Die Lem van Christus

Dit was Jesus se laaste nag saam met die dissipels en Hy het geweet dat sy tyd min was. Hulle het pas aandete genuttig en Christus wou aan sy vriende een laaste lering oordra terwyl Hy nog op die aarde was. Hy het hulle beveel, “Staan op, laat ons hiervandaan weggaan” (Johannes 14:31) en het hulle op ‘n wandeling geneem. Op pad het Hy vir hulle hierdie vergelyking gegee:

“Ek is die ware wynstok, en my Vader is die landbouer. Elke loot wat in My nie vrug dra nie, neem Hy weg; en elke loot wat vrug dra, dié maak Hy skoon, sodat dit meer vrug kan dra. Julle is alreeds rein deur die woord wat Ek tot julle gespreek het. Bly in My, soos Ek in julle. Net soos die loot geen vrug kan dra van homself as dit nie in die wynstok bly nie, so julle ook nie as julle in My nie bly nie. Ek is die wynstok, julle die lote” (Johannes 15:1-5).

Wat ‘n wonderlike opsomming van die verhouding tussen die Seun en die Vader. Jesus is die wynstok en ons is die lote wat van Hom uitgaan; Hy is die bron van alle lewe wat in ons vloei. Wie toesig hou oor hierdie lewensvloei is ons hemelse Vader, die landbouer, wat sorg dat ons groei. Kan daar enige rustiger beeld van ons lewens in Christus wees?

Wat egter ook in hierdie vergelyking ingesluit is, is ‘n ander soort beeld: “Elke loot wat in My nie vrug dra nie, neem Hy weg” (Johannes 15:2). Baie Christene deins terug as hulle hierdie vers lees. Niemand hou van die gedagte om weggeneem te word deur God as hulle lewens nie heilige vrug dra nie. Vir hulle is hierdie vers genoeg rede om vas te hou aan prestasiegedrewe godsdiens, ‘n stelsel waarmee hulle kan meet of hulle wel vrug dra. Is dit egter waarna Jesus hier soek?

Daar is baie om uiteen te sit in hierdie een gedeelte en ek kan julle verseker, alles daarvan is goed. Die beeld wat ek vir hierdie boodskap gekies het — ‘n lem — mag dalk oënskynlik te kras of erg klink. Maar die lem waarna ek verwys, is die instrument van ‘n kundige landbouer of tuinier — ons barmhartige, deernisvolle, liefdevolle Here. Ek wil die diep skoonheid wat bevat word in hierdie afskeidsboodskap, wat Hy aan sy kerk gegee het, ondersoek.

Christus vertel vir ons dat Hy meer is as ‘n lewensbron vir ons — Hy is DIE lewensbron. Ander “wynstokke” mag skynbaar lewe beloof, maar nie een daarvan bevat ware lewe soos Hy nie. Sommige Christene soek lewe by ander wynstokke, bronne wat nie geregverdig is vir enige Christen nie en lewe vernietig. Ander soek lewe by bronne wat goed en geldig lyk — ambisie en strewe, sukses en gemak — maar hierdie wynstokke is op sigself leweloos. Hulle kan nie ware lewe skep nie. Jesus wil ons diep in Hom geënt hê sodat ons elke dag diep van sy oorvloedige lewe kan drink.

Verder, toe Jesus na Homself verwys het as die “ware” wynstok, het Hy gepraat van meer as net akkurate inligting. “Ware” hier dra dieselfde betekenis as die frase “ware vriend” — wat beteken werklike, opregte, egte, byderhand met ondersteuning van hulpbronne.

So, wat van die tuinier, ons hemelse Vader? Hy sorg vir sy tuin met liefde en op die perfekte manier. Sy werk is om die lewe deur ons te laat vloei en Hy kan vertrou word om die regte dinge in plek te stel om dit te laat groei. Daarom, as ons in Christus bly, vas aan die wynstok, hoef ons nie gespanne of bekommerd te wees oor ons lewens nie. Ons word die ware lewensvloei van Jesus gegee en word liefdevol deur ons Vader versorg.

Jesus maak dit duidelik, “Elke loot wat in My nie vrug dra nie, neem Hy weg” (Johannes 15:2). Hoe vreemd: As ons in die wynstok geënt is, is ons nie veronderstel om vanselfsprekend vrug te dra nie? Ons weet ons is gered en veilig in Christus en begenadig en geseënd deur die Vader se liefde. Hoe kan daar nie vrug hiervan kom nie?

