‘n marteldood te sterf as ek een man soos Saulus kon bereik.” Dit het.

Vandag is dit vir Christene te maklik om van ander se getuienisse af te lewe. Hoe dikwels hoor ons onsself sê, “Het jy gehoor van die geestelike ontwaking in Afrika?” “Die kerk in Amerika doen groot werk onder die armes.” “Ons kerk het sy deure geopen om die dwelmverslaafdes te bereik.” Ons moet bly wees oor die getrouheid van almal wat ‘n verskil maak in Christus se naam. Maar Paulus het geweier om tweedehands deur ‘n ander se werk te leef: “Ons roem nie buite die maat in die arbeid van ander nie, maar ons het hoop om, wanneer julle geloof toeneem, in hoër mate onder julle toe te neem volgens ons werkking” (2 Korinthiërs 10:15).

Jy mag dink dat jou lewe nie opweeg nie — dat jy nie ‘n roemwaardige getuiens verdien nie. Dit is nie die probleem nie. Alles kan verander met een eenvoudige gebed van geloof. Onlangs, net voor ek gepreek het, het ‘n vrou my iets vertel wat daardie week gebeur het. Na agt-en-dertig jaar van daggaverslawing, het God haar vrygemaak. Dit het gebeur deur ‘n eenvoudige besoek van twee leke predikers van ons gemeente. Terwyl hulle saam met haar gebid het, het sy oortuig geword oor die dagga in haar woonstel. Sy het opgestaan en dit uitgegooi.

Daardie vrou se verlossing was waar en blywend. Sy het ‘n roemwaardige getuienis verkry van God se krag om te verlos. En die twee leke predikers het ook ‘n getuienis gehad. God het hulle gebruik op ‘n manier wat hulle nie self kon orkestreer nie. Al drie kan sê, “Kyk wat het God in ons midde gedoen vandag.”

Selfs met die kleinste begin, begin geloof opstaan in ons harte. Ons besef, “God het dit verlede week gedoen. Hy kan dit weer hierdie week doen.” Ek wil daarin roem dat ons gemeente kragtige, effektiewe bedienings het wat op hierdie manier van die grond afgekom het — omdat ‘n individu getrou was om een persoon te help. In elke geval, het ‘n gelowige se gebed gelei tot ‘n beradingsbediening gelei, of ‘n genade bediening, ‘n dissipelskap bediening en meer. Dieselfde kan waar wees vir elke gelowige. Soos ons ‘n geskiedenis opbou van roemwaardige getuienisse, sal ons geloof groei om God te soek vir groter dinge.

‘n Klein begin raak dikwels hele gemeenskappe aan. Toe my vader, Dawid Wilkerson, ‘n kerk in Time Square begin het, was die hoof area in 42ste Straat in ‘n duistere gemors. Elke paar voet, was daar ‘n dwelmhandelaar of ‘n prostituut of ‘n smous vir ‘n pornografiese teater. My pa se benadering tot enige bediening was altyd om met gebed te begin — en hy het my gevra om Vrydagaande ‘n gebedsbyeenkoms by die kerk te hou.

Daardie eerste byeenkomste het twintig tot dertig mense getrek. Ons het getrou na God uitgeroep om verandering in die stad te weeg te bring. Met tyd het ons byeenkomste gegroei tot amper agthonderd mense. Soos ons uitgeroep het in moeitevolle gebed, het God ‘n las op ons harte vir 42ste Straat geplaas. Daarom het ons ons gebedspogings na die strate geneem waar ons traktaatjies uitgedeel het.

Gou het ons veranderinge sien plaasvind. Daar was minder dwelmverslaafdes en prostitute. Een vir een het die pornografiese paleise toegemaak. Laastens het ‘n ontwikkelaar ingekom en een eiendom na die ander opgekoop. Vandag beset die Walt Disney maatskappy hoofsaaklik hierdie gebied wat eens die speelgrond vir pornografie, dwelms en prostitusie was en 42ste Straat is nou seker die gesondste blok in New York Stad. Ek glo dit is deels te danke aan biddende mense wat God geglo het om groot dinge te doen.

Ons geloof is bedoel om ander te help om ‘n roemwaardige getuienis te hê.

Die eerste effek van ‘n roemwaardige getuienis, is die bou van ons geloof. Die tweede effek is die opbou van ander se geloof: “Want al sou ek ook nog meer roem oor ons gesag wat die Here ons gegee het om julle op te bou en nie neer te werp nie, sal ek nie beskaamd uitkom nie” (2 Korinthiërs 10:8). Paulus bedoel eintlik, “God het nie net magtiglik in my lewe gewerk nie, maar sy werk in my en deur my is bedoel om julle geloof aan te spoor om groter dinge te doen.” Ons geloof is aansteeklik. Dit bou die geloof van ander op om betrokke te raak in groter dade van dapperheid.

Waarin Paulus laastens roem, klink vreemd: “ As daar geroem moet word, sal ek my swakhede roem” (1 Korinthiërs 11:30).  Die punt wat hy wil maak is die volgende: Ons roemwaardige getuienis sal nooit wees vanuit ons eie krag nie. Ons roem sal altyd wees, “Sonder God, is ek nie reus vernietiger nie — ek is ‘n skaapwagter.” “Sonder God, is ek nie ‘n muurbouer nie — ek is ‘n skinker.” “Sonder God, is ek nie ‘n verlosser nie — ek is ‘n skaapwagter wat in die Egiptiese woestyn swerf.”

Ons roemwaardige getuienis sal nooit vanuit ons eie krag, ywer of pogings kom nie. As ons op enige van hierdie dinge steun, sal ons getuienis sy krag verloor. Maar hoe meer ons ons onbekwaamheid erken, hoe meer van God se krag sal op ons rus: “En Hy het vir my gesê: My genade is vir jou genoeg, want my krag word in swakheid volbring. Baie liewer sal ek dus in my swakhede roem, sodat die krag van Christus in my kan woon” (2 Korinthiërs 12:9).

Daar is ‘n krag beskikbaar wat nie aan die trotses, die arrogantes, of die selfvoldanes gegee word nie. Dit word net gegee aan hulle wat nederig op hulle aangesigte val en sê, “Jesus, ek wil ‘n roemwaardige getuienis hê. Net U kan dit vir my gee. Ek wil ‘n verskil maak in die donker wêreld van hierdie generasie. Ek wil U lig wees.” Dit is my gebed in hierdie tye. Mag dit ook joune wees!