Die Betowering van die Heiliges

“o, Onverstandige Galásiërs, wie het julle betower om die waarheid nie gehoorsaam te wees nie, julle voor wie se oë Jesus Christus afgeskilder is as onder julle gekruisig?” (Galásiërs 3:1). As jy ‘n toegewyde dienaar van Jesus is, is daar iets waarvan jy absoluut seker moet wees. Dit is dat Satan probeer om almal wat hulle hart daarop instel om dieper met die Here te gaan te probeer betower. Die vyand van ons siele is heeltyd besig om demoniese strikke te stel vir almal wat desperaat is om meer van Christus te ken.

Hierdie strikke wat Satan stel, het nie te doen met groot sondes, soos sensualiteit, dronkenskap of gierigheid nie. Inteendeel, dit is baie subtiel. Paulus beskryf die effek van hierdie strikke wanneer hy vir die Galásiërs sê, “Ek verwonder my dat julle so gou afvallig word van hom wat julle deur die genade van Christus geroep het, na ‘n ander evangelie toe” (Galásiërs 1:6). Paulus sê in wese, “God het julle geroep om die evangelie van genade deur Jesus Christus te omhels en vir ‘n tyd lank het julle. Julle het geleef deur te glo en te vertrou dat julle gered is deur genade alleen en Christus se voltooide werk aan die kruis. Maar skielik het julle wegbeweeg van daardie evangelie af – en nou volg julle ‘n ander een. Wat het met julle gebeur? Wie het julle betower?”

Paulus wys dan die oorsprong van hulle probleem uit: “Dat daar sommige mense is wat julle in die war bring en die evangelie van Christus wil verdraai” (Galásiërs 1:7). Met ander woorde, “Iemand het julle laat wegdraai van die waarheid af. Hulle lering klink vir julle reg en redelik, maar dit het julle heeltemal van koers af gebring.”

Paulus self het die Galásiese kerk gestig. Talle ander vroeë Christen leiers het daar gepreek, insluitend Timótheüs. Dit is duidelik dat hierdie Galásiërs nie geestelike nuwelinge was nie. Hulle was vas gegrond in die evangelie van genade en het gehoor hoe die waarheid in volheid en reinheid verkondig word: “Julle voor wie se oë Jesus afgeskilder is” (Galásiërs 3:1).

Paulus rep hier nie ‘n woord van sensualiteit of groot sondes nie. In teendeel, die Galásiërs was verteer daardeur om rein te wees en heilig te wandel voor die Here. Maar Paulus het hulle idee van heiligheid uitgedaag: “eindig julle nou [word julle nou volmaak gemaak] met die vlees?” (Galásiërs 3:3). Hy het in wese gesê, “Ek weet julle soek na volmaaktheid, maar hoe wil julle dit bereik? Watter soort evangelie sal julle volmaak hou in God se oë?”

“Dit alleen wil ek van julle weet: het julle die Gees ontvang uit die werke van die wet of uit die prediking van die geloof?” (Galásiërs 3:2). Dit is duidelik die Galásiërs was gedoop met die Heilige Gees, maar sonder om doekies om te draai, noem Paulus hulle onverstandig en betower: “Is julle so onverstandig? Nadat julle met die Gees begin het, eindig julle nou met die vlees?...o, Onverstandige Galásiërs, wie het julle betower? (Galásiërs 3:3, 1)

Die woord vir “onverstandig” beteken hier onintelligent, mislei. En die woord vir “betower” beteken om iets vals voor te gee. So, wie was die moeilikheidmakers in die Galásiese kerk wat die ware evangelie wat hulle van Paulus gehoor het, verdraai het? Dit is ironies, maar dit was die godsdienstige mense onder hulle, toegewyde Jode wat gered is by Pinkster. Hulle was opregte mans wat die wet wou volbring deur in heiligheid te wandel. Hulle het daarop aanspraak gemaak, “Ja, ons is gered uit genade deur geloof. Maar nou moet ons ons gawe van saligheid behou. Ons doen dit deur die wette, wat God van ons vereis, te gehoorsaam. Daarom moet elke man wat gered wil wees, besny word. Ons moet onsself waardig bewys vir hierdie saligheid.”

Paulus het geweet dit was ‘n subtiele strik deur Satan gestel. Dit was ‘n duiwelse leerstelling met die doel om God se volk te vernietig deur die evangelie van genade te verswak. Daarom het hy vir hulle gesê, “Ja, julle is op die regte manier gered. Maar nou probeer julle jul saligheid behou deur iets van julle vlees by die evangelie te voeg. En dit verdraai die genade van Jesus Christus.”

Ons vlees wil altyd iets heiligs van sy eie aan God bied.

