Aanmoediging om in Heiligheid te Groei

David Wilkerson (1931-2011)

Diegene wat tyd saam met Jesus deurbring, kan nie genoeg van Hom kry nie. Hulle harte roep gedurig uit om die Meester beter te leer ken, om nader aan Hom te kom en om te groei in die kennis van sy weë.

Paulus praat van, “Die maat van geloof soos God dit aan elkeen toebedeel het” (Romeine 12:3). Die “maat” waarvan Paulus beteken ‘n beperkte aantal; met ander woorde, ons het almal ‘n sekere hoeveelheid van die reddende kennis van Christus ontvang.

Sommige gelowiges is heeltemal tevrede met hulle aanvanklike “maat.” Dit is net genoeg om oordeel te ontvlug, om vergewe te voel en om ‘n goeie reputasie te behou. Sulke mense is in “instandhoudingsmodus” en hulle gee Jesus slegs die basiese vereistes: kerkbywoning, ‘n gemompelde daaglikse gebed, miskien ‘n vinnige kykie na die Skrif. Kortliks, hierdie Christene vermy dit om te naby aan Christus te kom. Hulle weet dat as hulle meer van sy Woord lees of tyd in gebed deurbring, sal die Heilige Gees eise aan hulle lewens stel.

Paulus het egter die volgende vir elke gelowige begeer: “En Hy het gegee sommige as apostels...profete...evangeliste...herders...leraars, om die heiliges toe te rus...totdat ons almal ... in alles sou opgroei in Hom wat die Hoof is, naamlik Christus” (Efésiërs 4:11-13,15).

Paulus het in wese gesê, “God het hierdie geestelike gawes gegee sodat julle vervul kan word met Christus se Gees. Dit is deurslaggewend, omdat verleiers kom om julle van julle geloof te beroof. As julle in Christus gewortel is en in Hom opgroei, sal geen misleidende leerstelling julle ooit laat wankel nie. Die enigste manier om so ‘n volwassenheid te ontwikkel, is om meer van Jesus te soek.”

Baie gelowiges verkies ‘n evangelie wat net van genade, liefde en vergifnis praat – sekerlik wonderlike Bybelse waarhede – maar volgens Paulus, is dit nie die vaste spys wat ‘n volwasse lewe nodig het nie. Jy sal nie tot volle grootte in Christus groei as jy weier om ‘n evangelie te hoor wat jou uitdaag om die Here te soek en in sy heiligheid te wandel nie.

Hoe meer iemand saam met Jesus is, hoe meer word daardie mens soos Hy – in reinheid, heiligheid en liefde. Op sy beurt, wek sy rein lewe ‘n groot vrymoedigheid vir God binne-in hom op.

Tags