Die Bewys van Tyd Saam Met Jesus Deurgebring

David Wilkerson (1931-2011)

Nadat Petrus en Johannes ‘n verlamde bedelaar buite die tempelpoort bedien het en die man genees was, het hulle met vrymoedigheid bekering verkondig en die mense bedien. “En baie van die wat die woord gehoor het, het geglo; en die getal van die manne het omtrent vyfduisend geword” (Handelinge 4:4). As gevolg van hulle getuienis, was Petrus en Johannes voor die hoëpriester en oudstes gebring. “En toe hulle hul voorgebring het, vra hulle: Deur watter mag en deur watter naam het julle dit gedoen?” (Handelinge 4:7).

Hierdie verhoor was georkestreer om Petrus en Johannes te intimideer maar dit het die teenoorgestelde effek gehad. Petrus moes gedink het, “Dankie Jesus, omdat U my toegelaat het om u Naam aan hierdie Christus-haters te verkondig.” Dit sê vir ons dat Petrus nie ‘n stil en stemmige les sou gee nie. Nee, hy was ‘n man deur Jesus besit, tot barstens toe vol met die Heilige Gees en gereed om die waarheid te verkondig!

Petrus se vrymoedigheid was egter nie ‘n astrante, veroordelende woord nie. Sy doel was nie om daardie godsdienstige leiers te veroordeel of te verkleineer nie. Hy wou bloot hê hulle moes hulle sonde besef en hulle bekeer. Dit is waarom hy ‘n altaaroproep gegee en gesê het, “En die saligheid is in niemand anders nie, want daar is ook geen ander naam onder die hemel wat onder die mense gegee is, waardeur ons gered moet word nie” (Handelinge 4:12).

Die owerstes van die sinagoge was stomgeslaan. “En toe hulle die vrymoedigheid van Petrus en Johannes sien en verstaan dat hulle ongeleerde en eenvoudige manne was, was hulle verwonderd en het hulle as metgeselle van Jesus herken” (Handelinge 4:13).

Petrus moes seker vir Johannes geknipoog en miskien gedink het, “Hulle onthou dat ons saam met Jesus was weke gelede maar hulle besef nie dat ons sedertdien by die opgestane Meester was nie.” Die twee mans was onlangs saam met Hom in die bovertrek en daardie oggend, was hulle saam met Hom terwyl hulle in hulle sel gebid het.

Dit is wat met mans en vroue gebeur wat tyd saam met Jesus deurbring. Selfs as hulle uit hulle tyd saam met Christus kom, is Hy steeds met hulle waar hulle ook al gaan.

Wanneer die krisis tref, het jy nie tyd om jouself met gebed en geloof op te bou nie – hulle wat by Jesus was, is altyd gereed. Dit is waarlik ‘n blye versekering.