Iemand wat ernstig is daaroor om vir Jesus te leef, word versoek deur gedagtes soos die volgende: “As ek net meer gebid het. As ek net meer ywerig was om die God se Woord te bestudeer. Om hierdie dinge te doen, sal my ‘n kragsentrale vir die Here maak.” Maar die kwessie is nie ons ywer nie – dit is die manier waarop heiligheid bereik word. Hoe bewaar ‘n Christen die saligheid wat deur genade aan hom gegee is? Doen hy dit deur geloof alleen of ook deur werke van die vlees?

Paulus waarsku die hele kerk, insluitend sy gelykes in roeping en salwing: “Wees versigtig, broeders. Julle staan nou op die slagveld tussen twee evangelies: die evangelie van genade, en die evangelie van die werke van die vlees.” Die vraag bly by ons vandag: As ons in die Gees begin het, word ons volmaak gemaak deur die vlees?

Laat my jou eers vra: Hoe is jy gered? Wat het jý gedoen om te veroorsaak dat jou sondes vergewe is? Het jy ‘n verskriklike sonde oorwin wat God se liefde verdien het? Het jy een of ander offer of regverdige werk vir Hom aangebied? Watter goeie dinge het Hy in jou gesien om oortuig te word dat jy saligheid waardig is en vir Hom om te sê, “Hierdie een verdien om gered te word”?

Jy weet dat nie een van hierdie dinge vir jou redding gebring het nie. Voor jy Jesus ontmoet het, was jy hulpeloos, verslaaf aan sonde, ‘n vyand vir die evangelie. Toe Christus na jou toe gekom het, was daar nie een goeie ding in jou wat die ewige lewe verdien het nie. Die enigste ding wat jy gedoen het om gered te word, was om jou te bekeer; jy het ‘n stap van geloof geneem met die mate van geloof wat Jesus in jou geplaas het. En toe jy op Hom gereageer het met geloof, het Hy jou gered. Jy was nuut gemaak, uit duisternis uitgehaal en in die lig gebring. Dit was nie weens ‘n enkele goeie daad of werk van jou vlees nie. Jy was verander deur geloof alleen.

Ons is in werklikheid nie net deur geloof gered nie. Ons lewe ook deur geloof – wat beteken, ons handhaaf ons posisie in Christus deur geloof alleen. “Die regverdige [of vrygespreekte] sal uit die geloof lewe” (Galásiërs 3:11). Met ander woorde, dieselfde geloof wat jou gered het, bewaar jou ook.

Dit is jammer dat hoe langer ons met God wandel, hoe meer word ons versoek om op ons vlees staat te maak om Hom te probeer behaag. Weens ons volwassenheid en ervaring, word ons versoek om te dink ons kan sonde oorwin in ons eie krag. Ek sien talle mense wat lank Christene was, veral predikers, wat verstrik word deur hierdie versoeking. Ek het die Here gevra, “Waarom is daar steeds so baie mense in die wildernis van werke? Waarom het hulle nie U rus binnegegaan nie? Waar is die groei, die sege, die oorwinning oor die wêreld, die vlees en die duiwel, in plaas van al hierdie vrees en wanhoop?”

Die wortel van ons geestelike stryd gaan baie dieper as verwaarlosing van goddelike praktyke.

Diegene wat Jesus liefhet, bid, bestudeer sy Woord, soek Hom voortdurend. Hulle hoef nie aangesê te word om hierdie dinge te doen nie. Hulle besef hulle behoort Jesus te geniet, sy rus binne te gaan en hulle te verbly in hulle wandel met Hom. Iets in ons vlees staan egter gedurig op, en vertel ons ons moet moedig stry om “dit reg te kry.” Ons voel ‘n toenemende druk om meer te bid, meer te studeer, ander meer te bedien. Ons dink, “Slegs dan, sal ek heilig en rein in God se oë wees.”

Maar ons rol in God se verbond van genade is nie om meer en meer en meer te doen nie. Dit is om ten volle te vertrou op dit wat Jesus vir ons op Gólgota gedoen het. Hy het ‘n volle saligheid vir ons bewerkstellig, een wat ons nie net red nie, maar ons bewaar. En ons aansprake op hierdie volle saligheid kom nie deur enigiets wat ons doen nie, maar deur geloof.

God het nie sy liefde van jou af weggeneem nie. Wanneer jy swak is en sukkel, vra Hy nie vir jou meer goeie werke nie. Hy wil hê jy moet vertrou dat dit wat Hy reeds gedoen het, alles is, wat nodig is om jou aanvaarbaar te maak in sy oë. Jy hoef nie méér in gebed te streef om Hom te behaag nie. Jy hoef nie sy Woord beter te ken om toegang tot sy troon te hê nie. Jesus het aan die kruis jou ten volle aanvaarbaar gemaak vir God. Hy het die hele prys betaal vir jou versoening. En Hy het volle toegang na die hemel vir jou voorsien. Jy kan enige tyd na die Vader gaan.

