Die Kuur Vir Verwarring

David Wilkerson

Ons almal weet hoe dit voel om verward te wees. En vir hulle wat Jesus volg, kan verwarring baie vreesaanjaend wees. Ons word geleer dat ons deur die Here se duidelike stem gelei word, deur sy Woord en deur die inwonende teenwoordigheid van sy Heilige Gees. So, wanneer verwarring kom, dan wonder ons oor God se leiding in ons lewens.

Wat veroorsaak verwarring? Eerstens moet ons verstaan dat die Skrif sê dat God nie die outeur van verwarring is nie. En een bron van verwarring is sonde. Ons sien dit geïllustreer in die woorde van die jong profeet, Daniël: “Here, aan ons kom toe die beskaming [verwarring] van die aangesig...omdat ons teen U gesondig het...want ons het teen U opgestaan” (Daniël 9:8-9). Daniël het gesê, “Here, ons verdien dit om verward te wees. Ons het dit op onsself gebring deur ons eie sonde.”

Die Nuwe Testament vertel ons dat die stories van die Ou Testament bedoel is om ons te leer en te waarsku in hierdie laaste dae (1 Korinthiërs 10:11). Ek glo die storie van Efraim in die boek van Jeremia openbaar hoe ons ‘n kuur vir ons verwarring kan kry.

Jeremia vertel dat die stam van Efraim almal verteenwoordig wat die Here liefhet. God identifiseer Efraim as ‘n seun, en noem hom “‘n dierbare seun of ‘n troetelkind” (Jeremia 31:20). Tog het hierdie geliefde stam in boosheid verval: “Sekerlik het Ek Efraim hoor weeklaag” (Jeremia 31:18).

Op een of ander manier het Efraim van die Here af weggedryf en hulleself oorgegee aan wellus. Die gevolg was ‘n koue hart en ‘n sugtende gees. ‘n Eens heilige volk het nou in eensaamheid en verwarring gewandel terwyl hulle verlate gevoel het. Hulle het opgeëindig om God vir ‘n seisoen te terg omdat mense wat seerkry dit dikwels doen. Ek het dit talle kere gesien gebeur tydens my jare in die Teen Challenge bediening.

‘n Jong man of vrou sal ons vloek en sal alles wat ons mag sê, weerstaan, maar dan sal hulle in trane eindig wanneer ons dit aan hulle stel, “Jy is seer van binne, nê?” Keer op keer openbaar hulle woede en uitbarstens ‘n diepe seerkry in hulle binneste.

Vriend, jy moet weet dat God elke traan wat jy in die geheim afgevee het, gesien het en Hy het elke diep sug en uitroep binne-in jou gehoor. Miskien lyk jou lewe goed van buite, maar wanneer jy alleen is, dan tref ‘n aaklige gevoel jou: “Ek is op die verkeerde pad. O, Here, ek doen dinge wat ek nie wil doen nie en dit lyk of ek net nie die regte dinge kan doen nie.”

Jy is nie alleen nie. Selfs die apostel Paulus het van sy eie hart se toestand gesê: “Want die goeie wat ek wil, doen ek nie, maar die kwaad wat ek nie wil nie, dit doen ek” (Romeine 7:19). Jy moet verstaan dat God nie met ‘n sweep oor jou staan nie en dat Hy ook nie van jou af wegloop in jou uur van nood nie. Niks kan verder van die waarheid wees nie. Hy staan reg langs jou in jou pyn met sy arm rondom jou terwyl jy kerm en huil. Hy hoor elke woord wat jy uiter en Hy deel in jou pyn, terwyl Hy jou liefhet deur dit alles heen.

Waarom was Efraim bedroef en verward?

Die stam het gesmaak wat dit was om bruikbaar vir die Here te wees, om ‘n doel in die lewe te hê, om vrede van binne te hê en vir ander om te gee. Maar toe die lewe moeilik geword het, het hulle hulle rûe op die Here gedraai en het terug gegaan na hulle lui, sondige lewens van gemak en singenot. Nou was alles beklaenswaardig vir hulle.

Ek glo Efraim se diepste droefheid het hulle getref toe hulle besef het dat, “Ons kan vergeet om te verander.” Hulle het ‘n kykie gehad van wat hulle kon gewees het. Hulle het die vreugde gesmaak om hulle lewens te gee vir die behoeftes van mense wat ly. Maar nou het hulle naby gekom om handdoek in te gooi en dit alles weg te gooi in ruil vir dit wat hulle gedink het vryheid was. Toe hulle dit besef het, het hulle uitgeroep, “O, Here, bekeer ons en herstel ons. Bring ons terug onder u juk en gebruik ons lewens vir u doel. Ons wil iets beteken.”

