God se Lig Verander Alles

Gary Wilkerson

“En vroeg in die môre het Hy weer in die tempel gegaan, en al die mense het na Hom gekom, en Hy het gaan sit en hulle geleer” (Johannes 8:2).

Jesus se reputasie het oral versprei omdat Hy diepgaande woorde gespreek en magtige werke van God gedoen het. Die skare gewone mense het egter skaars bymekaargekom of die godsdienstige leiers het ook opgedaag.

“En die skrifgeleerdes en Fariseërs het ‘n vrou wat in egbreuk betrap was, na Hom gebring. En toe hulle haar tussen hulle in laat staan het, sê hulle vir Hom: Meester, hierdie vrou is op ’n daad van egbreuk betrap; en Moses het ons in die wet bevel gegee om sulke vroue te stenig; maar U, wat sê U?” (8:3-5). Hierdie leiers het Jesus as ‘n bedreiging vir hulle gesag gesien omdat Hy hulle rigiede, selfregverdigende praktyke geopenbaar het, en hulle het probeer om Hom in ‘n strik te vang (sien 8:6).

Die toneel het dramaties ontvou. Jesus het neergebuk en met die vinger op die grond geskryf, maar toe hulle op ‘n antwoord aandring, het Hy opgestaan gesê: “Laat dié een van julle wat sonder sonde is, die eerste ‘n klip op haar gooi.” Toe het Hy weer afgebuk en op die grond geskryf – en toe het hulle een vir een weggegaan.”

“En toe ... sê Hy vir haar: Vrou, waar is daardie beskuldigers van jou? Het niemand jou veroordeel nie? En sy antwoord: Niemand nie, Here. En Jesus sê vir haar: Ek veroordeel jou ook nie. Gaan heen en sondig nie meer nie” (Johannes 8:10-11).

Terwyl Jesus ‘n spanningsbelaaide situasie ontlont het, het Hy van die oomblik gebruik gemaak om een van sy heel beroemdste leerstellings te lewer: “Ek is die lig van die wêreld; wie My volg, sal sekerlik nie in die duisternis wandel nie, maar sal die lig van die lewe hê” (Johannes 8:12). God se lig op daardie oomblik, het alles verander!

Jesus het elke hart wat daar teenwoordig was, verander – wat ‘n wonderlike oomblik. Die magtige liefde agter God se genade was geopenbaar en in die skares se oë was dit ‘n wonderwerk wat hulle dadelik verander het. Jesus het daardie treffende oomblik gebruik om aangaande die kruis te leer: “Wanneer julle die Seun van die mens verhoog het, dan sal julle weet dat dit Ek is; en uit Myself doen Ek niks nie; maar net wat my Vader My geleer het, dit spreek Ek .... Terwyl Hy hierdie dinge spreek, het baie in Hom geglo” (8:28-30).

Elke keer wat jy soos Jesus optree, verleen jy genade aan hulle wat deur sonde ingeperk word en jy neem deel aan ‘n groot verandering. Alles deur die wonderlike genade van ons Saligmaker!