Jy moet oortuig wees die enigste manier waarop jy heilig gemaak word, is deur God se beloftes te glo. “Net soos Abraham in God geglo het, en dit is hom tot geregtigheid gereken...Sodat die wat uit die geloof is, geseën word saam met die gelowige Abraham” (Galásiërs 3:6,9). Dit is die rede waarom so baie Christene geteister word met skuld, vrees en onrus. Hulle rus nie in wat Jesus gedoen het nie. In plaas daarvan, strewe hulle om God te behaag met hulle vlees. Hulle lewe nie deur geloof nie, maar deur hulle onseker gevoelens.

Die Joodse bekeerlinge in Galásië het gedink dat as hulle hulle eie bloed kon stort, dit kon byvoeg by die versoenende krag van Christus se bloed. Mag dit nooit so wees nie! Hulle het totaal uit die vryheid van geloof beweeg na die juk van slawerny van die vlees. En hulle het die heidense bekeerlinge oortuig dat die pyn van besnyding hulle heiliger maak in God se oë – dat al hulle fisieke pyn hulle daarop sou kon laat aanspraak maak om te eis, “Here, sien hoe graag wil ek U behaag.” Nee, hulle het dit mis gehad!

Daar is slegs een manier vir ons om die stryd te wen teen alles wat ons teister. Ons doen dit deur te glo en hierdie waarheid te aanvaar: “Ek is met God versoen, en ek is nie langer onder sy toorn nie. Jesus het vir my vrede gemaak by die Vader.” Paulus sê vir ons, “Want dit het die Vader behaag dat in Hom die ganse volheid sou woon en dat Hy deur Hom alles met Homself sou versoen nadat Hy vrede gemaak het deur die bloed van die kruis...” (Kolossense 1:19-20).

Om te versoen beteken om ‘n verhouding wat verbreek is te herstel. Dit dui op ‘n geneesde, herstelde vriendskap, wat eens vervreemd was. Christus het hierdie versoening vir ons aan die kruis bewerk. Deur sy versoenende krag, het die Here aan ons verklaar, “Ek het die inisiatief geneem om jou gebroke verhouding met My te herstel.”

“Ook julle wat vroeër vervreemd was en vyandig gesind deur die bose werke het Hy nou versoen” (Kolossense 1:21). Paulus sê hier, “Jy het in kompromie verval en was weggevoer deur die krag van ‘n een of ander goddelose ding. Op daardie punt, het God in jou gedagtes ‘n vyand geword. Jy het vervreemd gevoel van sy liefde en het gedink, ‘Nou is die Here kwaad vir my. Hoe kan ‘n God van heiligheid nie kwaad wees wanneer Hy sien wat ek gedoen het nie?”

Dit is wat heersende sonde in jou gedagtes doen: dit oortuig jou God wil jou oordeel. Dit veroorsaak dat jy uit sy teenwoordigheid wegvlug en jou verswelg in jou gevoel van onwaardigheid, onreinheid en nutteloosheid. Die ergste van alles, dit fluister dat jy jou pad moet terug werk na God se guns toe.

Maar jou Here het inderdaad nooit van jou af weggeloop nie. Hy het nog nooit van plan verander oor jou nie. Dieselfde Heilige Gees wat jou gedoop het, leef steeds binne-in jou. Hy fladder nie in en uit jou lewe weens jou stryd nie. Volgens Paulus vra God slegs een ding van jou: “As julle ten minste gegrond en vas bly in die geloof en julle nie laat afbring van die hoop van die evangelie nie, wat julle gehoor het” (Kolossense 1:23).

Die Here het selfs beloof “om julle heilig en sonder gebrek en onberispelik voor Hom te stel” (Kolossense 1:22). Met ander woorde, “Ek sal die werk doen, nie jy nie.” Al wat jy hoef te doen, is om te glo jy is versoen, om sy vergewende genade te vertrou en sy liefde en vriendskap teenoor jou te aanvaar. Om voort te gaan in geloof is jou oorwinning.

“Daarom, as iemand in Christus is, is hy ‘n nuwe skepsel; die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword. En dit alles is uit God wat ons met Homself versoen het deur Jesus Christus en ons die bediening van die versoening gegee het” (2 Korinthiërs 5:17-18).

Sê vir my, wanneer het jy opgehou om ‘n nuwe skepsel in God se oë te wees? Was dit toe jy iets gedoen het om Hom te mishaag? Hoe het jy gegaan van weergebore te wees na nie weergebore te wees nie? Dit kan eenvoudig nie wees as jy steeds op Hom vertrou nie. Paulus verklaar uitdruklik, “God wat ons met Homself versoen het deur Jesus Christus” (2 Korinthiërs 5:18). Sy werk in jou lewe bly staan!

God belowe Hy sal veroorsaak dat jy versoen, heilig en onberispelik voor die Oordeelstroon sal staan. Al wat jy nodig het om te doen, is om daardie belofte te aanvaar. Glo in sy liefde en vriendskap vir jou. Dan sal jy die diep, blywende versoening wat Jesus vir jou behaal het, ken. Halleluja!