Jy sien, wanneer jy ‘n Christen word, sit die Here sy juk op jou. Wanneer Hy dit doen, sê Hy eintlik, “Ek gaan sorg dat jy nie soos ‘n dier opeindig nie, met ‘n leë brein, terwyl jy doen wat jy ookal wil, wanneer jy ookal wil nie. Ek het ‘n hemelse plan vir jou om my werk hier op aarde te volbring en dus gaan ek jou van die skare afskei. Terwyl al die ander hulle siele aan hierdie wêreld verkoop, terwyl hulle fluit-fluit na die paradys van die dwase gaan, gaan Ek jou oplei om my merk in hierdie wêreld te maak.”

As jy ‘n jong Christen is, kyk na jou maats wat partytjie hou. Hulle het hulleself toegewy daaraan om plesier na te jaag, terwyl hulle net gefokus is op hulle volgende bevrediging. In werklikheid leef hulle in ‘n klein wêreldjie, praat oor nietighede, terwyl hulle goed lyk maar hulle vind nooit vervulling of ‘n doel nie. Die beste manier om hulle te beskryf is, “Hulle is oppad na nêrens.”

Op hierdie oomblik tref tragedie die hele wêreld.

Miljoene kinders gaan dood aan VIGS en miljoene ander word wees gelaat deur die siekte. Nasies gaan dood van honger. In ons eie land is daar miljoene kinders wat nog nooit ‘n pa geken het nie, terwyl menigte moeders op die straat lewe  terwyl hulle probeer om te sorg vir hulle kinders wat ly, wat daagliks meer en meer bevrees, kwaad of siek word. Die wêreld het die liefde van Christus nodig.

In die tussentyd, dink daaraan wat jou maats se lewens oor ‘n paar jaar sal lyk. Hulle sal steeds onsin praat, weier om verantwoordelikheid te neem, met geen doelwitte in hulle lewens nie. Hulle wat hulle ken gaan vra. “Waarvoor lewe hulle? Watter doel het hulle? Hulle het nog nooit vir enigiemand omgegee nie. Ek het hulle nog nooit ‘n vinger gesien verroer om ‘n sterwende kind te help nie of om iets vir ‘n hawelose persoon te gee nie. Hulle lewens gaan oor niks.”

Dit is so maklik vir hulle wat hulleself Christene noem om dit totaal te mis en tyd is besig om uit te loop. God het jou lief en dit is die rede waarom Hy jou op hierdie oomblik wil verander. Hy roep jou om uit jou siel uit te roep, net soos Efraim, “Here, neem besit van my en bekeer my. Ek wil hê dat my lewe iets beteken.”

“Bekeer my, dan sal ek my bekeer, want U is die Here my God” (Jeremia 31:18). Dit was Efraim se gebed, waarin hy eintlik sê, “God, keer my om en ek sal u pad volg. Ek sal my bekeer en my lewe geheel en al aan u toewy. Ek besef dat ek nodig het om alle sogenaamde vriende te laat vaar, mense wat my van U af wegtrek. Maar ek weet ek kan myself nie omkeer nie. U sal dit moet doen, Here.”

“Ek [het] op die heup geslaan; ek het beskaamd gestaan, ja, ook in die skande gekom omdat ek die smaad van my jeug dra” (Jeremia 31:19). Efraim verklaar kortliks, “Ek het al hierdie verwarring op myself gebring as gevolg van my eie hardkoppigheid. O, Here, ek is regtig jammer. Ek is skaam oor die wyse waarop ek van U af weggedraai het. Ek bekeer my!”

Hier is hoe God gereageer het op Efraim se eerlikheid en bekering: “Is Efraim vir My ‘n dierbare seun of ‘n troetelkind? Want so dikwels as Ek teen hom spreek, dink Ek nog altyd aan hom; daarom is my ingewande oor hom in beroering; Ek sal My sekerlik oor hom ontferm, spreek die Here” (Jeremia 31:20).

