Gebind aan die Lewende Woord

David Wilkerson (1931-2011)

Die Here heers oor die hele skepping met majesteit en krag. Sy wette beheer die hele heelal – die hele natuur, elke land en alle sake van mense. Hy heers oor die see, die planete, die hemelliggame en al hul bewegings. Die Bybel sê vir ons: “Hy heers vir ewig deur sy mag; sy oë hou wag oor die nasies” (Psalm 66:7). 

Hierdie Psalm is geskryf deur Dawid, wat in wese getuig: “Here, u getuienisse – u wette, verordeninge en woorde – is onherroeplik. Hulle is volkome betroubaar.” Die skrywer van Hebreërs beaam dit en verklaar dat God se Lewende Woord ewig en onveranderlik is: “gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid” (Hebreërs 13:8). 

Dink daaraan: daar is wette in die heelal wat beheer hoe dinge werk, sonder uitsondering. Beskou die wette wat die bewegings van die son, maan, sterre en aarde beheer. Hierdie hemelliggame is almal in hulle plekke gestel toe God ‘n woord gespreek het, en sedertdien word hulle beheer deur wette wat God ook in wording gespreek het. 

Ons word dwarsdeur die Nuwe Testament gesê dat hierdie groot God ons Vader is en dat Hy Hom oor sy kinders ontferm. Hebreërs sê vir ons dat die Here medelye het met die gevoelens van ons swakhede, en dat Hy elke uitroep hoor en elke traan opvang. Daar word egter ook vir ons gesê dat Hy die regverdige Koning is wat volgens sy wet oordeel. En sy Woord is sy grondwet, wat al sy wetlike verordeninge bevat, waardeur Hy regverdig oordeel. Alles wat bestaan word geoordeel deur sy onveranderlike Woord. 

Eenvoudig gestel, ons kan die Bybel in ons hande hou en weet: “Hierdie boek vertel my wie God is. Dit beskryf sy eienskappe, aard, beloftes en oordele. Dit is sy regstaat, uit sy eie mond, waardeur Hy heers en regeer. En dit is ‘n Woord waaraan Hy Homself verbind het.”

Elke aardse regter is verplig om die saak voor hom volgens die vasgestelde wet te bepaal. God regeer en oordeel alles voor Hom volgens die ewige wet - dit wil sê sy eie gevestigde Woord. Wanneer die Here uitspraak lewer, spreek Hy volgens sy lewende Woord, ‘n Woord waaraan Hy Homself verbind het.

Tags