Christus se Stilmaking van Satan se Beskuldigings

David Wilkerson (1931-2011)

“Maar Christus, wat opgetree het as Hoëpriester van die toekomstige weldade, het deur die groter en volmaakter tabernakel wat nie met hande gemaak is nie ... een maal ingegaan” (Hebreërs 9:11,12).

Net soos die hoëpriester met die trappe na die allerheiligste opgeklim het op die Dag van Versoening, het ons Hoëpriester Jesus opgevaar na die hemelse tabernakel. Trouens, Johannes beskryf waar hy Jesus in sy priesterlike kleed sien: “met ‘n kleed aan wat tot op die voete hang, en gegord om die bors met ‘n goue gordel” (Openbaring 1:13).

Jesus het in die hemel opgevaar as ons Hoëpriester om voorbidding vir ons te doen. Hy geniet die heerlikheid wat Hy verdien maar Hy doen ook ‘n werk ook om ons onthalwe. Die psalmdigter skryf in Psalm 68: “U het opgeklim na die hoogte, U het gevangenes weggevoer, U het geskenke geneem onder die mense ... Geloofd sy die Here! Dag ná dag dra Hy ons; God is ons heil!” (Psalm 68:19-20). Hy sê in wese, “Ons Verlosser het vir ons alle gawes en voordele gegee wat ons nodig het om in vryheid te leef!”

En die skrywer van Hebreërs herinner ons dat Jesus se werk in die hemel alles vir ons is: “Want Christus het nie ingegaan in ‘n heiligdom met hande gemaak, ‘n teëbeeld van die ware nie, maar in die hemel self om nou voor die aangesig van God vir ons te verskyn” (Hebreërs 9:24). “Omdat Hy altyd leef om vir hulle in te tree” (Hebreërs 7:25). Christus doen dit alles vir ons, sy kinders.

Wat presies beteken hierdie frase egter, “Hy leef om vir ons in te tree”? Sommige van ons stel ons voor dat Jesus voor die Vader staan en by Hom pleit om ons genadig te wees wanneer ons misluk. Maar Christus se voorspraak vir ons het te doen met Satan se beskuldigings teen ons. Jy sien, die duiwel kom na God se troon om ons te beskuldig van alle mislukkings en oortredings en hy eis “geregtigheid.” Maar Jesus tree onmiddellik in en eis dat hy sy hande van ons afhou.

Jesus doen ook voorspraak in ons eie harte en versoen ons met die Vader. Hy herinner ons dat ons vergewe is en dat ons God se getrouheid kan vertrou om vir ons al die krag en sterkte wat ons nodig het te voorsien.

As gevolg van Christus se voorspraak, kan jy sê. “Ek mag dalk stryd met die vlees hê, maar ek weet wat Jesus vir my gedoen het. Sonde kan my nie langer hou nie want Hy is my Hoëpriester.”