Weer verskaf Jesus die sleutelwoord: “Bly in My, soos Ek in julle. Net soos die loot geen vrug kan dra van homself as dit nie in die wynstok bly nie, so julle ook nie as julle in My nie bly nie” (Johannes 15:3-4). Hier is nog ‘n frase wat die alarms in baie Christene laat afgaan: “so julle ook nie as julle in My nie bly nie.” Sommige volgelinge word vreesbevange wanneer hulle dit lees. Hulle word hiper-waaksaam oor hoe om in Jesus “te bly” en skep dan moets en moenies wat hulle eintlik van die ware lewe afsny.

Dit is waar dat Jesus se verklaring hier voorwaardelik is, wat beteken dat ons ook iets moet doen. Maar dit is slegs die helfte van die verklaring. Hy voltooi dit deur te sê, “Bly in My, soos Ek in julle.” Die ander deel van die vergelyking is die volgende: Jesus bly in ons — en sy teenwoordigheid in ons is standvastig, betroubaar en onwrikbaar: “Ek sal jou nooit begewe en jou nooit verlaat nie” (Hebreërs 13:5). Wanneer Christus sê, “as julle in My nie bly nie,” verwys Hy nie na ons redding nie. Hy sê nie dat ons een dag gered is en die volgende dag verlore is, gebaseer op hoe goed ons in Hom bly nie. Ons redding was verseker deur Hom aan die kruis.

Nee, wanneer Jesus sê dat ons in Hom moet bly, praat Hy van die vrug van die Gees in ons lewens — ons getuienis, ons regverdige wandel, ons blydskap en vrede. “Net soos die loot geen vrug kan dra van homself as dit nie in die wynstok bly nie, so julle ook nie as julle in My nie bly nie” (Johannes 15:4).

As jy hierdie lees, mag jy steeds beswaar maak, “Maar Jesus sê die Vader neem die lote weg wat nie vrug dra nie.” Ja, Hy sê daardie presiese woord in vers 2. Maar, wat het Jesus met hierdie verklaring bedoel? Die woord wat Hy hier vir wegneem gebruik is airo — wat optel of verhoog beteken. Dit vertel vir ons alles wat ons nodig het om te weet oor lote wat nie vrug dra nie.

As jy ‘n wynstok besoek, sal jy wynstokke, wat rondom houtpenne gedraai is, opmerk. Aan die onderkant van elke pen, naby die grond, is die wynstok dik en sterk. Maar as sy lote opwaarts groei, is dit dun en sag. Dit is noodsaaklik dat daardie lote weggehou word van die grond, wat suur is en wat goggas en afval, wat dit kan beskadig of doodmaak, bevat.

Vir ons hemelse Vader gaan alles daaroor om swak, hangende lote, wat nie vrug dra nie, op te tel. Ek praat van verswakte Christene wat deur swakheid of eiesinnigheid in sonde op die grond geval het. Wanneer die tuinier hierdie lote sien, kniel hy neer, tel hulle op en herstel hulle tot ‘n hoër plek waar hulle veilig is en weer in staat is om te groei.

Laat my dit heeltemal duidelik maak: God is vir jou, nie teen jou nie. Hy wil hê jy moet los wees van die dinge van hierdie aarde wat jou aftrek in die rigting van die dood. En Hy is te alle tye gereed om jou op te tel uit enige modder van kompromie of dubbelhartigheid. Hy wil jou weer verhoog tot die hoë roeping wat Christus vir jou voorberei het. Dit is die liefdevolle werk van die tuinier.

So, jy is opgetel deur God, wat ‘n nuwe werk in jou begin het. Jy is ‘n getroue volgeling wat gelukkig is in jou wandel met Jesus. Jou lewe dra die vrug van die Gees, wat duidelik is vir almal wat jou ken. Wat sê Jesus oor jou in hierdie vergelyking van die wynstok? Beloon God jou omdat jy vrug dra? Gee Hy vir jou ‘n partytjie? Nee, Jesus sê: “Elke loot wat vrug dra, dié maak Hy skoon, sodat dit meer vrug kan dra” (Johannes 15:2).

Christene wat vrug dra, word gesnoei. Wat? Dit is nie wat die meeste van ons verwag van ‘n lewe van diens aan God nie. Diep binne-in ons verwag die meeste van ons ‘n beloning. Is dit nie immers regverdig nie?

Wat Jesus hier sê is in teenstelling met ons intuïsie en ons kultuur. Toe ek grootgeword het, was dit moeilik om ‘n kompliment vir enige prestasie te kry. Vandag, as ‘n kind skaars in ‘n spansport deelneem, kry hy of sy ‘n trofee. Moenie dink dat ek een of ander bitter ou man is wat dink hy het nooit gekry wat hom toekom nie. Ek stem saam met al die wonderlike ondersteuning wat baie ouers vandag vir hulle kinders gee. Maar ons samelewing begin nou ontdek wat die negatiewe gevolge is van om ons kinders te pamperlang:

Dit leer hulle om dit te verafsku om reggehelp te word. Wanneer hulle vir alles wat hulle doen, vereer word, glo hulle dat alles wat hulle doen, reg is.

