Bid in Ooreenstemming met God se Wil

Jim Cymbala

“En net so kom ook die Gees ons swakhede te hulp, want ons weet nie reg wat ons moet bid nie, maar die Gees self tree vir ons in met onuitspreeklike sugting” (Romeine 8:26).

Die kompleksiteite en hartseer van die lewe kan ons so oorweldig dat ons nie woorde tydens gebed kan vind nie. Selfs die apostel Paulus het hierdie dilemma beleef; hy praat van “ons swakheid” en erken dat “ons nie weet hoe om te bid nie.” Maar die Gees van God woon in ons om ons te help om bo ons beperkte vermoë te bid, want “Hy wat die harte deursoek, weet wat die bedoeling van die Gees is, omdat Hy ooreenkomstig die wil van God vir die heiliges intree” (Romeine 8:27). Hoewel verstaanbare woorde nie altyd gebruik word nie, staan die Gees ons by om die voorwaardes na te kom om volgens God se wil te vra – die geheim van ‘n suksesvolle gebed. Ons moet dit glo en oop wees vir die hedendaagse bediening van die Heilige Gees.

Vir elke mens wat nalaat om te bid weens wanbegrip oor God se soewereiniteit, is daar iemand anders wat baie bid maar met die verkeerde motiewe. Dus voeg Jakobus hierdie vermaning by: “Julle bid en julle ontvang nie, omdat julle verkeerd bid, om dit in julle welluste deur te bring” (Jakobus 4:3).

Vandag “eis” mense dinge op wat nooit belowe is aan Nuwe Testamentiese gelowiges nie, terwyl die geestelike krag en genade wat die wêreld nodig het, geïgnoreer word. Die eerste reël van gebed, is nie “geloof” nie, maar of die versoek volgens God se wil is. Laat ons nie vergeet dat die Here steeds as heerser oor die heelal op sy troon sit!

Hoewel dit soms moeilik is om God se wil te onderskei, sal Hy ons leer hoe om te bid as ons nederig op leiding wag. Twee kragtige beloftes kan aan ons gebedslewe ‘n nuwe begin gee sodat ons gereeld met vrymoedigheid kan bid:

  • “En as iemand van julle wysheid kortkom, laat hom dit van God bid, wat aan almal eenvoudig gee sonder om te verwyt, en dit sal aan hom gegee word” (Jakobus 1:5).
  • En my God sal elke behoefte van julle vervul na sy rykdom in heerlikheid deur Christus Jesus” (Filippense 4:19).

Mag God se beloftes jou gebed aanvuur sodat jy nie langer bang is om groot dinge van Hom te vra en te ontvang nie.

Jim Cymbala het die Brooklyn Tabernacle begin met minder as twintig lede in ‘n klein bouvallige gebou in ‘n ongure deel van die stad. Hy is oorspronklik van Brooklyn en is ‘n jarelange vriend van beide David en Gary Wilkerson.