Aanskou hierdie wonderlike woorde van God oor sy kinders. Hy sê van hulle, “O, ja, Ek het dikwels my seun geroep en hom gewaarsku met harde prediking en roeringe deur my Gees. Ek het selfs met hom gepraat oor wraak en oordeel, alles net om hom terug te trek na my toe. Hy is steeds my seun wat Ek liefhet en waarin Ek my verlustig en Ek sal hom nooit verlaat nie. Inderdaad, Ek verlang so na my verdwaalde kind dat my hart seer is. Ja, Ek wil verseker genade aan hom bewys.”

Geliefde, hierdie woord van die Here is ook op jou van toepassing. Dit maak nie saak hoe ver jy van sy weë afgedraai het nie. Jou Here verlang steeds na jou, Hy wag vir jou en het jou lief. Hy sê eenvoudig, “My kind is steeds my plesier.”

God voorsien self die kuur vir verwarring.

God het aan sy volk Efraim drie dinge genoem om ‘n kuur vir hulle verwarring te vind:

1. “Rig vir jou mylpale op, maak vir jou padwysers” (Jeremia 31:21). God het instruksies aan sy volk gegee, “Rig elke dag vir jou merkers op, herinnerings aan my Woord, en stapel hulle hoog op. Plaas hoë stapels van my Skrifte in jou gedagtes om jou te herinner aan my beloftes en my hoë roeping vir jou lewe.”

Die Bybel sê God se Woord is ‘n lamp vir ons voete en ‘n lig op ons pad te alle tye. Vir hulle wat van Hom af weggedwaal het, wys daardie lig die pad terug na God toe. Sy Woord is ook ons juk wat ons lei en terugdraai na ons aanneemlike diens aan die Here. En wanneer ons teen die juk skop en probeer om dit af te gooi, raak ons verlore elke keer. Eenvoudig gestel, as ons in ons verwarring bly terwyl ons verbyster is oor wat in ons lewens aangaan, dan lees ons nie ywerig genoeg en vertrou ons nie op God se Woord nie.

2. “Let op die grootpad” (Jeremia 31:21). Hierdie vers vertel ons in baie duidelike terme, “Dit is tyd om op te hou met speletjies speel en tyd vir ernstig word. Daar kan nie meer heen-en-weer rond gehardloop word sonder doel nie. Dit is al lankal tyd vir jou om terug te kom op die pad na Jesus toe en om jou gedagtes op die hoë dinge van die Here te rig.”

Ek het die pad na die betekenis van die lewe gevind — die pad na begrip en vrede van binne — dit is die pad van gebed. Met wie praat jy wanneer jy verward is en ly? Jou vriende mag jou dalk troos, maar hulle kan nie jou pyn wegneem nie. Op sulke tye moet jy na die Here draai en in alle eerlikheid en nederigheid erken: “God, ek het alles opgemors. Ek het verwarring in my lewe ingebring. Ek het nodig dat U kom en weer beheer oorneem. Ek is siek en sat vir my lewe soos dit is en moeg daarvoor om van U af weg te draai en dan diep daarvoor te ly. Ek het nodig dat U na my toe terug draai, Here, want ek kan dit nie self doen nie.”

3. “Kom terug... kom terug na hierdie stede van jou” (Jeremia 31:21). Hierdie vers sê vir ons dat ons ‘n groot besluit het om te neem sodat ons kan omdraai en verander. Tog, wat behels “omdraai?” Dit beteken om saam met Jesus te gaan, wat vereis dat ons ‘n verandering maak ten opsigte van ons goddelose vriende. Ons moet wegstap van alle verhoudings wat ons weg van Christus af trek en almal verlaat wat goddeloos lewe en net plesier soek en vloek.

Jy mag wonder: “Wat is hierdie ‘stede’ waarna ons moet terugkeer?” Die “stad” in hierdie vers verteenwoordig Christus en sy kerk. Hy roep ons om ‘n besluit te neem en terug te gaan na sy huis en tussen sy goddelike mense te wees.

Ter opsomming, hier is God se driepunt kuur vir verwarring:

1. Plaas jou hart daarop om God se Woord te lees en te bestudeer. Verdiep jouself daagliks in sy beloftes en herinner jouself daaraan dat jou Meester daagliks verlang om jou te lei deur sy juk, wat sag en lig is.

2. Hou op om speletjies te speel en neem al jou probleme na Jesus toe. Stort jou hart teenoor Hom uit in alleen gebed.

3. Verander jou vriende as hulle jou neer trek. Laat die bose gaan en wandel in geregtigheid saam met die regverdiges en raak betrokke in die stad van Christus, sy kerk en sy mense.

Dit sal alle verwarring genees!