Dit beskryf baie van die kerk vandag. As Christene geniet ons onvoorwaardelike liefde, maar verafsku dit om tereggewys te word. In hierdie vergelyking van die wynstok, sê Jesus ons Vader wil hê dat ons ‘n dieper liefde ken as dié van ‘n ouer wat pamperlang. Ons liefdevolle God sê in wese, “Ja, jy dra goeie vrug en dit behaag My. Maar Ek wil jou oorvloedige lewe vermeerder. En ek bewerkstellig dit deur jou verder te snoei en skoon te maak.”

“Dié maak Hy skoon, sodat dit meer vrug kan dra” (Johannes 15:2). Die meeste van ons verstaan nie hierdie konsep nie. Ek en Kelly het dit verlede jaar op die harde manier geleer toe ‘n tuinier ons plante met ‘n snoeiskêr bygekom het. Ons het teruggekeer van ‘n reis af om elke groen plant in ons erf tot stompies afgesny te sien. Ons pragtige tuin het gelyk soos ‘n dor landskap van ‘n eensame planeet. Ons was reg om die man af te dank!

Maar toe die lente hierdie jaar gekom het, het elke plant sy bloeisels verdubbel. Elkeen het vinniger en voller opgekom en wat eens ‘n warboel was, was nou skoon en pragtig met blomme en vrug. God se snoeiwerk in ons lewens is dieselfde. Dit is nie vir ons maklik nie — dit is seer. En dit is nie mooi nie — maar dit bring heerlike vrug wat op geen ander manier voortgebring sou kon word nie.

“Want die reddende genade van God het aan alle mense verskyn” (Titus 2:11). Watter groot nuus: Paulus verhoog God se heerlike genade wat ons gered het — einde van die storie! Nee, dit is skaars die einde van die storie. Paulus voeg vinnig by dat hierdie genade “leer ons om die goddeloosheid en wêreldse begeerlikhede te verloën” (Titus 2:12).

Paulus beskryf hier wat dit beteken om in Christus te bly. Dit sluit in “om die goddeloosheid en wêreldse begeerlikhede te verloën, ingetoë en regverdig en vroom in die teenwoordige wêreld te lewe” (Titus 2:12). Met ander woorde, God se genade voorsien nie net ewige lewe nie, maar oorvloedige lewe, nou, vandag. Die rol wat ons moet speel om in Christus te bly, lei tot ‘n geseënde, goddelike, vredevolle lewe.

Maar Paulus hou nie hier op nie. Hy beveel Titus met begeestering, “Spreek hierdie dinge en vermaan en bestraf in alle erns” (Titus 2:15). Onthou, Paulus se onderwerp in hierdie gedeelte is genade. Hy verklaar in wese, “As genade verkondig word, maar dit jou nie leer om goddeloosheid te verloën nie, skort iets.” As ons Jesus wil dien, kan ons nie teregwysing vermy nie, dit maak nie saak of dit nou van God se Woord of van ons gerespekteerde vriende kom nie. Ons word egter ook die volgende belowe van God se teregwysende snoeiwerk: “Later lewer dit egter ‘n vredevolle vrug van geregtigheid vir die wat daardeur geoefen is” (Hebreërs 12:11).

Sy snoeiwerk is kragtig — beide in sy pyn en in sy heerlike vrug. Het jy ‘n gebrek aan vrede? Het jy weggedryf van die wynstok, jou bron van lewe, om van ander bronne te drink? Vra God om die lem van sy snoeiskêr na jou hart te neem. Hy mag sny, skoonmaak en dinge, wat nie daar hoort nie, wegneem. En wanneer Hy klaar is, sal die pragtige boom in jou erf lyk of dit niks meer as ‘n stompie is nie. Maar wat uit daardie stompie ontwikkel, is vrug wat jy jouself nooit sou kon voorstel nie — en iets wat jy nie op jou eie sou kon vermag het nie.

Waarom ‘n lem in hierdie afskeidsboodskap van Jesus? Hy verduidelik, “Dit het Ek vir julle gesê, dat my blydskap in julle kan bly en julle blydskap volkome kan word” (Johannes 15:11). “Volkome” dui op deeglik, volmaak en kragtig. Watter goeie, waar, pragtige afskeidswoorde het Hy aan sy dissipels gegee – en dit is manna vir ons vandag. God se sny en snoeiwerk bring uiteindelik vir ons blydskap — alles uit die hand van die kundige tuinier wat ons liefhet. Amen!