Aangeblaas tot ‘n Vlam

Gary Wilkerson

Wanneer dit by ons wandel met Christus kom, wys die Bybel vir ons dat daar ‘n deurslaggewende verskil tussen ‘n vonk en ‘n fakkel is wat ons kan sien wanneer ons die lewens van Saul en Dawid beskou. Saul het ervarings met God gehad wat in hom ‘n groot ywer opgewek het en hom tot aksie aangespoor het. “En die Gees van God het oor Saul vaardig geword terwyl hy dié woorde hoor, en hy het baie kwaad geword. En hy het ‘n paar beeste geneem en hulle stukkend gesny en met boodskappers deur die hele gebied van Israel gestuur om te sê: Wie nie agter Saul en agter Samuel aan uittrek nie – so sal met sy beeste gedoen word!” (1 Samuel 11:6-7).

Elke keer na die talle oomblikke van salwing in sy lewe, het Saul weggedryf van sy passie vir die Here af. Een welbekende geleentheid van ongehoorsaamheid was toe God Saul beveel het om Agag, die vyand, wat die koning gevang het, dood te maak en al die buit wat hulle in die oorlog gebuit het, te vernietig. Maar Saul het Agag laat leef en sommige van die buit gehou en deur dit te doen, het hy die Heilige Gees se werk in sy lewe geblus (1 Samuel 15:8-10).

Aan die ander kant, het God Dawid opgerig om Israel se volgende koning te wees. Soos Dawid se reputasie vir dapper gehoorsaamheid gegroei het, het die vrug van sy gehoorsaamheid gegroei en dit het Saul jaloers gemaak. Op een stadium, was Saul van plan om Dawid dood te maak en het hom vasgekeer in ‘n grot. Maar die Here was hom genadig en het Hy Saul gekeer voor hy sy plan kon uitvoer. Eenvoudig gestel, Saul was geneig om afvallig te raak, maar steeds het die Here se genade na hom toe teruggekeer.

Dawid het dieselfde geestelike ervarings as Saul gehad waarin hy deur God aangeraak en gesalf is, maar die vonk wat Dawid ontvang het, was aangeblaas tot ‘n vlam. “Samuel neem toe die horing met die olie en salf hom te midde van sy broers, en die Gees van die Here het van dié dag af en verder oor Dawid vaardig geword” (16:13). Die frase “van dié dag af” – toon die verskil tussen Dawid en Saul se lewens aan. Toe Dawid die vonk van God ontvang het, het hy dit bewaar, dit gestook en brandstof gegee. Hy was vasbeslote, “Ek wil hê dat hierdie vonk verander in ‘n brandende fakkel vir die Here.”

Bid saam met my vandag, “God, dankie dat U my aanraak met die Heilige Gees. Salf my met krag om uit te reik na diegene rondom my en met genade om die dwingende liefde van Jesus uit te straal.”