Sal Jy Sy Leiding Volg?

David Wilkerson (1931-2011)

“Ek wil jou onderrig en jou leer aangaande die weg wat jy moet gaan; Ek wil raad gee; my oog sal op jou wees. Wees nie soos 'n perd, soos 'n muilesel wat geen verstand het nie, wat 'n mens moet tem met toom en teuel as sy tuig, anders kom hy nie naby jou nie” (Psalm 32:8-9).

In hierdie twee kort verse gee God vir ons een van die grootste lesse rakende leiding in die hele Skrif. Eerstens is daar ‘n kosbare belofte, ‘n fondament waarop ons ‘n groot geloof kan bou. Hierdie fondament is sy gewilligheid om ons in alles te lei en te rig! In die begin van die hoofstuk, sal jy ontdek dat hierdie belofte aan spesiale mense gebied word – hulle wie se sonde bedek is en in wie daar geen bedrog is nie; wat die Here se hand swaar op hulle het; wat goddelik is en bid op ‘n tyd waarin hulle gehoor kan word; wat verborge is en bewaar word van probleme; en wat liedere van verlossing sing.

Maar die Woord van God sê ‘n mens kan ‘n gelowige wees wat al die skriftuurlike voordele van ‘n kind van God het en steeds ‘n hardkoppige muil wees wanneer dit daarby kom om hom aan sy leiding te onderwerp. God het van Israel gesê, “Veertig jaar het Ek 'n afkeer gehad van hierdie geslag en gesê: Hulle is 'n volk met 'n dwalende hart, en hulle ken my weë nie” (Psalm 95:10).

God in in wese gesê, “Na al daardie lang jare waartydens julle my liefdevolle leiding en wonderbaarlike verlossing beleef het, het hulle steeds nie die vaagste benul gehad van hoe Ek optree nie! En hulle het nooit eens probeer om my beginsels van leiding te verstaan nie.”

God wil ‘n volk hê wat Hom goed genoeg ken om te reageer op sy geringste aanmoediging, maar die meeste gelowiges bring nie genoeg tyd in sy teenwoordigheid deur om Hom op hierdie manier te ken nie. Die Israeliete was hardkoppige kinders, te selfgesentreerd om God met hulle toekoms te vertrou. Hulle wou ‘n vinnige, maklike uitweg uit hulle moeilike situasies hê en hulle het niks geleer uit die bonatuurlike leiding wat hulle uit slawerny geneem het tot by die rand van die Beloofde Land nie.

Geliefde, God sou ons baie eerder lei met sy oog as met ‘n stang en ‘n toom. Hy wil hê om moet ‘n vaste kennis hê van sy weë en ‘n ononderbroke versekering van sy hand van leiding op ons.