CHRISTUS IS STEEDS KONING

David Wilkerson (1931-2011)

God die Vader het Christus as koning oor al die nasies, die hele natuur en as Here oor die Kerk gekroon. Die apostel Paulus skryf dat wanneer Jesus weer kom, Hy “op sy eie tyd vertoon sal word deur die salige en enigste Heerser, die Koning van die konings en Here van die here” (1 Timótheüs 6:15).

Paulus sê dat dit nie saak maak hoe dinge aan die buitekant lyk nie, God het in werklikheid alle dinge onder Jesus se voete gestel en Hy is steeds koning oor alles. Alles mag dalk lyk of dit buite beheer is en asof die duiwel mag oorgeneem het, maar dit is nie waar nie. Oral om ons vandag, sien ons egter dat ons samelewing en regering Christus onttroon – en weier om sy gesag en koningskap te erken. Ons verwyder God uit ons skole en howe en ignoreer Hom met die maak van ons wette. En nou maai ons ‘n verskriklike oes.

Dit is jammer dat my bekommernis verder strek as Amerika se verwerping van Jesus se gesag. Ek sien die probleem binne-in die Kerk as tragieser. Dit is verstaanbaar dat goddelose mense Christus wil onttroon; hulle bespot en maak sy Naam belaglik sedert sy geboortedag. Maar hoe moet dit God bedroef om te sien dat Christus onttroon word deur diegene wat hulleself Christene noem.

Stadig maar seker verwerp baie Christene, kerke en bedienings die Here se raad. Hulle leun nie meer volkome op sy heerskappy nie. In plaas daarvan, wend hulle hul tot die wysheid van die wêreld, na mensgemaakte praktyke. Ek kyk met ontsteltenis na hoe die Kerk geleidelik die wysheid van die wêreld op die troon plaas. Jesus is nie meer die bron en krag agter God se kinders nie.

Laat my jou persoonlik vra: Het jy Christus as koning van jou hart verwyder? Ek dring by jou aan om Christus vandag op die troon van jou hart te plaas – en te lewe!

 “Ek slaan my oë op na die berge: waar sal my hulp vandaan kom? My hulp is van die HERE wat hemel en aarde gemaak het” (Psalm 121:1-2).