Godgegewe Planne Teen Satan se Taktiek

David Wilkerson (1931-2011)

Paulus het twee briewe wat kragtige leringe bevat het aan die Korinthiërs geskryf. Hy het onderrig oor die opstanding, die koms van die Here, die oordeelstroon van Christus, dood vir sonde, geregtigheid deur geloof en die hemel en die hel. Paulus het hierdie mense gewaarsku, hulle aangemoedig en by hulle gepleit. Daar was ongetwyfeld geen ander liggaam van gelowiges so liefdevol gelei, so goed onderrig en so opgebou deur die evangelie van genade nie.

Verder was die Korinthiërs geseën met meer as Paulus se lering. Hulle het kragtige werkinge van die Heilige Gees in hulle midde beleef en was toegerus met baie geestelike gawes. Dit was ‘n lewendige, profetiese, aan-die-brand kerk! Maar dit is egter ongelooflik dat ‘n aantal van hierdie gelowiges in onsedelikheid gelewe het. Paulus het baie van hulle van “onreinheid” beskuldig (2 Korinthiërs 12:21) en hy het geskryf, “Dit is die derde keer dat ek na julle toe kom ... Ek het dit vroeër gesê ...dat as ek weer kom, ek nie sal spaar nie ... Daarom skryf ek dit weer in my afwesigheid om nie, as ek teenwoordig is, strengheid te gebruik nie, volgens die gesag wat die Here my gegee het om op te bou en nie om af te breek nie” (13:1-2,10).

Paulus het nie doekies omgedraai nie. Hy het in wese gesê, “Twee keer het ek julle nou gewaarsku oor die sonde in julle gemeente. Julle het onder goddelike, veroordelende prediking gesit en deel gehad aan God se gawe van genade. Maar sommige van julle het daardie genade verdraai deur doelbewus in onreinheid te lewe.”

Elke Sondag, kom belydende Christene byeen om te aanbid, God se Woord te hoor en gemeenskap te geniet. Maar baie van dieselfde mense lei sondegevulde lewens. Judas waarsku, “Want sekere mense het ingesluip wat lank tevore al opgeskryf is vir hierdie oordeel, goddelose mense wat die genade van onse God verander in ongebondenheid, en die enigste Heerser, God en onse Here Jesus Christus verloën” (vers 4). Met ander woorde, mense sal probeer om al die eerbied vir die dinge van God te verdraai en verwronge te maak.

Judas gee drie maniere van verdediging teen Satan se verleidings in Judas 20-21:

  1. Bou jouself op in jou geloof deur pligsgetrou God se Woord te bestudeer.
  2. Bid in die Heilige Gees.
  3. Moenie angstig wees nie, maar in plaas daavan, verwag die Here se koms.

Elkeen van ons besit die vermoë om te bid, om God se Woord te lees en om Jesus se spoedige terugkeer te verwag. As ons hierdie dinge doen, sê Juda, sal ons die voordele van hierdie gebed beleef: “Aan Hom nou wat magtig is om julle vir struikeling te bewaar en julle sonder gebrek voor sy heerlikheid te stel met gejuig” (24).