Wat is Nodig vir ‘n Welbehaaglike Lewe?

David Wilkerson (1931-2011)

“Die Here vertraag nie die belofte soos sommige dit vertraging ag nie, maar Hy is lankmoedig oor ons en wil nie hê dat sommige moet vergaan nie, maar dat almal tot bekering moet kom. Maar die dag van die Here sal kom soos ’n dief in die nag” (2 Petrus 3:9-10). 

Op hierdie oomblik, beleef die wêreld skrikwekkende wanorde. God waarsku sy getroues sodat hulle nie deur vrees meegesleur word wanneer skielike rampe tref nie. God se kinders moet weet dat wat ook al gebeur, dit is nie ‘n ongeluk of ‘n willekeurige gebeurtenis nie. Hulle moet die vrede van God in hulle harte hê en weet dat God steeds die Meester van die heelal is. Op hierdie manier, sal hulle gewaarsku wees en nie paniekerig word wanneer ander mense se harte van vrees beswyk nie.

Baie Christene sal dalk ineenkrimp as hulle Paulus se boodskap lees en innerlik wonder, “Waarom moet ons hieraan herinner word? Daar is alreeds soveel slegte nuus en spanning.”

Petrus gaan verder en sê, “Noudat julle dit dan vooruit weet, geliefdes, moet julle op jul hoede wees dat julle nie miskien meegesleep word deur die dwaling van sedelose mense en wegval uit jul eie vastigheid nie. Maar julle moet toeneem in die genade en kennis van onse Here en Saligmaker, Jesus Christus” (3:17-18).

Paulus het ook gepreek dat ons “waardiglik voor die Here mag wandel om Hom in alles te behaag en julle in elke goeie werk vrug mag dra en in die kennis van God mag groei” (Kolossense 1:10).

As ons hierdie twee apostels se boodskappe beskou, wat kan ons verwag is die boodskap vir ‘n samelewing wat op die punt staan om geoordeel te word? Daardie boodskap kom van Paulus af en is gerig aan Christus se geliefdes: “My gebed vir jou is dat jy intimiteit nastreef, in geestelike begrip groei en waardig teenoor Christus leef” (Kolossense 1:9-10, geparafraseer).

Wat is nodig vir so ‘n welbehaaglike lewe? Paulus sê vir ons: “Beklee julle dan, as uitverkorenes van God, heiliges en geliefdes, met innerlike ontferming, goedertierenheid, nederigheid, sagmoedigheid, lankmoedigheid. Verdra mekaar en vergewe mekaar as die een teen die ander ’n klag het; soos Christus julle vergeef het, so moet julle ook doen” (Sien Kolossense 3:12-13).

Om jou lewe met Christus te ondersoek, beteken nie soseer om ag te gee op wat jy doen nie, maar wat jy word. Petrus en Paulus sê beide, “Moenie vrees vir wat voorlê nie. Hou altyd God se Woord in herinnering te alle tye, deur alle dinge. En in die tussentyd, laat die Heilige Gees jou verander in ‘n mens wat anders en meer soos Christus is.”