Leiding van Die Groot Herder

Gary Wilkerson

Ons Herder is ‘n getroue Leidsman vir ons in alles, maak nie saak watter verkeerde besluite ons geneem het nie, “Ek het gekom, dat hulle lewe en oorvloed kan hê” (Johannes 10:10).

Almal weet hoe belangrik dit is om ‘n kwaliteit raadgewer te hê. Dink aan die belangrike lewensbesluite wat jy gemaak het. Was diegene wat jou leiding gegee het ervare, vaardig en kundig om jou te kry waarheen jy wou gaan? God gebruik sy kinders om ander op die pad te help, maar Jesus gee die kortste en direkste leiding van almal en Hy stel dit baie eenvoudig, “Volg my” (Matthéüs 9:9).

Jesus illustreer die ryk, bevredigende lewe wat Hy vir ons het deur die beeltenis van ‘n skaapkraal te gebruik. “Ek is die deur; as iemand deur My ingaan, sal hy gered word, en hy sal ingaan en uitgaan en weiding vind” (Johannes 10:9). Daar in die kraal, is sy skape beskerm teen alle vyande terwyl hulle wei op die goeie “weiding” van God se koninkryk en so gesondheid, vrede en vryheid geniet.

Satan wil ons beroof van die lewe wat God vir ons beplan het. “Die dief kom net om te steel en te slag en te verwoes” (10:10). Hy doen dit deur ons te wil wegneem van die goeie “weiding” (d.i. noodsaaklike geestelike kos) wat Jesus vir ons gee. Onvolwasse Christene is die kwesbaarste as hulle op ‘n diëet van “melk” bly en nooit verder gaan na die vaste kos van God se Woord nie. Hulle is veral kwesbaar vir Satan se planne ten tye van krisisse en word verlam deur vrees en bekommernis en dink, “Ek weet nie hoe om ‘n besluit te maak nie. Waar is U, God?”

Die Skrif sê vir ons dat daar wysheid in ‘n menigte van raadgewers is (sien Spreuke 11:14). God gebruik die goddelike leiding van ‘n getroue herder, ‘n professionele berader of selfs toegewyde Christelike vriende. Die verskil met Jesus is dat Hy altyd daar is vir ons: “Ek is die goeie herder. Die goeie herder lê sy lewe af vir sy skape” (10:11).

As jy ware leiding in die lewe wil hê, leer om jou Herder se stem te leer ken. Het jy leiding in jou lewe nodig? Gaan dan terug na daardie twee eenvoudige woorde van die Meester: “Volg My.” Hou jou oë op Jesus gevestig en fokus op wat sy Woord sê. Hy sal jou nooit in die steek laat nie, jou nooit verlaat nie en het altyd die beste vir jou in gedagte.